Jongste verwikkelinge by Tsumeb-smelter

Kommer oor gevolge van 'giftige stowwe'
Die Mededingingskommissie ondersoek steeds die verkoop van die aanleg deur Dundee Precious Metals aan China se Sinomine Resource Group.
Augetto Graig
Tsumeb se spesialiskopersmelter het tussen April en einde Junie 52 900 ton komplekse konsentraat verwerk.

Deesdae kom die erts van Suid-Amerika, Zambië en in ’n mindere mate van Opuwo.

Intussen ondersoek die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) die verkoop van die aanleg deur Dundee Precious Metals aan China se Sinomine Resource Group.

Volgens Johannes Ashipala, die hoof van die ondersoekafvaardiging, duur die ondersoek voort ná ’n onlangse besoek aan die aanleg, met insette wat voor ’n geskeduleerde vergadering van die NaCC-raad in Augustus ingedien moet word.

Hy brei uit dat die kommissie nie net na mededingendheidskwessies kyk nie, maar ook na moontlike kwessies van openbare belang.

Hierdie openbare belange kan die eise van inwoners en die Tsumeb-sakekonsortium se uitvoerende hoof en voormalige parlementslid, Engel Nawatiseb, insluit.

In ’n brief aan die kommissie eis Nawatiseb van die opbrengs uit die verkoop van die smelter, weens die giftige arseenafvalproduk van die smeltproses en die swaeldioksiedvrystellings wat gegenereer word.

Een inwoner wat nou die howe wil nader oor die omgewingsimpak en gesondheidsgevolge is Christa Kuehl. Haar bloedtoets van 25 Maart toon hoë vlakke van antimoon, nikkel en selenium in haar bloed.

Bloedtoetse van drie ander Tsumeb-inwoners wat op 17 Mei, 23 Mei en 6 Junie geneem is, dui ook op die verhoogde blootstelling aan onderskeidelik arseen, aluminium, nikkel en antimoon.

Kuehl se lemoen- en moringabome het ook op 20 Junie positief getoets vir hoë vlakke van arseen en chroom.

“Hierdie mense speel met mense se lewens,” sê sy.

Die direkteur van volhoubaarheid en saketransformasie by die smelter, Barcelona Tsauses, sê egter daar is al meer as 100 jaar mynbedrywighede by Tsumeb, met historiese stortingsterreine wat niks met Dundee te doen het nie.

Kuehl hou vol haar bome is jonger as vyf jaar, maar Tsauses dring daarop aan dat groot beleggings, innovasie en harde werk die aanleg in een van omgewingsrentmeesterskap omskep het.

Tsauses was die dryfkrag agter die Kanadese genoteerde maatskappy se Projek 2012, wat van stapel gestuur is net nadat Dundee die smelter in 2010 gekoop het.

Die projek het met die oprigting van ’n swaelsuuraanleg die belegging van US$515 miljoen (N$9,26 miljard) afgeskop, om die smelteraanleg in terme van veiligheid en gesondheid te omskep.

Dundee se prosesingenieur, Klemencia Kambonde, sê die tweede suurstofaanleg, die Ausmelt-oond met sy verbeterde gasopvangstelsel, die verseëlde arseenstoorgeriewe, die verbeterings by die arseenaanleg, die nuwe pakhuis vir arseenverpakking, die nuwe gasomsetters en lugkanale wat sedertdien gebou is, werk goed saam.

Dundee was van 2020 tot 2023 besig met Projek P300 (N$57 miljoen) om die smeltproses verder te optimaliseer en koste te verminder, voor China ook komplekse kopererts begin smelt het en erts van Dundee se myne in Bulgarye word nou daarheen geneem.

Dundee se fokus op goud en edelmetale het tot die verkoopbesluit van US$49 miljoen gelei, brei Tsauses uit.

Die smelter se omgewingsklaring is in Januarie 2023 hernu en tot 2026 verleng.

Watergebruik het sedert 2012 met 40% verminder en besoedelde water word met die arseen opgevang en veilig gestoor, terwyl 98% van die swaeldioksied nou in swaelsuur omgeskakel word, volgens Dundee.

Mediese toesig by die aanleg word streng toegepas en beskermende klere word afgedwing, met aansienlik minder beserings en gemete lug- en watersuiwerheidsresultate vir arseen teen 0.04mg/m³, ver onder die wettige perk (0.1mg/m³), volgens Dundee.

Met meer as 1 300 werknemers in diens, het die smelter se hoofregsverteenwoordiger, Zeka Alberto, onlangs verseker dat bestuur en kultuur gehandhaaf sal word en dat dit sake soos gewoonlik sal wees, selfs onder nuwe eienaars. “Ons mense is ons mag,” sê Tsauses.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer