Die ministerie van myne en energie waarsku teen onwettige handel in brandstof.
Foto argief
Die ministerie van myne en energie waarsku teen onwettige handel in brandstof. Foto argief

Handel in brandstof streng gereguleer

Rig waarskuwing aan oortreders
Die waarnemende uitvoerende direkteur van myne en energie sê dit is die ministerie se mandaat om die verspreiding van brandstof te reguleer, spesifiek in terme van petrol en diesel.
Augetto Graig
Die ministerie van myne en energie waarsku teen die onwettige handel in brandstof.

Die waarnemende uitvoerende direkteur in die ministerie, Bryan Eiseb, sê die talle advertensies op sosiale media waar handelslisensies en grootmaat- verkoopslisensies vir brandstof aangebied word, en brandstof teen pryse geadverteer word wat teenstrydig is met die pryse soos in die Staatskoerant gepubliseer is, is kommerwekkend.

Die verkopers kan glo ook nie die nodige perseellisensies toon nie.

Hy sê dit is die ministerie se mandaat om die verspreiding van brandstof te reguleer, spesifiek in terme van petrol en diesel.

Dit ingevolge die Wet op Petroleumprodukte en Energie van 1990, die Wysigingswet op Petroleumprodukte en Energie van 2000 en die petroleumprodukteregulasies van 2000.

Die wetgewing maak voorsiening dat oortreders met tot N$20 000 beboet kan word en tot twee jaar tronkstraf opgelê kan word. Ingevolge die wetgewing is slegs die ministerie gemagtig om lisensies vir die volgende uit te reik: om handel te dryf met brandstof by ’n vulstasie; handelslisensies vir grootmaat-brandstof; en sertifikate vir instansies wat brandstof voorsien, soos van toepassing op kommersiële, nywerheids-, landbou- en mynbou-ondernemings.

Verder kan hierdie lisensies nie oorgedra word nie, het Eiseb gesê.

Die pryse waarteen brandstof plaaslik verkoop kan word, word gereguleer. Brandstofverkope vanaf ’n perseel sonder ’n lisensie word streng verbied, voeg hy by.

Diegene wat met hierdie onwettige handel besig is, word sterk aangemoedig om hul bedrywighede te staak.

Enigiemand met inligting in hierdie verband kan Codla Tjingovera by 061 284 8271 of per e-pos by [email protected] kontak, of Andreas Sheehama by 061 284 8300 of per e-pos by [email protected].

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer