BoN wil 600 kg goud van plaaslike myne koop
Die Bank of Namibia (BoN) beplan om 600 kilogram goud teen die die laaste kwartaal van 2026 van plaaslike myne te verkry as deel van ’n strategie om die land se buitelandse valutareserwes te versterk en sy vermoë te verbeter om op ekonomiese skokke te reageer.
Tydens ’n gesprek Dinsdag met die parlementêre staande komitee oor ekonomie, nywerheid, openbare administrasie en beplanning het BoN se adjunkgoewerneur, Nicholas Mukasa, gesê die sentrale bank koop reeds sowat 2 000 onse goud per maand van plaaslike produsente.
“Ons strategie wat die verkryging van goud betref, was van die begin af om goud uit die land se myne te verkry. Ons is tans in gesprek met al die myne en ek is bly om te rapporteer dat daardie gesprekke baie positief was,” het Mukasa gesê.
“Ons het ooreengekom om vas te stel hoeveel goud geproduseer gaan word en ons koop tans sowat 2 000 onse per maand. In kilogram, om dit makliker te maak, is dit omtrent 60 kilogram goud per maand.”
Mukasa het die inisiatief beskryf as die eerste fase van die sentrale bank se goudverkrygingsprogram.
“Dit is wat ek as Fase 1 van die goudverkrygingsprojek sou beskryf. Gedurende hierdie fase is ons teiken dat ons teen die einde van die laaste kwartaal van 2026 600 kilogram goud sal verkry het.”
Hy het gesê die beplande besit sou ongeveer 3% van Namibië se buitelandse valutareserwes uitmaak.
“Op grond van vandag se beraamde waarde sou dit ongeveer 3% van ons buitelandse valutareserwes verteenwoordig.”
Mukasa het gesê die sentrale bank het doelbewus daarteen gekies om ’n groter deel van reserwes in goud te hou nadat internasionale praktyke bestudeer is en die risiko’s wat met die edelmetaal gepaardgaan, beoordeel is.
“Jy mag vra hoekom dit 3% is en nie hoër nie. Eerstens het ons gekyk na wat ander sentrale banke gedoen het met betrekking tot goudbesit. Tweedens het ons optimaliseringstudies gedoen om die toepaslike hoeveelheid goud te bepaal om te hou, sodat dit sin maak vir ons ekonomie en ons in staat stel om doeltreffend te reageer in tye van krisis.”
Volgens Mukasa het BoN se navorsing bevind dat ’n toewysing tussen 3% en 5% die gepaste persentasie is.
“Op grond van ons studies en maatstafvergelyking glo ons dat êrens tussen 3% en 5% die optimale toewysing vir goud is.”
Hy het gewaarsku dat, hoewel goud dikwels as ’n veiligehawe-bate beskou word, dit baie wisselvallig kan wees.
“Die rede hiervoor is dat goud eintlik ’n taamlik wisselvallige bate is. Voor die vorige krisis het goud tot sowat US$2 000 gestyg en toe het dit weer aansienlik teruggesak.
“Daarom, wanneer jy goud by jou reserwebates voeg – wat bedoel is om jou te help reageer tydens ’n krisis – moet jy hierdie wisselvalligheid in ag neem.”
Mukasa het gesê die program het die bykomende voordeel dat dit die binnelandse ekonomie ondersteun omdat die goud plaaslik aangekoop word.
“Nog ’n belangrike punt is dat, omdat ons die goud van plaaslike myne koop, ons in Namibiese dollar betaal. Gevolglik stel dit ons in staat om ons reserwes te laat groei terwyl ons die plaaslike ekonomie ondersteun.”
Hy het gesê Namibië se buitelandse reserwes staan tans op N$58,8 miljard en word verwag om teen jaareinde verder te verbeter.
“Soos julle uit die goewerneur se aanbieding gesien het, staan ons buitelandse reserwes tans op ongeveer N$58,8 miljard. Nadat ons die meeste van die verpligtinge wat ons tussen nou en die einde van die jaar verwag, gefinansier het, verwag ons om die jaar in ’n baie gemakliker posisie af te sluit.”
Mukasa het ook die belangrikheid verdedig om sterk buitelandse valutareserwes te handhaaf en gesê dit word noukeurig deur internasionale beleggers dopgehou.
“Een van die eerste vrae wat hulle vra, is: Watter vlak van reserwes het die land? Die maatstaf van ongeveer drie maande se invoerdekking is vir hulle ’n belangrike aanwyser.
“Dit is hoekom, al mag die reserwevlak hoog lyk, dit belangrik is om minstens drie maande se invoerdekking te handhaaf.”
Hy sê dit dra by tot beleggersvertroue, moedig ondernemings aan om plaaslik te belê, wat op sy beurt kan help om werk te skep, veral vir jong Namibiërs.
Die adjunkgoewerneur het bygevoeg dat die handhawing van voldoende reserwes nie opsioneel is nie.
“As jy na die wetgewing kyk wat die sentrale bank beheer, is dit ’n wetlike vereiste voldoende reserwes gehandhaaf word.”
Intussen moet die sentrale bank nog besluit waar die goud gestoor gaan word.
“Wat dié kwessie betref, raadpleeg ons nog intern binne die bank saam met ons direksie en die ministerie van finansies.”
Mukasa het gesê owerhede weeg die koste en voordele op van die berging van die goud plaaslik of in die buiteland.
“As ons besluit om die goud in Namibië te hou, is daar sekere voordele, maar daar is ook koste betrokke. Daar is ook die opsie om die goud buite die land te stoor.
“Ons evalueer dus al hierdie oorwegings. Ek glo dat ons binne die volgende paar maande in ’n posisie sal wees om al hierdie opsies af te handel en te besluit waar die goud uiteindelik gestoor sal word.”
Hy het gesê ervarings uit ander Afrikalande toon dat baie sentrale banke verkies om hul goud in groot internasionale finansiële sentrums te stoor.
“Wat ons waargeneem het, is dat baie van hulle verkies om hul goud in Europa of ander internasionale finansiële sentrums te stoor omdat hulle sekere voordele daarin sien.”
Mukasa het aangevoer in sommige gevalle lyk dit goedkoper om die goud in plekke soos New York of in Europa te stoor.
“Verder, terwyl die goud op daardie plekke gehou word, kan dit ’n opbrengs genereer wat moontlik bykomende voordele vir die land kan bied.”
Hy het egter beklemtoon dat geen finale besluit nog geneem is nie.
“Vir Namibië evalueer ons nog al die opsies en sal ons die besluit aankondig wat ons glo die mees gepaste vir die land is.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie