NamPower se besturende direkteur, Kahenge Haulofu. Foto Augetto Graig
NamPower se besturende direkteur, Kahenge Haulofu. Foto Augetto Graig

Haulofu eis NamPower se geld

Suide kort RED’s
Owerhede suid van Windhoek is na bewering skuldig daaraan dat hulle fondse invorder sonder om dit aan NamPower oor te betaal.
Augetto Graig

Dorpe in die suide wat onder ’n reuse- NamPower-skuldlas gebuk gaan, is self daarvoor verantwoordelik, aangesien hulle versuim om ingevorderde fondse oor te betaal. 

Só het NamPower se besturende direkteur, Kahenge Haulofu, gesê.

“Ons kan nie ’n stelsel bestuur waar die een moet betaal en die ander verskoon word nie,” voer hy aan.

Reuseskuld deur plaaslike owerhede, streekrade en selfs regeringsinstellings suid van Windhoek tot by die Suid-Afrikaanse grens, het volgens hom, oor die jare opgehoop. 

“Sommige van hulle betaal glad nie; hulle verkoop die elektrisiteit, maar hou die geld. Dis ’n baie ernstige kwessie,” het Haulofu gesê.

Volgens hom betaal Namibiërs vir hul elektrisiteit – myne betaal, huishoudings betaal, selfs onder die arm bevolking, “maar suid van Windhoek tot by die grens word dit wat verskuldig is nie oorbetaal nie”.

Streek-elektrisiteitsverspreiders (RED’s) betaal wat hulle aan NamPower verskuldig is, hoewel daar volgens hom tans geen RED in die Suide gevestig is nie.

“Ek bestee dae daaraan om briewe te skryf, kennisgewings te stuur en selfs plaaslike owerhede te besoek. 

“Ek was al twee keer op Rehoboth. Ons help die dorp om na ’n voorafbetaalde stelsel oor te skakel. Ons verleen onder meer bystand met kragonderbrekings en voorvalle van kragdiefstal. 

“Jy help vandag, maar aan die einde van die maand sien jy nie ’n enkele sent nie,” het Haulofu gesê.


REAKSIE

Die uitvoerende hoof van die Rehoboth-munisipaliteit, Ronald Windswaai, sê egter hy kan nie verstaan ​​waarna Haulofu verwys nie, of waarom NamPower se hoof juis vir Rehoboth sou uitsonder nie.

“Ons is dan heel eerste – sedert 2024 – al op voorafbetaalde krag,” sê Windswaai.

Die dorp se totale kragskuld het van N$247 miljoen na N$204 miljoen gedaal, sê hy.

Volgens Windswaai word die geld wat op hierdie manier ingevorder word, verdeel: 90% gaan na die aankoop van elektrisiteit, terwyl 10% aan uitstaande historiese skuld toegeken word.

Gevolglik is daar steeds ’n tekort ten opsigte van betalings vir huidige verbruik, wat teen Mei op N$12 miljoen gestaan ​​het. 

Nietemin het die Rehoboth-munisipaliteit verlede Dinsdag met NamPower-personeel vergader en Dinsdag is voorafbetaalde elektrisiteit ter waarde van N$1,2 miljoen weer aangekoop, sê hy.

Windswaai sê instandhouding op Rehoboth ly onder die kombinasie van ou skuld en betalings vir voorafbetaalde elektrisiteit – ’n situasie wat gelei het tot die onlangse kragonderbreking van drie dae, wat deur beskadigde kabels in Blok D veroorsaak is.

Intussen is die munisipaliteit besig om die hele dorp – insluitend plaaslike instellings – na voorafbetaalde elektrisiteit oor te skakel, met die oorblywende 5% van inwoners se huise wat teen die einde van November so gediens sal wees, sê hy.

Namens Mariental, wat teen die einde van 2025 die plaaslike owerheid met die hoogste agterstallige skuld in die land was en meer as N$233 miljoen geskuld het, het die uitvoerende hoof, Paul Nghiwilepo, egter die situasie erken. 

“Tot ’n mate is dit so; ons kan nie daarvan weghardloop nie,” het hy gesê.

Volgens Nghiwilepo was Mariental tussen nege en tien jaar gelede vry van enige NamPower-skuld, maar hy erken “uitdagings het ontstaan, prioriteite het verander en die skuld het gegroei tot waar dit nou staan”.

“Daar was baie politiek betrokke,” sê hy, maar erken dat “plaaslike owerhede inkomste vir ander dinge gebruik het”.

Nghiwilepo verduidelik tussen 60% en 64% van Mariental se inkomste word uit elektrisiteit verkry en dat die raad soms besluit om daardie inkomste vir ander noodsaaklikhede aan te wend.

“Mense betaal nou eers vir water, nadat ons voorafbetaalde water ingestel het. 

“Hulle betaal nie eiendomsbelasting nie; hulle betaal nie vir vullisverwydering nie. Ons subsideer die koste en voorheen ook vir NamWater,” het hy uitgebrei. 

“Dit is die situasie waarin ons is.”

“Alles word nou voorafbetaal en NamPower oorweeg dit om ook die munisipaliteite self op voorafbetaling te plaas,” sê hy.

Nghiwilepo is ’n voorstander vir die totstandkoming van ’n suidelike RED en is hoopvol dat ’n aankondiging wat op 9 Oktober verwag word, oor ’n kragverspreider vir die Suide sal wees. 

NamPower sou so maandeliks betaal word, die instandhouding van infrastruktuur sou verbeter, maar plaaslike owerhede sal broodnodige inkomste verloor. 

“Daar is voor- en nadele,” sê hy.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer