Groei te swak om armoede te takel
Nuusredaksie – Namibië se ekonomiese groei sal na verwagting in die nabye toekoms gedemp bly, met die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) wat waarsku die land se huidige groeikoers is onvoldoende om werkloosheid, ongelykheid en armoede betekenisvol te verminder.
In sy Artikel IV-konsultasie vir 2026, wat in Junie vrygestel is, het die IMF groei in die reële bruto binnelandse produk (BBP) van 2,1% vir vanjaar voorspel, ná ’n groeikoers van slegs 1,7% in 2025. Dit verwag dat groei oor die medium termyn geleidelik tot ongeveer 3% sal herstel.
Die IMF het die swak vooruitsigte toegeskryf aan ’n ernstige afname in diamantproduksie, dalende goudproduksie en verhoogde brandstofkoste, terwyl hy gewaarsku het strukturele swakhede, soos die wanbalans in vaardighede, regulatoriese bottelnekke, beperkte ekonomiese diversifikasie en ’n groot openbare sektor, steeds ’n negatiewe uitwerking op produktiwiteit en werkskepping sal hê.
“Ekonomiese groei bly onvoldoende om werkloosheid, ongelykheid en armoede betekenisvol te verminder,” het die IMF gesê en bygevoeg dat Namibië se ekonomie steeds sterk op die openbare en ontginningsektore gefokus is.
Die fonds het gesê werkloosheid onder die jeug is steeds besonder hoog en aangevoer Namibië moet beweeg na sterker groei wat deur die private sektor gelei word en strukturele struikelblokke vir indiensneming verminder.
Dit het die regering se verbintenis tot fiskale konsolidasie verwelkom en gesê die begroting vir die 2026-’27-boekjaar verteenwoordig ’n positiewe stap na skuldvolhoubaarheid deur middel van beperkings op uitgawes en hervormings aan die staat se mediese fonds (Psemas).
Die IMF het egter gewaarsku verdere fiskale konsolidasie sal oor die medium termyn nodig wees om ruimte vir beleggings te skep wat groei bevorder, maatskaplike beskerming versterk en die land se veerkragtigheid teen ekonomiese skokke verbeter.
Die fonds het gevra vir omvattende hervormings van die staatsdiens, insluitend funksionele poshersienings en die rasionalisering van indiensneming in die openbare sektor. Dit kan die verdringing van private besighede verminder en die doeltreffendheid van openbare dienste verbeter.
Die organisasie het ook sterker toesig oor openbare ondernemings en verbeterings aan openbare finansiële bestuur aangemoedig.
SKULD
Ten spyte van die regering se pogings tot fiskale konsolidasie, voorspel die IMF dat Namibië se bruto openbare skuld van 66,1% van die BBP in 2025 tot 66,3% in 2026 sal styg, voordat dit verder toeneem tot 67,1% in 2027 en 70,7% teen 2031.
Die fonds het gesê bykomende konsolidasie is noodsaaklik om openbare skuld op ’n volhoubare pad te plaas. Die mobilisering van inkomste moet ook versterk word, onder meer deur verbeterde belastingadministrasie en die doeltreffender invordering van inkomste uit hulpbronhuur, veral in die visserysektor.
Die voorgestelde wetgewing vir die Welwitschia-fonds is geïdentifiseer as ’n belangrike meganisme om toekomstige inkomste uit natuurlike hulpbronne te bestuur.
GELEENTHEDE VIR GROEI
Die IMF het gesê Namibië se ontluikende olie-, gas- en groenwaterstofbedrywe kan ’n groot geleentheid bied om die ekonomie te diversifiseer en werk te skep.
“Om hierdie voordele te verwesenlik, sal duidelike beleidsraamwerke, gebalanseerde strategieë vir plaaslike inhoud en die belyning van onderwys- en opleidingstelsels met veranderende behoeftes in die arbeidsmark nodig wees.”
Die fonds het ook ’n pleidooi gerig vir minder regulatoriese struikelblokke, beter infrastruktuur en openbare dienslewering, digitale transformasie, sterker ondersteuning vir klein- en mediumgrootte ondernemings en verbeterde toegang tot finansiering.
Dit het gesê die spoedige vordering met finale beleggingsbesluite oor olie, gas en groen waterstof kan ’n positiewe uitwerking op Namibië se groeivooruitsigte hê.
KOPPELING AAN DIE RAND
Die IMF het ook die behoefte aan noukeurige koördinasie tussen die Bank of Namibia (BoN) se beleidskoers en dié van die Suid-Afrikaanse Reserwebank beklemtoon om Namibië se valutakoppeling aan die rand te beskerm.
Die fonds het die vernouing van die rentekoersgaping van 75 basispunte tot 25 basispunte as ’n positiewe stap bestempel, maar gesê die uiteindelike uitskakeling van die gaping sal belangrik wees om reserwes te beveilig en eksterne druk te beperk.
Namibië se finansiële stelsel bly stabiel en goed gekapitaliseer, volgens die IMF, hoewel die fonds gewaarsku het teen toenemende bande tussen die staat en die finansiële sektor.
Die fonds het ook gewys op risiko’s wat voortspruit uit ’n moontlike eskalasie van die oorlog in die Midde-Ooste, strenger wêreldwye finansiële toestande, ’n swakker vraag na diamante, wisselvalligheid in die inkomste van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu), stygende staatskuld, bek-en-klouseer en klimaatsverwante skokke.
Namibië se ekonomie het in 2025 met 1,7% gegroei, aangehelp deur sterk uraanproduksie en diensaktiwiteite wat die swakheid in die diamantsektor gedeeltelik teengewerk het, terwyl goud- en veeproduksie geleidelik herstel het. Inflasie het gedurende die jaar gedaal, maar sal na verwagting in 2026 effens styg weens hoër brandstofpryse.
Die IMF verwag dat inflasie in 2026 gemiddeld 3,9% sal beloop, voordat dit oor die medium termyn op ongeveer 3% sal stabiliseer.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie