‘Namfisa moet intree’
Die goewerneur van die Otjozondjupastreek, John ǁKhamuseb, het ’n beroep op die toesighoudende owerheid vir finansiële instellings in Namibië (Namfisa) gedoen om strenger regulerings- en ingrypingsmaatreëls te implementeer om mense te beskerm wat in die strik van mikrolenings vasgevang is.
Die goewerneur het Vrydag tydens ’n openbare verhoor oor mikrolenings in die Otjozondjupastreek gesê dat oormatige lenings ’n groeiende maatskaplike probleem geword het, met sommige mense wat veelvuldige lenings aangaan en sukkel om in hul basiese behoeftes te voorsien.
“Namfisa moet ook optree en met vriendskaplike oplossings vorendag kom,” het ǁKhamuseb gesê en aangevoer dat mense wat hulself in die strik van mikroleners en kontantlenings bevind, deur regulatoriese prosesse bygestaan moet word.
Hy het verder gewaarsku teen reëlings vir skuldkonsolidasie en gesê sommige leners kan in langtermynreëlings vir terugbetaling beland wat hulle jare lank in die skuld laat.
ǁKhamuseb het gesê duidelike regulasies en reëls kan help om ’n balans tussen die belange van uitleners en leners te skep, terwyl daar verseker word dat die mikroleningsektor nie ’n groter maatskaplike krisis word nie.
Hy het gesê een kontantlening is nie noodwendig ’n bron van kommer nie, maar om twee, drie of vier lenings aan te gaan, kan mense met min of niks aan die einde van die maand laat.
Die goewerneur het gewaarsku die gevolge strek verder as finansiële probleme en het gesê oormatige skuld kan tot kwessies soos dobbelary, alkoholisme en die verbrokkeling van gesinne bydra.
ǁKhamuseb het verwys na gevalle waar die situasie so ondraaglik geword het dat mense selfdood oorweeg of aan hul eie hand gesterf het. Sommige het weer hul werk en ander verantwoordelikhede weens hul skuldlas afgeskeep. Hy het ook kommer uitgespreek oor praktyke vir die terugbetaling van skuld. Dit sluit voorvalle in waar mikroleners toegang tot hul kliënte se salarisse gehad het en geld op betaaldag kon aftrek. Volgens ǁKhamuseb het sommige onwettige kontantlenings se rentekoerse van 30% tot soveel as 100% gewissel.
Die openbare verhoor is deel van die parlement se ondersoek na ’n mosie om te bepaal of bestaande wette Namibiërs teen uitbuiting deur leningsinstellings en informele geldskieters beskerm.
Die komitee het tot dusver verskeie streke besoek. Senior amptenare in die Oshanastreek het verlede week ook kommer uitgespreek oor leningspraktyke wat Namibiërs en veral staatsamptenare in finansiële ondergang dompel.
Tydens ’n openbare verhoor van die Nasionale Vergadering se staande komitee oor ekonomie, nywerheid, openbare administrasie en beplanning op Oshakati, het leiers ’n somber prentjie geskets van huishoudings wat as gevolg van veelvuldige lenings op ’n breukdeel van hul salarisse oorleef.
Abel Mazila, die hoof-ontwikkelingsbeplanner by die Oshana-streekraad, het gesê Namfisa moet tot verantwoording geroep word. Hy het aangevoer dat, hoewel daar wette bestaan om verbruikers te beskerm, die afdwinging daarvan agterweë gelaat is.
“As my salarisstrokie die maksimum kapasiteit bereik, dink ek regulerende instellings behoort te kan sê: ‘Hier, ons kan nie’, ongeag wins of besigheid,” het hy gesê.
“Dis hartseer om te sien hoe iemand ’n netto bedrag van N$16 000 verdien en net N$500 in hul rekening beland. Wie blameer ons hier? Dit behoort die reguleerder te wees,” het Mazila gesê.
Hy het ook kommer uitgespreek oor die winsgewendheid van die mikrolenersektor.
“As ’n mens na die leningsboeke van mikroleners kyk, beloop dit miljarde. Dit is een van die winsgewendste bedrywe en tog bly die lener in die skuld,” het Mazila bygevoeg.
Hy het voorgestel dat ’n studie gedoen word om te bepaal watter beroepe en streke die meeste leen en waarom.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie