NDTC maak diamantbedryf se deur oop

Stel nuwe ontwikkelingsplan bekend
Namibië en De Beers beoog om oor die volgende 18 maande deur hul vennootskap meer burgers te betrek.
Augetto Graig
Die Namibia Diamond Trading Company (NDTC) het onlangs sy nuwe ontwikkelingsprogram bekend gestel.

Die uitvoerende hoof van NDTC, mnr. Brent Eiseb, sê die program beoog om meer Namibiërs by die sny en polering van diamante te betrek.

Eiseb sê die maatskappy, wat 15 jaar gelede deur ʼn vennootskap tussen die regering en die diamantreus De Beers gestig is, het reeds N$5 miljard tot die staatskas bygedra. Altesaam N$40 miljoen is op opleiding bestee, asook N$60 miljoen op verskeie welvaart-inisiatiewe.

Die nuwe program, intern bekend as die EDP, sal vir 18 maande met bestaande diamantondernemings wat diamante sny en poleer, getoets word vir Namibiërs om by die koop, poleer, verspreiding en verkoop van diamante betrokke te raak, asook die maak van juweliersware.

Die voorsitter van Suid-Afrika se diamanthandelaarsklub, mnr. Molefi Letsiki, het gesê die verhaal van waardetoevoeging tot Afrika se diamante moet verander, en dat diamante die simbool van dié vasteland se ekonomiese herlewing moet word.

“Ek prys die NDTC vir die EDP wat sal help dat meer en meer diamante veredel word in die lande waar die diamante gemyn word, tot voordeel van die inheemse mense.

“Die voordeel is nie net in terme van geldwaarde nie, maar ook in vaardigheidsontwikkeling, blootstelling en innovasie,” sê hy.

Aan die verkose deelnemers is sy raad: “Voldoen, voldoen en voldoen. Hierdie nywerheid is so groot en tog so klein. Jou woord is jou eer. Integriteit is alles in hierdie bedryf,” dring hy aan.

’n NDTC-raadsdirekteur, me. Estelle Tjipuka, het gesê die EDP sal die eerste van sy soort in Namibië wees: “’n Spelwisselaar!” sê sy.

“Waardetoevoeging staan sentraal tot NDTC se verskaffingstrategie,” voeg sy by.

Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het gesê Afrika het so veel minerale, maar min klaarvervaardigde produkte.

“Hierdie is ’n aanvanklike stap. Ons moet iets verander. Ons moet verander hoe ons te werk gaan, hoe ons dink, sodat ons voordeel daaruit kan trek. Dit is ’n belangrike stap en ons is trots op julle. Een les wat ons moet leer, is om ons burgers met vaardighede toe te rus. Dit is die fondasie van sake-ontwikkeling. Ons moet ons mense insluit, asook die vaardighede wat hulle nodig het. Ons stem almal saam dít is wat ons moet doen,” het hy gesê.

Alweendo het gevra dat plaaslike banke ook inspring en met nuwe oë na die diamantbedryf kyk, aangesien finansiële instellings in Namibië tradisioneel nie gretig is om geld daarvoor beskikbaar te stel nie.

“Ons probeer hierdie bedryf te lokaliseer,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer