Nuwe plan vir IGCSE en AS
Ná bekommernisse oor die matriekgroep van 2025 se Internasionale Cambridge (CI)- uitslae, het Windhoek Gimnasium onlangs ‘n aangepaste implementeringsplan aangekondig om toekomstige leerlinge beter te ondersteun en hul kans op sukses in die IGCSE- en AS-vlakke te verhoog.
Volgens die skool se verklaring aan ouers het interne ondersoeke en besprekings tot die duidelike gevolgtrekking gelei dat meer tyd en fokus aan AS-vlakke toegeken moet word, terwyl IGCSE-leerlinge steeds die vereiste punte moet behaal om suksesvol na AS te vorder.
Die nuwe plan bepaal dat graad 10-leerlinge reeds in Oktober 2026 hul eksterne IGCSE-eksamens in Duits, Afrikaans en Engels sal aflê, wat hulle twee jaar sal gee om die AS-inhoud vir hierdie vakke te voltooi.
Die res van hul vakke sal in Mei 2027 geskryf word, wat 18 maande se voorbereiding vir AS-vlakke bied. Huidige graad 9-leerlinge begin met die IGCSE na die middeltermyn-vakansie in Maart en sal aan die einde van graad 10 hul eksamens aflê, wat ook vir hulle twee jaar se voorbereiding (in graad 11 en graad 12) vir AS-inhoud sal bied.
Alle leerlinge van graad 10 tot graad 12 sal in Maart die Engelse Cambridge internasionale eksamens (CIE)-eksamens aflê, afhangende van beskikbare eksamenlokale en skedulering.
Die skool sal bykomende ondersteuning in wiskunde, fisika, chemie en Engels bied, terwyl fisiese opvoedingstye aan Engels en wiskunde heraangewys word om die nodige onderrig-ure te verhoog.
Graad 12-leerlinge sal die hele dag op skoolterrein moet wees en onder toesig studiesessies tydens af-periodes bywoon. Graad 8- en graad 9-leerlinge sal hul IGCSE-vakke kies en ‘n nuwe rooster vanaf April 2026 sal vir ekstra tyd vir wiskunde en wetenskappe sorg deur een vak te laat val.
Verder sal elke skooldag in die hoërskool een ekstra les vir alle leerlinge insluit.
Die skool het ook ‘n gedetailleerde rooster gedeel wat wys hoe die huidige leerlinge van graad 9 tot graad 12 se IGCSE- en AS-vlakke oor die volgende paar jaar sal verloop, met oorgang na die volle AS-voorbereidingsvenster van twee jaar teen 2028-’29.
Windhoek Gimnasium glo dat hierdie strategie deur ekstra tyd vir AS-vlakke toe te ken, die beste ondersteuning vir leerlinge bied.
“Ons vertrou dat hierdie benadering positief deur ouers en leerlinge ontvang sal word en dat alle onderwysers en leerlinge saam sal werk om sukses in die eksterne Cambridge Internasionale eksamens te verseker,” lui die verklaring.
Die aanpassing spruit uit ouers en leerlinge van die 2025-matriekgroep se bekommernisse wat in die openbaar uitgespreek is oor die vinnige oorgang na die Cambridge Internasionale leerplan en die gevolglike daling in finale punte.
Met die nuwe plan hoop die skool om daardie uitdagings vir toekomstige groepe te vermy en die akademiese en emosionele ondersteuning te versterk.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie