‘Korter huislenings nie die antwoord’

Ekonome meen risiko te groot
Die eerste minister het gevra vir gesprekke met handelsbanke oor hoe behuisingsfinansiering Namibiërs beter kan bedien.
Phillipus Josef

Ekonome maan eerste minister Elijah Ngurare se beroep op die hersiening van Namibië se model vir finansiering vir huislenings kan onbedoelde gevolge hê indien tydperke vir terugebetaling verkort word sonder om uitdagings oor bekostigbaarheid aan te spreek.

By vandeesweek se die werkswinkel oor begrotingshervorming in Windhoek het Ngurare gevra waarom ’n voertuig van N$2 miljoen tipies binne vyf of ses jaar afbetaal kan word, terwyl ’n huis van dieselfde waarde dikwels 20 jaar of langer neem. Hy het gevra vir gesprekke met handelsbanke oor hoe behuisingsfinansiering Namibiërs beter kan bedien.

In reaksie op die kwessie het ’n ekonoom van Simonis Storm, Almandro Jansen, aan Network Media Hub (NMH) gesê die verskil tussen voertuigfinansiering en verbandlenings kom neer op bekostigbaarheid, die lewensduur van die bate en hoe banke risiko bestuur.

“’n Residensiële eiendom is ’n langtermynbate. ’n Huis wat goed in stand gehou word het ’n ekonomiese lewensduur wat oor verskeie dekades strek, terwyl die grond waarop dit staan in beginsel permanent is,” het hy verduidelik.

“’n Voertuig, daarenteen, is ’n waardeverminderende bate met ’n bruikbare ekonomiese lewensduur van ongeveer agt tot 15 jaar.”

Jansen het gesê banke pas oor die algemeen die terugbetalingstydperk van ’n lening by die verwagte lewensduur en waarde van die onderliggende bate aan. 

Om ’n voertuig oor 20 jaar te finansier, sou uitleners aan beduidende risiko blootstel omdat die bate se waarde moontlik grootliks verdwyn het lank voordat die lening terugbetaal is.


BEKOSTIGBAARHEID

Bekostigbaarheid is nog ’n sleutelfaktor.


Met ’n verband van N$2 miljoen teen ’n rentekoers van 11,5% as voorbeeld, het Jansen gesê terugbetalings oor 20 jaar sou op sowat N$21 500 per maand neerkom. Om die terugbetalingstydperk tot sewe jaar te verkort, sou die maandelikse paaiement tot ongeveer N$35 400 verhoog.

“Dit is omtrent ’n toename van 65% en sou baie leners onmiddellik diskwalifiseer onder normale vereistes vir skuld-diens-tot-inkomste.”

Die goewerneur van die Bank of Namibia (BoN), Ebson Uanguta, het ’n soortgelyke siening uitgespreek en gesê lang tydperke vir  verbandterugbetalings word grootliks deur bekostigbaarheid gedryf eerder as deur willekeurige besluite deur banke.

“Die rede waarom die banke vir ons 20 tot 30 jaar gee, is net weens die bekostigbaarheid,” het Uanguta gesê.


Hy het bygevoeg dat leners wat hoër maandelikse terugbetalings kan bekostig, korter tydperke vir terugbetaling kan kies.

Jansen het gesê Ngurare het ’n geldige rede tot kommers oor die bekostigbaarheid van behuising geopper, maar gewaarsku dat die blote verkorting van die verbandtermyn nie noodwendig huiseienaarskap meer toeganklik sal maak nie.

“As terugbetalingstydperke by 15 jaar ingeperk sou word sonder ’n ooreenstemmende daling in rentekoerse of ’n toename in huishoudelike inkomste, sou die onmiddellike gevolge wees om maandelikse paaiemente bo die bereik van baie voornemende kopers te verhoog,” het hy gesê.

Hy het gewaarsku dat so ’n stap toegang tot finansiering vir behuising kan verminder, die risiko van wanbetalings kan verhoog en bykomende druk op die eiendoms- en konstruksiesektore kan plaas.


MEER TOEGANKLIK

’n Ekonoom van Standard Bank Namibia, Helena Mboti, het gesê die bank verwelkom die regering se versoek om te ondersoek hoe behuisingsfinansiering Namibiërs beter kan bedien.

“Ons deel die doel om huiseienaarskap vir almal meer toeganklik te maak,” het sy gesê.

Mboti het bygevoeg dat die bank betrokkenheid tussen beleidmakers, reguleerders en die banksektor oor kwessie van die bekostigbaarheid van behuising ondersteun, terwyl dit verbind bly tot verantwoordelike uitleen en die langtermynstabiliteit van die behuisingsmark.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-07-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer