Staatsdiens nóg duurder
Skuld oorskry 70% van BBP
Namibië se begroting vir 2022-'23 beloop bykans N$71 miljard, waarvan minder as N$5 miljard vir ontwikkelingsprojekte bedoel is.
Planne om die wegholsalarisrol van die staatsdiens in toom te hou, gaan nie in 2022-’23 of 2023-’24 realiseer nie; dit gaan steeds sowat die helfte van die fiskus se inkomste opslurp.
Die belastingbetaler sal vanjaar meer as N$30 miljard vir die totale vergoedingspakkette van staatsamptenare moet opdok, toon finansminister Iipumbu Shiimi se begroting wat gister in die parlement ter tafel gelê is.
Dis N$1,5 miljard méér as wat Shiimi wou bestee. In sy hoofbegroting verlede Maart en in sy hersiende begroting in Oktober, was Shiimi nog van plan om staatsamptenare se totale vergoeding in 2022-’23 op bykans N$28,6 miljard vas te pen.
Shiimi het ’n totale begroting van bykans N$70,8 miljard vir 2022-’23 ingedien – sowat 1,6% meer as geskatte besteding in 2021-’22. Net minder as N$5 miljard hiervan is vir die ontwikkelingsbegroting bedoel, ’n afname van bykans 4,4% vergeleke met 2021-’22. Die bedryfsbegroting van bykans N$65,8 miljard is amper twee persent hoër.
Totale inkomste van amper N$59,7 miljard word verwag, ’n verhoging van bykans 12% teenoor 2021-’22.
Dié styging is onder meer danksy ’n spesiale dividend van N$400 miljoen van Namibia Post and Telecom Holdings (NPTH) in 2021-’22 wat vir gebruik in die nuwe begrotingsjaar opsy gesit is. Die N$2,5 miljard wat met die notering van MTC geïn is, is ook bewaar. Altesaam N$500 miljoen se MTC-aandele het nie met die notering eienaars gekry nie en NPTH gaan vanjaar sy bes probeer om hiervan ontslae te raak.
SKULD Namibië se verwagte begrotingstekort in 2022-’23 beloop bykans N$11,1 miljard – die laagste sedert 2019-’20 en beduidend minder as die rekord van sowat N$16,2 miljard in 2021-’22.
Die tekort behoort van 8,7% van die bruto binnelandse produk (BBP) na 5,6% te krimp, maar is steeds “relatief hoog”, het Shiimi in sy begrotingstoespraak gesê.
Die regering sal vanjaar bykans N$19,4 miljard moet leen, aansienlik minder as die vorige twee begrotingsjare se sowat N$30 miljard elk. Sowat N$13,6 miljard sal in 2022-’23 in die plaaslike mark geleen word.
Die land se skuldlas sal na verwagting tot sowat N$140,2 miljard styg, 11% of amper N$14,4 miljard meer as in 2021-’22. Dit sal totale skuld van 67,3% van die BBP tot 71% opstoot, dubbel die regering se plafon van 35%.
Namibië se skuldvlak “bly ’n primêre bron van kommer in die medium termyn”, het Shiimi gesê. Hoër inkomste wat in komende jare uit ekonomiese herstel spruit, sal hoofsaaklik gebruik word om skuld te delg en minder te leen, het hy gesê.
Meer as N$9 miljard – of 15,4% van alle inkomste - sal in 2022-’23 aan rente op skuld bestee word, ver bo die regering se interne plafon van 10%.
POSTE Bykans N$1 miljard gaan oor die volgende drie begrotingsjare in sport, jeug en nasionale diens belê word, waarvan N$330,9 miljoen vir 2022-’23 geoogemerk is. Hiervan is N$50 miljoen vir die opknapping en opgradering van die Onafhanklikheidstadion bedoel, sodat dit internasionale byeenkomste kan huisves.
Onderwys, kuns en kultuur se begroting beloop sowat N$14,1 miljard of bykans ’n vyfde van die begroting. Hoër onderwys, opleiding en innovering kry N$3,3 miljard, insluitende N$840 miljoen vir die Universiteit van Namibië (Unam), N$455 miljoen vir die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) en N$1,4 miljard vir die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF).
Sowat N$8,4 miljard is aan gesondheid en maatskaplike dienste toegeken om onder meer die stryd teen die Covid-19-pandemie voort te sit.
Openbare veiligheid en orde kry N$12,6 miljard. Dit sluit N$62,8 miljoen vir die Teenkorrupsiekommissie (ACC) in.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie