FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Pensioenfonds kry groen lig vir wysiging van reëls

Bydraes voorheen beperk tot 4%
Werknemers in die boubedryf kan nou bydraes hoër as 4% van hul salaris aan die bedryf se pensioenfonds maak.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Beide werkers en werknemers kan nou hoër maandelikse bydraes tot die pensioenfonds vir Namibiese bouwerkers (NBWPF) maak.

Dit volg ná ’n aansoek vir die wysigings van reëls deur die registrateur van pensioenfondse onder die vaandel van die Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings in Namibië (Namfisa) wat goedgekeur is.

Voorheen was die maandelikse bydrae van ’n lid beperk tot 4% van sy of haar salaris. Dit het nou verander en volgens die wysiging kan bydraes nou hoër as 4% wees. Die twee reëls wat gewysig is, verwys na 4.1.1 en 4.2.1 en die persentasie van bydraes wat verhoog is.

Volgens die hoofbeampte van die NBWPF, Enwich Kazondu, is die bydraes van beide die werkgewer en werknemer nie beperk tot die minimum nie, maar is daar nou ruimte om die aftreepakkette van ons lede te verbeter.

Met bogenoemde veranderinge in plek wat nie langer die vlak van bydraes beperk nie, kan werkgewers hul werkers se vergoedingspakket verbeter deur hul bydraes tot die werkgewer se pensioenfonds te verhoog.

Buiten die bydraes tot werknemers se maatskaplike beskerming op die lang termyn, is die bydraes ook uitgawes van hul besighede waarvan belasting afgetrek kan word.

Danksy die verandering in die vlak van bydraes deur beide die werkgewer en die lid, is die gaping nou ook groter vir dié wat by die pensioenfonds wil aansluit.

“Die wysiging is gemik op dié werkgewers wat ’n pensioenfonds in ons bedryf wil vind wat na die behoeftes van die hele spektrum van hul werkers omsien. Vir alle sogenaamde kategorieë van werknemers, is daar nou ’n plek wat saam met ons is om vir hul aftrede te spaar,” het Kazondu verduidelik.

“Dit sorg ook vir ’n vaartbelynde benadering en baie makliker administrasie van die pensioenfonds wat deur ons lede verkies word wat bydraes lewer. Terselftertyd sal dit help om verder die waarde van die fonds op te stoot, wat tans op sowat N$220 miljoen staan met 2 547 lede wat bydraes lewer.”

Volgens hom het die NBWPF ’n veldtog afgeskop wat op huidige en toekomstige werknemers gerig is en inligting deel oor die wysigings en verwante voordele.

Ander sektore wat nou verbind is met die konstruksiebedryf sal ook genader word om te deel in die geleenthede en voordele wat die fonds bied. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer