Werknemers verdrink in skuld
Namibië se huishoudelike skuldlas kom weer onder die vergrootglas, aangesien werknemers en gemeenskappe waarsku dat lenings toenemend ’n middel tot oorlewing geword het, eerder as ’n manier om bates te finansier of lewensbestaan te verbeter.
Skuld wat ophoop het ook ’n ernstige tol op werknemers se geestesgesondheid geëis, wat algehele produktiwiteit raak en sommige dwing om te bedank of lang verlof te neem.
Die bekommernisse is geopper tydens openbare verhore oor huishoudelike skuld en uitleenpraktyke op Keetmanshoop, waar staatsamptenare, leners, vakbonde, kredietverskaffers en gemeenskapslede ervarings gedeel het van salarisaftrekkings, hoë rentekoerse en aggressiewe uitleenpraktyke.
Die parlementêre staande komitee oor ekonomie en nywerheid, openbare administrasie en beplanning het vandeesweek op Keetmanshoop openbare verhore gehou as deel van sy konsultasies oor of Namibië se bestaande wette verbruikers voldoende teen uitbuiting deur formele kredietinstellings en informele geldskieters beskerm.
Die adjunkvoorsitter van die komitee, Hilma Iita, het gesê die verhore is bedoel om geraakte gemeenskappe ’n geleentheid te gee om direk te praat oor hoe skuld en salarisaftrekkings hul lewens beïnvloed.
Iita het gesê die inligting wat ingesamel word, sal die komitee help om aanbevelings aan die parlement te formuleer, onder meer oor die hangende die wetsonwerp op verbruikerskrediet. Dit volg te midde van groeiende kommer oor die reuse-omvang van huishoudelike skuld.
HUISHOUDELIKE SKULD: N$78 MJD.
Volgens Iita het mikrolenings tussen 2020 en 2024 ongeveer N$5,2 miljard bereik, terwyl totale huishoudelike skuld tot ’n geraamde N$78 miljard gestyg het.
Sy het gesê die land sien ’n huishoudelike skuldkrisis waarin mense toenemend leen – nie om te belê of bates te verkry nie, maar om alledaagse lewenskoste te dek.
Polisiebeamptes en ander staatsamptenare het aan die komitee gesê dat finansiële druk sommige werknemers kwesbaar gelaat het vir geldskieters, ondanks dat hulle finansiële geletterdheidsopleiding ontvang het.
Sommige belanghebbendes het gevra dat salarisse aangepas word in lyn met die stygende lewenskoste en aangevoer dat stagnerende inkomste dit al hoe moeiliker maak vir huishoudings om basiese uitgawes te dek sonder om hulle na geldskieters te wend.
Die gevolge van buitensporige skuld, het hulle gesê, strek verder as finansiële swaarkry.
Belanghebbendes het bevestig dat sommige werknemers bedank het, van die werk weggebly het of ernstige emosionele nood ervaar het as gevolg van skuld wat ophoop.
Kommer is ook geopper oor huislenings wat aan die regering se pensioenfonds (GIPF) gekoppel is. Belanghebbendes het die uitwerking van hoë rentekoerse en derdeparty-betrokkenheid op pensioenspaargeld bevraagteken, veral vir werknemers wat dekades lank tot hul aftreefondse bygedra het.
Een belanghebbende het aangevoer dat werknemers wat 20 of 30 jaar gespaar het, nie behoort toe te laat dat ’n aansienlike deel van hul pensioenspaargeld deur rente weggevreet word wanneer hulle teen daardie spaargeld leen nie.
BOSE KRINGLOOP
’n Ander kwessie van kommer het gefokus op die lengte van terugbetalingstydperke vir huislenings. Deelnemers het bevraagteken waarom daar van mense verwag kan word om huislenings oor dekades terug te betaal, terwyl lenings vir voertuie en ander bates gewoonlik oor aansienlik korter tydperke vereffen word.
Hulle het aangevoer dat behuising ’n basiese noodsaaklikheid is en dat lang terugbetalingstydperke, saam met hoë rentekoerse, leners hoofsaaklik aan rente gedurende die vroeë jare van ’n lening terugbetaal.
Belanghebbendes het ook gevra vir strenger perke op hoeveel werknemers kan leen in verhouding tot hul salarisse en aftreevoordele.
Een bydraer het die kringloop bevraagteken waarin werknemers wat ná proeftyd permanent word, vinnig lenings by mikroleners kan kry, wat hulle moontlik vroeg in hul loopbane swaar in die skuld kan laat.
Die deelnemer het gesê die afwesigheid van duidelike perke kan werknemers toelaat om herhaaldelik te leen nadat hulle terugbetalings gemaak het, wat ’n bose kringloop skep waaruit baie sukkel om te ontsnap.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie