No Image Caption

Jan Taks red staatskas

Groot beloftes vir verkiesingsjare
Miljarde meer aan belastinginvorderings het die minister van finansies in staat gestel om groot uitgawes te finansier sonder om die tekort of skuldlas te verhoog.
Ronelle Rademeyer (Vertaling)
Jo-Maré Duddy – Groter inkomste en hoër ongeskiktheidstoelaes, sowel as beloftes van belastingtoegewings en verhoogde maandelikse staatspensioene het gister die minister van finansies, Iipumbu Shiimi, se middeltermyn-begrotingsoorsig (MYBR) gekenmerk toe hy die totale uitgawes vir 2022-‘23 met byna N$4 miljard opgestoot het.

"Die primêre fokus van fiskale beleid in die nabye tot mediumtermyn is om die ekonomie te beskerm teen die impak van die styging in internasionale energie- en voedselpryse," het Shiimi gesê, met verwysing na die verwoestende nagevolge van Rusland se inval in die Oekraïne.

Die minister kon bekostig om vrygewig te wees, aangesien inkomsteskattings vir die huidige boekjaar met sowat N$4,4 miljard tot N$64,1 miljard verhoog is, hoofsaaklik op grond van korporatiewe belasting van mynbou- en niemynmaatskappye, beter inkomstebelastinginvorderings, belasting op toegevoegde waarde (BTW) en dividende.

Hierdie meevaller het Shiimi ook in staat gestel om die voorspelde tekort van nagenoeg N$11,1 miljard tot sowat N$10,6 miljard te verlaag. Die totale skuld vir 2022-‘23 word op nagenoeg N$138,4 miljard geraam, teenoor die sowat N$140,2 miljard in die hoofbegroting wat in Maart ter tafel gelê is.

TOELAES

Die totale bedryfsbegroting staan nou op nagenoeg N$60,1 miljard vergeleke met die N$56,6 miljard in die hoofbegroting. Hiervan is sowat N$1,25 miljard vir die salarisverhogings van staatsamptenare waarop onlangs ooreengekom is om 'n landwye staking af te weer.

Daarbenewens is N$747,4 miljoen meer aan personeeluitgawes toegestaan, waarvan die grootste deel vir gesondheids- en maatskaplike dienste sowel as onderwys, kuns en kultuur is om voorsiening te maak vir geprojekteerde tekorte op werwing.

Ook ingesluit is N$5,2 miljoen ekstra sodat die ministerie van geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn die voorwaardelike maandelikse inkomstetoelaag (CIG) vir voormalige voedselbank-begunstigdes van N$500 tot N$600 kan verhoog. Dit word vandeesmaand van krag.

Bykomende befondsing van N$97 miljoen is geïnkorporeer om die ongeskiktheidstoelae vir begunstigdes onder die ouderdom van 18 jaar van N$250 tot N$1 300 te verhoog. Dit sal eers in die 2023-‘24-begrotingsjaar in werking tree.

Daar is ook voorsiening gemaak om die maandelikse ouderdomspensioen en die ongeskiktheidstoelaag, sowel as die toelaag vir wees- en kwesbare kinders met N$100 te verhoog, wat in 2023-‘24 in werking tree “indien hulpbronne dit toelaat”, het Shiimi gesê.

BELASTINGVERLIGTING

Die belastingkoers vir niemynmaatskappye sal met twee persentasiepunte verminder word oor die twee buitenste jare van die volgende mediumtermyn-bestedingsraamwerk (MTBR). Die koers sal verminder word tot 31% effektiewelik in 2024-‘25, met 'n verdere verlaging tot 30% in 2025-‘26.

Shiimi het gesê die ministerie van finansies sal die oorweging ondersoek om die drempel vir inkomstebelasting op individue van die huidige N$50 000 tot N$100 000 te verhoog, met die oog op verligting aan lae-inkomsteverdieners.

Die Wysigingswetsontwerp op Inkomstebelasting bevat voorstelle om onder meer die aftrekbaarheid op pensioenfondsbydraes en studiepolisse tot 'n maksimum van N$150 000. Volgens Shiimi is die wetsontwerp tans by wetlike opstellers waarna dit in hierdie boekjaar in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê sal word.

Die Wysigingswetsontwerp op Belasting op Toegevoegde Waarde is ook tans by die wetsopstellers en sal hierdie boekjaar in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê word. Dit bevat onder meer 'n nulkoers vir die verskaffing van sanitêre doekies, het Shiimi gesê.

BEDRYFSUITGAWES

'n Bedrag van N$706 miljoen is toegeken vir die Nasionale Sensus wat in 2023-‘24 onderneem sal word.

Altesaam N$88 miljoen is beskikbaar vir voorbereidings vir die presidensiële en Nasionale Vergadering-verkiesings in November 2024, asook die streeksraads- en plaaslike owerheidsverkiesings in November 2025.

’n Bykomende N$531,1 miljoen is aan subsidies en ander oordragte aan staatsorganisasies toegestaan om onder meer tekorte aan studentefinansiering by die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) en die opknapping van lokomotiewe vir TransNamib te dek.

Altesaam N$872,9 miljoen is by die goedere- en dienstebegrotings van verskeie ministeries gevoeg om onder meer geprojekteerde tekorte op nutsdienste te dek, om die uitbreking van die bek-en-klouseer en longsiekte te bekamp, asook om die erodering van koopkrag in die lig van verhoogde inflasie te stuit – veral wat vervoer betref, het Shiimi gesê.

KAPITAALPROJEKTE

In teenstelling met vorige jare, is die ontwikkelingsbegroting in die MYBR verhoog.

Die bykomende N$497,7 miljoen sal uitstaande facture help delg en voorsiening maak vir potensiële tekorte op kritiek belangrike deurlopende projekte ten einde kontinuïteit te verseker en verdere boetes op padbouprojekte te vermy, het Shimmi gesê.

Ingesluit by die ekstra geld is N$33 miljoen vir verdediging onder sy geklassifiseerde Navorsings- en Ontwikkelingsprojek. Die kantoor van die president sal 'n bykomende N$15 miljoen ontvang om die Hosea Kutako-heiligdomprojek te voltooi.

Die program vir die diens van erwe op ‘n groot skaal sal N$75 miljoen meer kry, terwyl N$25 miljoen ekstra geoormerk is vir projekte van die Namibië Nywerheidsontwikkelingsagentskap (Nida).

Visserye en mariene hulpbronne, asook hoër onderwys, tegnologie en innovasie het elk N$10 miljoen ekstra gekry.

Werke en vervoer het N$449 miljoen meer ontvang vir paaieprojekte en om die teerblad by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe op te knap. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!