NTA onder vergrootglas
Die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het ’n klagskrif ontvang waarin bewerings van bestuursmislukkings en onreëlmatighede in verkryging binne die Namibië Opleidingsowerheid (NTA) uiteengesit word.
Die uitvoerende direkteur in die ministerie, Erastus Haitengela, het bevestig die ministerie het die klagskrif ontvang en dat hulle besig is om die saak te ondersoek.
Dit volg op ’n ongedateerde klagskrif van ’n anonieme bron, wat aan die onderwysministerie gerig is en Network Media Hub (NMH) onder oë gehad het, wat dringende ingryping van die regering versoek, met verwysing na ’n “bestuursvakuum” wat ontstaan het nadat daar vroeër vanjaar besluit is om nie die ampstermyn van die NTA-raad te verleng nie.
Volgens die dokument het dié situasie daartoe gelei dat besluite buite die omvang van gevestigde protokolle geneem is, met twyfelagtige goedkeuringsprosesse vir belangrike infrastruktuurprojekte.
In reaksie op navrae rakende die klagskrif, het Haitengela gesê die ministerie het die dokument ontvang en is “besig om die bewerings deeglik te hanteer”.
“Daar is nie so iets soos ’n ‘vakuum’ wat deur die afwesigheid van die raad geskep word nie.
“Die NTA is ’n entiteit in staatsbesit wat onder die onderwysministerie val en ons is in noue kontak met die bestuur en alle nodige goedkeurings word toepaslik deur die ministerie toegestaan.
“Sommige van die kwessies wat geopper word, is oor nalatenskapkwessies wat reeds daar was, selfs met die raad wie se termyn geëindig het soos ander rade se ampstermyn,” het hy gesê en bygevoeg dat die saak die ministerie se “uiterste aandag” geniet.
Verskeie projekte oraloor die land se beroepsopleidingsentrums (VTC’s) word in die klagskrif genoem. Dit sluit die dormante Okakarara VTC-hotelskool in, wat sedert 2019 vertraag word en nou onderhewig is aan litigasie en finansiële risiko’s vir die regering.
Ander projekte wat gelys word, sluit die Khorixas VTC-koshuis, die Keetmanshoop VTC-uitbreiding, Gobabis VTC se nuwe koshuis en die Nkurenkuru VTC-koshuis in, wat in die dokument verbind word met bewerings van onreëlmatighede in verkryging, wanbestuur van omvang (scope) en kostestygings.
Luidens die klagskrif dui hierdie herhalende kwessies op moontlike sistemiese tekortkominge binne die NTA se raamwerk vir projekbestuur en toesig. Kommer word ook geopper oor verkrygingsprosesse wat moontlik wetlike en wetgewende prosedures gesystap het, wat straks tot vertragings en finansiële risiko bydra.
’n Deeglike ondersoek na die bewerings is aangevra, insluitend ’n onafhanklike ondersoek na verkrygings- en bestuurspraktyke by die NTA. Dit beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om doeltreffende toesigmeganismes te herstel om openbare hulpbronne te beskerm en die voltooiing van infrastruktuurprojekte vir beroepsopleiding landswyd te verseker.
In die lig van dié bekommernisse word daar ’n beroep op die minister gedoen om ’n onafhanklike ministeriële ondersoek na bestuurs- en verkrygingspraktyke by die NTA van stapel te stuur en om ’n forensiese oudit van die geïdentifiseerde kapitaalprojekte uit te voer.
Die saak moet na die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) verwys word vir verdere ondersoek indien nodig en die ouditeur-generaal moet opdrag kry om finansiële en verkrygingsnakoming te hersien, volgens die klagskrif.
’n Beroep is ook gedoen op die dringende aanstelling of herinstelling van die NTA-raad om behoorlike bestuur te herstel, tesame met ’n hersiening van besluite wat geneem is in die afwesigheid van ’n aktiewe raad.
Dit beklemtoon die noodsaaklikheid om streng nakoming van die wet op openbare verkryging en ander toepaslike wette te verseker, enige individue wat verantwoordelik is vir wangedrag of ongerymdhede aanspreeklik te hou en regstellende maatreëls te implementeer om die bestuur en toesig binne die NTA te versterk.
Laastens word ’n formele skriftelike antwoord versoek wat die ministerie se beoogde plan van aksie uiteensit.
REAKSIE
In reaksie op die bewerings het die NTA se bestuurder vir korporatiewe kommunikasie en bemarking, Mornay Louw, gesê die opleidingsowerheid is bewus van “ongeverifieerde bewerings wat in ’n ongetekende klagskrif vervat is” en aan die onderwysminister gerig is.
Hy het ook gesê ’n anonieme bron het die klagskrif op sosialemediaplatforms versprei en waaroor sommige plaaslike mediahuise berig het.
“Die NTA lewer gewoonlik nie kommentaar op gerugte nie. Nietemin, met die inagneming van die klagskrif se kwaadwillige gedrag (deportment), het ons egter onmiddellik ’n interne hersiening en beoordeling van die ernstige bewerings wat dit bevat, begin.
“Terwyl dié proses aan die gang is, sal ons nie kommentaar oor hierdie saak lewer nie. Ons sal gepaste stappe doen op grond van die bevindinge van hierdie hersiening en sal opdaterings verskaf soos nodig,” het Louw aan NMH gesê.
Hy het opgemerk dat die NTA die hoogste standaarde van korporatiewe bestuur en deursigtigheid in al sy saketransaksies handhaaf en daartoe verbind bly, in ooreenstemming met Namibië se regs- en regulatoriese raamwerke.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie