BoN voorspel lae inflasie, beskeie groei
Inflasie sal na verwagting vanjaar onder 4% bly en teen 2027 sowat 3,5%, maar die land se ekonomie sal na raming voortgaan om onder sy volle potensiaal te groei, aangesien wêreldkonflikte, swak kredietvraag en ’n voortdurende handelstekort druk op herstel plaas.
Dit is gister deur die goewerneur van die Bank of Namibia (BoN), Ebson Uanguta, tydens ’n gesprek met die parlementêre staande komitee oor ekonomie, nywerheid, openbare administrasie en beplanning bekend gemaak.
“Inflasie is werklik goed in toom gehou,” het Uanguta gesê.
“Ons voorspel ook dat inflasie vanjaar effens sal styg in vergelyking met wat ons gesien het, maar dit sal steeds onder 4% bly.
“In 2027 verwag ons ook dat inflasie by sowat 3,5% sal bly.”
Uanguta het gesê die gedempte inflasievooruitsig kom ondanks voortgesette wêreldwye druk wat uit hoë invoerrekeninge, stygende versekeringskoste en logistieke uitdagings spruit.
Die sentrale bank se goewerneur het ook trae kredietgroei uitgelig en dit as ’n teken van swak ekonomiese aktiwiteit beskryf.
“Krediet was vroeër in dubbel syfers, met ander woorde, dit het met 10% gegroei, soms tot 12%. Nou groei krediet net tussen 3% en 4%, beide rakende individue en besighede. Dit dui duidelik op die gedempte ekonomiese aktiwiteite.”
Hy het gesê sterker binnelandse vraag en werkskepping is kritiek om lenings en ekonomiese groei aan te wakker.
“Wat krediet dryf is sterk plaaslike beweging. Ook, wanneer die ekonomie werk en inkomste skep, sal mense meer op krediet koop. As dit nie die geval is nie, verdwyn dit skielik.”
Uanguta het gesê die Namibiese ekonomie bly op ’n positiewe koers, hoewel die herstel steeds ongelyk is en grootliks van mynbou afhanklik bly.
“Die ekonomie word steeds grootliks deur die primêre bedryf, veral die mynbousektor, gedryf.”
Hy het opgemerk dat, ondanks pogings sedert onafhanklikwording om die ekonomie te diversifiseer, mynbou steeds ekonomiese aktiwiteite oorheers.
“Onthou, sedert onafhanklikwording het ons met alle middele probeer om die ekonomie weg van die mynbousektor te diversifiseer.
“Ons denke was nog altyd: Ons kan nie net op die primêre bedryf bly steun nie, maar as ’n mens steeds na die struktuur van die ekonomie kyk, het die primêre bedryf, veral mynbou, nogal dominant gebly.”
Volgens Uanguta sal ekonomiese groei na verwagting van 1,7% wat in 2025 aangeteken is tot 2,6% vanjaar verbeter, voordat dit geleidelik tot 3,2% teen 2028 sal toeneem.
Hy het egter gewaarsku dat groei vir die afsienbare toekoms onder potensiaal sal bly: “Oor die volgende twee jaar sal die groei van die ekonomie onder sy groeipotensiaal bly –2,6% is onder 3%, 2,9% is steeds onder 3%.
“Dit is eers in 2028 dat ons voorspel dat ons basies bo dit sal wees.”
GEOPOLITIEKE SPANNING
Op die internasionale front het Uanguta gewaarsku dat geopolitieke spanning steeds ekonomiese stabiliteit bedreig.
“As jy oor die afgelope vyf jaar kyk, is wêreldwye ekonomieë erg deur Covid getref. Daarna die Rusland-Oekraïne-oorlog en nou weer die oorlog in die Midde-Ooste. Dit was regtig baie moeilik vir die globale ekonomie.”
Hy het opgemerk dat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) wêreldwye groei vir 2026 afwaarts na 3,1% vanaf die voorheen beraamde 3,3% hersien het. Uanguta het die konflik in die Midde-Ooste uitgelig as ’n groot kommer weens die impak daarvan op wêreldwye energievoorrade.
“Ongeveer 20% tot 25% van olie en 19% van vloeibare gas wêreldwyd word deur die Straat van Hormoes vervoer of verhandel.”
Hy het beklemtoon daarom is dit baie belangrik dat daardie konflik so vinnig as moontlik tot ’n einde moet kom.
OLIEPRYSSKOK
“Ons het ’n olieprysskok gesien wat met sowat 30% gestyg het. En weer, wanneer oliepryse styg, het dit ’n ernstige impak op inflasie.”
Die bankhoof het bygevoeg dat Namibië steeds aan ontwikkelings in die Midde Ooste-streek blootgestel word.
“Minstens 40% tot 55% van ons wêreldwye invoere kom uit daardie streek. Watter ontwikkelings ook al in die Midde-Ooste plaasvind, dit het dus ’n indirekte impak op ons ekonomie.”
Intussen het Uanguta ook die land se wisselkoersreëling met Suid-Afrika verdedig en gesê die voordele daarvan weeg steeds swaarder as die nadele op.
“Ons sien steeds dat die voordele die koste oortref om deel van daardie wisselkoers te wees. Die voordele is dit gee ons laer transaksiekoste en dit gee ons stabiele pryse.”
Terselfdertyd het hy erken dat die reëling die land se monetêre beleidsonafhanklikheid beperk.
“Ons het nie volledige speelruimte om ’n volledige onafhanklike monetêre beleid uit te oefen nie.”
Uanguta het gesê invoere oorskry steeds uitvoere, wat dit moeilik maak om buitelandse reserwes op te bou.
“Daar is geen ander manier om jou buitelandse reserwes te verkry as deur jou uitvoere nie en dit kan deur die diversifikasieproses kom.”
Hy het gesê Namibië se buitelandse reserwes het teen die einde van April 2026 tot N$58,8 miljard toegeneem, wat ongeveer 3,7 maande se invoerdekking verteenwoordig, terwyl staatskuld op N$178,4 miljard gestaan het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie