BoN: Trae ekonomie belemmer lenings
Namibiese ondernemings hou terug met nuwe lenings, omdat die ekonomie nie genoeg ekonomiese bedrywighede voortbring om belegging en uitbreiding aan te moedig nie, sê die goewerneur van die Bank of Namibië (BoN), Ebson Uanguta.
Die groei in kredietverlening aan die privaat sektor het in Junie tot 4,5% verlangsaam vanaf 4,8% in April, met die bank wat laer leningsopname en netto-terugbetalings deur ondernemings aangeteken het. Dit geld veral by paaiementverkope- en huurkoopkrediet, oortrokke fasiliteite en ander lenings en voorskotte.
By die bank se jaarlikse monetêrebeleidsdialoog in Windhoek vandeesweek het Uanguta gesê die huidige vlak van rentekoerse is nie hoog genoeg om ondernemings daarvan te weerhou om lenings aan te gaan nie.
“Wat die opname van privaatsektorkrediet deur sowel ondernemings as huishoudings beïnvloed, is nie die koste van kapitaal nie.
“Ons dink nie dat ons rentekoers op hierdie punt [te] hoog is, om ’n struikelblok te wees vir ondernemings om kapitaal op te neem nie,” het hy gesê.
“Ek dink wat op hierdie punt ’n struikelblok is, is die vlak van ekonomiese bedrywighede wat baie traag is,” het Uanguta gesê.
Die afname in ondernemingslenings kom terwyl die sentrale bank verwag dat Namibië se ekonomie met 2,1% in 2026 en 2,8% in 2027 sal groei, met klimaatskokke en swak diamantpryse wat in die vooruitsig is.
Uanguta het gesê uraanmynbou tree na vore as ’n belangrike bron van groei, terwyl finansiële dienste, groot- en kleinhandel, konstruksie, elektrisiteit en water na verwagting vanjaar sterk sal presteer.
Volgens hom bly olie- en gasvooruitsigte die grootste lig op die horison.
Uangata het gesê die besluit om die repokoers onveranderd op 6,75% te hou, was hoofsaaklik bedoel om die Namibiese dollar se valutakoppeling met die Suid-Afrikaanse rand te beskerm.
“Wanneer jy nie groei in jou monetêrebeleidsbesluit in ag neem nie, dan verloor jy uit die oog wat ons veronderstel is om te doen,” het Uanguta gesê.
Hy het gesê monetêre en fiskale beleid moet saamwerk om die land se uitdagings vir groei doeltreffend te takel.
Uanguta het gesê ’n wyer rentekoersgaping met Suid-Afrika kan fondse aanmoedig om Namibië te verlaat en druk plaas op die reserwes wat die valutakoppeling ondersteun.
Hy het gesê Namibië kan sy buitelandse reserwes, wat einde Julie op N$57,1 miljard gestaan het – gelykstaande aan sowat 3,5 maande se invoerdekking – onder drie maande se invoerdekking sien daal indien laer rentekoerse toegelaat word in die hoop dat private krediet sal toeneem.
MEER VERSIGTIG
Die sentrale bank se direkteur van navorsing en ontwikkeling van die finansiële sektor en hoof-ekonoom, dr. Emma Haiyambo, het gesê ondernemings kies om bestaande lenings terug te betaal eerder as om bykomende skuld aan te gaan.
Haiyambo het gesê herhaalde internasionale skokke kan ondernemings meer versigtig maak om nuwe skuld aan te neem, aangesien maatskappye oorweeg of hulle lenings kan terugbetaal indien ekonomiese toestande versleg.
“Ja, daar is nie genoeg ekonomiese bedrywighede aan die gang nie; ons het ’n groeiprobleem, maar dit is omdat mense nie meer in ekonomiese bedrywighede belê nie,” het Haiyambo gesê.
Die bank se ekonomiese adviseur, Helvi Fillipus, het gesê swak kredietgroei weerspieël ’n dieper probleem in die ekonomie se struktuur.
Sy het gesê dit is moeilik om beduidende kredietgroei te bereik wanneer die ekonomie self nie genoeg bedrywighede voortbring nie.
Fillipus het gesê Namibië se bestaande ekonomiese struktuur het waarskynlik sy perke bereik en dat die land nuwe groei-enjins nodig het, insluitend opkomende bedrywighede in die olie- en gassektor.
Volgens haar kan Namibië sterker groei behaal wanneer daar geen droogte is nie en kommoditeitspryse gunstig is, maar sonder daardie voorwaardes sukkel die ekonomie om groei vol te hou.
BEPERKTE RUIMTE VIR GROEI
Fillipus het gesê die land het bykomende bronne van ekonomiese bedrywighede nodig en aangevoer dat die tradisionele dryfvere tans beperkte ruimte vir sterker groei bied.
Die regering het beperkte fiskale ruimte om groei aan te dryf, het sy gesê en bygevoeg dat huishoudings reeds onder druk is weens skuldlas en dat die netto-uitvoerkant van die ekonomie ook beperk is.
Die enigste potensiaal vir groei het, “is werklik om beleggings te stimuleer, beide binnelandse en buitelandse belegging en ek dink dis waarheen die gesprek moet beweeg,” het Fillipus gesê.
ONSEKERHEID OOR WETGEWING
Sy het verwys na ’n komitee wat deur president Netumbo Nandi-Ndaitwah aangestel is om ekonomiese herstel te ondersoek en opgemerk dat sommige van die aanbevelings daarop fokus om die sakeklimaat te verbeter.
Fillipus het gesê regulasies, administratiewe vereistes en ander reëls maak dit vir ondernemings moeilik om te funksioneer, terwyl onsekerheid oor wetgewing wat vir lang tydperke hangende gebly het, ook belegging terughou.
Volgens haar bied olie en gas een moontlike nuwe bron van bedrywighede, met ’n finale beleggingsbesluit wat moontlik ’n groot positiewe impak op die breër ekonomie kan hê.
Die Wêreldbank se huidige strategie vir Namibië vir 2025 tot 2029 beklemtoon die verstiging van ’n meer bevorderlike omgewing vir belegging in die privaat sektor om inklusiewe ekonomiese groei aan te vuur en werk te skep.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie