Waarde vir geld vir onderwys?

Phillipus Josef

Ekonoom Salomo Hei het bevraagteken of Namibië werklik waarde vir sy geld kry uit die miljarde wat in onderwys ingepomp word.

Hy het gewaarsku dat stygende begrotingstoekennings nie in beter resultate omgesit is nie.

Hei het die opmerkings Dinsdag tydens ’n voor-begrotingsbespreking gemaak wat deur die Ekonomiese Vereniging van Namibië aangebied is. Dit is knap voor die voorlegging van die wetsontwerp op verkryging van 2025-’26 wat na verwagting volgende week ter tafel gelê sal word.

“Ons skep hierdie enorme werkloosheidsprobleem en hierdie werkloosheidsprobleem gaan verder as die ongeskooldes,” het Hei gesê.

“Ons skep graduandi wat nou ongeskoold is, ,aar ons bestee soveel geld aan onderwys.”

Sy kommer raak die kern van die nasionale begroting. Die regering het N$24,8 miljard aan die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport kuns en kultuur vir die 2025-’26-boekjaar toegeken – die enkele grootste deel van die begroting van N$106,3 miljard wat in Maart verlede jaar deur die minister van finansies, Ericah Shafudah, ter tafel gelê is.

Oor die mediumtermyn-uitgaweraamwerk was die sektor bestem om N$76,1 miljard te ontvang.

Bo en behalwe dit, het Shafudah tydens die middeljaar-begrotingsoorsig in Oktober verlede jaar aangekondig dat N$814 miljoen vir die onderwysministerie voorgestel is. Hiervan is N$663 miljoen geoormerk vir registrasie- en klasgelde vir die eerste kwartaal van 2026 as deel van die beplande uitrol van gesubsidieerde gratis tersiêre onderwys.

Nóg N$151 miljoen is vir die werwing van 665 onderwysers toegeken.

Tog het Hei aangevoer dat groot toekennings alleen nie beter resultate waarborg nie.

“Ons moet ’n opbrengs op die belegging eis,” het hy gesê.

“Selfs al bestee jy geld aan salarisse, wat die bedryfsbegroting is, moet daar ’n opbrengs op daardie belegging in die onderwyser wees.”

’n Aansienlike deel van die onderwysbegroting gaan na personeelkoste, soos weerspieël in die breër bedryfsbegroting, wat vir 2025-’26 op N$79,8 miljard staan. Die ontwikkelingsbegroting, daarteenoor, is N$12,8 miljard.

Hei het bevraagteken hoe leerlinge met basiese geletterdheid en wiskunde sukkel, maar tog deur die stelsel kan vorder.

“Jy kan nie studente wat nie deur graad 12 kan kom om basiese geletterdheid en wiskunde te slaag nie, tot ’n universiteit toelaat nie,” het hy gesê, “want wat gaan daardie persoon dan studeer?”

Hy het ook kommer uitgespreek oor die vinnige groei van hoëronderwysinstellings en gesê dit kan akademiese standaarde verlaag.

“Jy kan nie net geld na ’n probleem gooi in die hoop jy los dit op nie,” het Hei gewaarsku.

Namibië se onderwysbesteding is lankal as pro-arm en pro-groei beskou. Maar met jeugwerkloosheid wat hardnekkig hoog bly, het Hei gesê die land moet eerlik wees oor of die huidige model werk.

Hy het die onderwysdebat aan die breër ekonomiese prentjie gekoppel, insluitend die verwagte olie- en gasoplewing en voorgestelde veranderinge aan die petroleumwet. Namibië, het hy gesê, moet vermy om vorige foute te herhaal wat in ander kommoditeitsiklusse gemaak is.

“Ons het ander kommoditeite ontdek en ons het onsself nie met glorie gebaai nie,” het Hei gesê.

Hy het na lande soos Noorweë verwys wat sterk staatskapasiteit opgebou en versigtig in hul hulpbronbasis belê het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-02-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer