Die uitvoerende hoof van Namfisa, Kenneth Matomola. FOTO ARGIEF
Die uitvoerende hoof van Namfisa, Kenneth Matomola. FOTO ARGIEF

Begrafnispolisse het nie brieke nie

Kan uitgereik word sonder toestemming
Volgens Namfisa is daar tans geen statutêre perke ingevolge Namibiese wetgewing wat die aantal lewensversekering- of begrafnispolisse voorskryf wat op ’n enkele individu uitgereik mag word nie.
Rita Kakelo

’n Groot leemte in Namibië se regulatoriese raamwerk vir begrafnisversekering het na vore gekom nadat die Namibiese toesighoudende owerheid vir finansiële instellings (Namfisa) bevestig het dat versekeraars nie wetlik verplig is om toestemming te verkry van die persoon wie se lewe onder ’n begrafnispolis verseker word nie. 

Dit volg op vrae wat geopper is oor hoe begrafnis- en lewensversekeringspolisse op individue uitgereik kan word sonder hul medewete, veral in gevalle waar daar verskeie polisse by verskillende versekeraars bestaan. 

Die kwessie het weer nuwe aandag gekry ná onlangse beweringe dat begrafnispolisse op die lewe van ’n terminaal siek vrou uitgeneem is, wat meer vrae oor verbruikersbeskerming, toestemming en toesig binne die bedryf laat ontstaan het. 

In ’n skriftelike antwoord het Namfisa aan Network Media Hub (NMH) gesê dat versekeraars en tussengangers verplig is om ’n versekerbare belang vas te stel en te verifieer voordat dekking uitgereik word. Dit beteken die polishouer moet ’n voldoende noue verhouding met die versekerde lewe aandui en wys dat hulle ’n werklike finansiële verlies sou ly indien daardie persoon sou sterf. 

Die reguleerder het egter erken dat die huidige wetgewing nie so ver gaan om te vereis dat die versekerde lewe uitdruklik instem dat begrafnisdekking in hul naam uitgeneem word nie. 

“Hoewel die huidige wetgewende raamwerk nie spesifiek vereis dat versekeraars die toestemming van die versekerde lewe vir begrafnisdekkingpolisse moet verkry nie, word daar van versekeraars verwag om gesonde regs- en sakebeginsels toe te pas en voldoende behoorlike ondersoek te doen om die versekerbare belang vas te stel en onreëlmatighede op te spoor voordat dekking uitgereik word,” het Namfisa gesê. 

Namfisa het ook bevestig dat Namibië tans geen breë bedryfsmeganisme het wat burgers in staat stel om vas te stel of begrafnis- of lewensversekeringspolisse oor verskeie versekeraars heen op hul lewens uitgeneem is nie. 


VOLLEDIGE PRENTJIE VAN POLISSE

Versekeringsrekords word afsonderlik deur individuele maatskappye gehou, wat beteken dat ’n persoon teoreties polisse by verskeie versekeraars kan hê sonder dat enige enkele entiteit ’n volledige prentjie van die bestaande dekking het. 

“Op die oomblik is daar geen sentrale, breë bedryfsmeganisme wat individue in staat stel om te bepaal of lewensversekering- of begrafnisdekkingpolisse oor verskeie versekeraars heen op hul lewens uitgeneem is nie,” het die reguleerder verklaar. 


GROEIENDE KOMMER 

Hoewel sommige versekeraars interne stelsels het wat ontwerp is om oorversekering binne hul eie portefeuljes te identifiseer, het Namfisa gesê dit is nie bewus van enige bedryfswye databasis wat dekking oor alle versekeraars heen kan opspoor of monitor nie. 

Die afwesigheid van so ’n stelsel duur voort ondanks die bestaan van die Namfisa-riglyne I/STI/03/2015 en LTI/03/2015, wat vereis dat versekeraars en tussengangers meganismes instel om oor- en onderversekering te voorkom en polishouers in te lig oor die gevolge van albei. Meer as ’n dekade nadat die riglyn uitgereik is, het die reguleerder egter groeiende kommer erken oor oorversekering, wanvoorstelling en onetiese verkoopspraktyke in dele van die begrafnisversekeringsmark. 

Namfisa het ook bevestig dat klagtes van verbruikers ontvang is wat beweer dat begrafnis- of lewensversekeringspolisse met hul persoonlike inligting sonder hul medewete uitgeneem is. 

Volgens die owerheid behels hierdie klagtes tipies vermoedelike misbruik van persoonlike inligting, wanvoorstelling en onreëlmatige verkoopspraktyke. Wanneer sulke klagtes ontvang word, hersien Namfisa die ondersteunende dokumentasie, tree met die betrokke versekeraar in gesprek en doen stappe waar verbruikers benadeel is. 

Dit kan poliskansellasies, premie-terugbetalings en betrokkenheid met tussengangers insluit waar wangedrag geïdentifiseer word. 

Sake wat tekens van bedrog of kriminele optrede toon, kan ook na die Namibiese polisie (Nampol) vir ondersoek verwys word. 

Die reguleerder kon nie die aantal klagtes oor die afgelope vyf jaar verskaf nie en het gesê die syfers word nog geverifieer. 


GEEN PERKE

Nog ’n kwessie is dat Namibiese wetgewing geen beperking plaas op die aantal begrafnis- of lewensversekeringspolisse wat op ’n enkele individu uitgereik mag word nie. In plaas daarvan bepaal versekeraars die aantal en waarde van polisse op grond van hul eie onderskrywingspraktyke en produkvereistes. “Daar is tans geen statutêre perke ingevolge Namibiese wetgewing wat die aantal lewensversekering- of begrafnispolisse voorskryf wat op ’n enkele individu uitgereik mag word nie,” het Namfisa bevestig. 

Alhoewel daar geen wetlike perke is nie, het die owerheid gewaarsku dat buitensporige of dubbele begrafnisdekking wat hoofsaaklik vir finansiële gewin uitgeneem word, die beginsel van versekering ondermyn en verbruikers aan skade kan blootstel. 

Namfisa het gesê versekeraars en tussengangers bly verantwoordelik om die versekerbare belang te verifieer en om maatreëls te implementeer om oorversekering te voorkom op die punt waar die polis uitgereik word. Die reguleerder het nietemin erken dat al hoe meer risiko’s wat binne die begrafnisversekeringsmark kop uitsteek, noukeuriger ondersoek vereis. 

“Namfisa het toenemende kommer waargeneem wat verband hou met oorversekering, wanvoorstelling en onetiese verkoopspraktyke binne sekere dele van die begrafnisversekeringsmark,” het die owerheid gesê. 

Gevolglik het die reguleerder gesê dit verskerp sy betrokkenheid met versekeraars en tussengangers terwyl dit bykomende maatreëls evalueer om markgedrag en verbruikersbeskerming te versterk.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-07-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer