Mynbou laat ekonomie glinster

Jo-Maré Duddy
Danksy ‘n skitterende vertoning van mynbou het Namibië teen die einde van Junie vanjaar vyf opeenvolgende kwartale van positiewe ekonomiese groei agter die rug gehad.

Die ekonomie het in die tweede kwartaal vanjaar met 5,6% gegroei, volgens syfers wat gister deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is. Hoewel laer as die 6,5% van die vorige kwartaal, was dit effe beter as die 5,5% van dieselfde drie maande in 2021.

Namibië se reële bruto binnelandse produk (BBP), wat vir inflasie aangepas is, het in die tweede kwartaal vanjaar bykans N$36,04 miljard beloop.

Sedert die begin van die Covid-19-pandemie in 2020, kon die kwartaallikse BBP nog net twee keer deur die kerf van N$36 miljard bars - die afgelope kwartaal en die laaste kwartaal van 2021 toe dit sowat N$36,3 miljard beloop het.

Slegs twee subsektore het van April tot Junie vanjaar ingekrimp: Konstruksie het met -25,3% gegroei en staatsadministrasie met -2,1%.

Sedert die begin van 2016 toe die regering besteding drasties besnoei en die daaropvolgende resessie begin het, het konstruksie net in vyf uit die 26 kwartale ‘n positiewe vertoning gelewer. Konstruksie se reële BBP-bydrae die afgelope kwartaal was ‘n skrale N$444 miljoen, die laagste op die NSA se databasis vir 2015-konstante pryse wat tot die begin van 2013 terugstrek.

BLINK SYFERS

Mynbou was die ekonomie se liefling in die tweede kwartaal en het met 29,4% gebult. Dit is die vierde opeenvolgende kwartaal dat dié sektor nie net positief vertoon nie, maar dubbelsyfergroei aanteken.

Veral diamantmynboubedrywighede, wat met 53,7% gegroei het, het die sektor se groei laat glinster. Die myn van metaalerts het met 26,4% gegroei.

Mynbou se reële BBP-bydrae was sowat N$3,9 miljard – die hoogste sedert die tweede kwartaal van 2018.

Finansiële dienste het die tweede beste groei die afgelope kwartaal getoon. Hoewel laer as die 16,9% van die eerste kwartaal vanjaar, is dit dié sektor se beste vertoning sedert die tweede kwartaal van 2019.

Versekering- en verwante dienste het met 23,4% gegroei en die banksektor met 7,3%.

Met groei van 10,5% het vervoer en berging die derde beste gevaar. Dit is dié sektor se sterkste vertoning sedert die laaste kwartaal van 2016. Hawedienste het met 33,7% toegeneem, terwyl lughawedienste en lugvervoer met 40,7% en 131,1% onderskeidelik verbeter het.

TOERISME, HANDEL

Hotelle en restaurante, ‘n maatstaf vir die toerismesektor, het die afgelope kwartaal met 8,9% gegroei.

Die sektor se reële BBP-bydrae het N$593 miljoen beloop, teenoor N$544 miljoen in dieselfde kwartaal in 2021 en N$395 miljoen in 2020. Dit is egter veel minder as die N$718 miljoen van die tweede kwartaal in 2019.

Die verbruiker se bestedingsmag bly onder druk met groot- en kleinhandel wat die afgelope kwartaal groei van net 0,5% kon aanteken – laer as die een present van die eerste kwartaal en die 21% van die tweede kwartaal in 2021.

Groot- en kleinhandel se reële BBP-bydrae die afgelope kwartaal was bykans N$3,27 miljard. Vóór die pandemie, in die tweede kwartaal van 2019, was dit N$3,62 miljard. In die tweede kwartaal van 2016, vóór die resessie sy kloue in verbruikers ingeslaan het, was dit N$4,2 miljard.

Ander groeisyfers wat gister bekend gemaak is, sluit in: Landbou 1,9% (8% in die eerste kwartaal en -2,1% in die tweede kwartaal in 2021); visserye 0,9% (-1,5% en 16,5%); asook vervaardiging 3% (11,9% en 3,5%).

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer