N$2 100 kniehalter studente se eksamens
Studente aan die Nursing Training Institute of Technology op Ongwediva is na bewering verhinder om hul eksamens, wat vir gister om 10:00 geskeduleer was, af te lê ná ’n geskil oor klasgeld.
Die verpleegstudente het aan Network Media Hub (NMH) gesê die opleidingsentrum se direkteur, George Zekka, het hulle verlede Woensdag ingelig dat hulle N$2 100 moet betaal om toegelaat te word om te skryf.
Uit 52 studente, het hulle gesê, kon slegs vyf daarin slaag om dié bedrag voor gister te betaal.
“Ons betaal gewoonlik N$950 per maand, wat ons reeds op 3 Julie betaal het. Verlede week Woensdag het direkteur George Zekka vir ons gesê as iemand sou versuim om die N$2 100 te betaal, ons nie die eksamen sou skryf nie,” het die studente gesê.
Hulle het die kort kennisgewing as onregverdig beskryf en bygevoeg dat hulle reeds hul klasgeld vir Julie vereffen het.
BELEID
In reaksie hierop het Zekka egter gister aan Republikein gesê die instelling se beleid oor die vereffening van uitstaande klasgeld voor eksamens geskryf word, is duidelik.
Zekka het verduidelik diegene wat die N$950 betaal het, steeds N$1 150 aan die instituut verskuldig was – wat die totaal op N$2 100 te staan bring – en het hulle aangemoedig om nie tot op die laaste nippertjie te wag om reëlings te tref nie.
“As studente eksamens misloop weens uitstaande klasgelde, weet hulle watter prosedures gevolg moet word en kan hulle vir die aanvullende eksamenperiode aansoek doen.
“Daar was genoeg tyd om oor betalingsreëlings te kommunikeer. Elke instelling het sy eie beleid wat nagekom moet word. Dit is duidelik dat jy nie die eksamen sal skryf as jy nie jou klasgelde vereffen nie,” het hy gesê.
Zekka het gesê sommige studente het sy kantoor genader om betalingsreëlings te tref – wat toegestaan is, sodat hulle die eksamen kon aflê. Hy het egter bygevoeg dat sommige studente “nie daarvan hou om by beleide te hou nie”.
“Ons het studente wat elke dag N$30 betaal net om te verseker dat hulle hul uitstaande klasgeld vereffen en hulle is dankbaar omdat dit vir hulle makliker is,” het Zekka gesê.
VERTRAGINGS
Benewens die kwessie rakende die eksamen, het studente ook misnoeë uitgespreek oor vertragings met die ontvangs van hul verpleegsertifikate en uniforms, waarvoor hulle glo reeds in Junie verlede jaar betaal het.
Hulle het gesê ander verpleegskole het reeds met hul praktiese opleiding in hospitale begin, terwyl hulle nog nie daarmee begin het nie.
Oor die kwessie van sertifikate, het die direkteur gesê die vertragings was buite die instelling se beheer.
“Ons het alles by die regulerende liggaam, die Verpleegkundige Raad van Namibië, ingedien, en omdat daar baie ander instellings is, neem die proses tyd.
“Ek onthou ons het in 2024 aansoeke om verpleegsertifikate vir ons studente ingedien, maar dit eers in 2025 ontvang het. Ons wag net,” het hy gesê.
Wat die uniforms betref, het Zekka gesê die vorige kleremaker het versuim om die uniforms te lewer.
“Ons het Vrydag reëlings met ’n nuwe kleremaker getref wat elke week 60 uniforms sal lewer. Alle uniforms en verpleegsertifikate sal uitgesorteer word. Sommige studente verwag hul goed onmiddellik nadat hulle betaal het, maar daar is ’n proses en dit verg geduld,” het hy verduidelik.
Pogings om kommentaar van die Namibië Nasionale Studenteorganisasie (Nanso) te verkry, was teen druktyd onsuksesvol. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie