Huiseienaars in die hoofstad kou klippe om hul verbandlenings terug te betaal. Foto verskaf
Huiseienaars in die hoofstad kou klippe om hul verbandlenings terug te betaal. Foto verskaf

Huiseienaars sukkel

Hoë stedelike kostes
Volgens die Bank of Namibia het die land se wanpresterende verbandlenings (NPL’s) tot hul laagste vlak in vyf jaar gedaal, selfs terwyl sommige huishoudings steeds met terugbetalings worstel.
Phillipus Josef

Sommige huishoudings in Windhoek ondervind steeds uitdagings om huislenings terug te betaal met hoë lewenskoste en ander uitgawes wat druk op begrotings plaas, selfs terwyl die nasionale verbandsektor verbetering toon.

Ekonoom Almandro Hansen van Simonis Storm het aan Network Media Hub (NMH) gesê dat die toename in die terugneem van eiendom in Windhoek hoër lenings en blootstelling aan formelesektor-inkomstesiklusse in die hoofstad weerspieël.

Hy sê huishoudings is ook meer blootgestel aan stagnante salarisse, geen bonusse of korporatiewe herstrukturering, wat die terugbetalingsvermoë vinnig kan raak. Hansen het bygevoeg dat die kumulatiewe uitwerking van vroeëre tydperke van hoë rente en voortgesette inflasiedruk steeds huishoudelike terugbetalings beïnvloed.

Standard Bank se ekonoom, Helena Mboti, het gesê hoewel algehele inflasie in Januarie 2026 tot 2,9% jaar-op-jaar verlaag het, behuisingsverwante koste steeds byna die helfte van die inflasiekoers uitmaak – ’n aanduiding dat druk op huishoudings nie in dieselfde mate afgeneem het nie.

Sy meen middelinkomste-huishoudings wat verbande saam met ander finansiële verpligtinge dra, veral geraak word.


NPL-KOERS

Ten spyte van hierdie plaaslike uitdagings het die Bank of Namibia (BoN) gerapporteer dat wanpresterende verbandlenings (NPL’s) landswyd ’n vyfjaar-laagtepunt bereik het.

BoN se kommunikasiebeampte, Naufiku Hamunime, het gesê die NPL-koers het van 6,3% in September 2025 tot 5% in Desember 2025 gedaal.

“Die verbetering word grootliks toegeskryf aan inflasie en die verslapping van die monetêre beleid oor die tydperk wat die las op beide verbruikers en ondernemings verminder het, tesame met invorderings en die afskryf van NPL’s binne die verbandsektor,” het hy gesê.

Algemene NPL’s het ook tot 4,3% gedaal, die laagste punt in drie jaar, gesteun deur ekonomiese herstel ná die 2024-droogte.

Hamunime het bevestig individue bly steeds die hoofleners wat deur probleme met terugbetalings geraak word weens hoë huishoudelike skuldvlakke en werkloosheid.


HUISHOUDELIKE SKULD

Huishoudelike skuld, insluitend huisverbande, het in 2025 met 2,7% gegroei – onder die gemiddeld van tien jaar van 5% – en korttermynlenings het steeds oorheers.

Die aandeel van verbandkrediet tot totale banklenings het relatief van 33,4% in 2024 tot 32,4% teen die einde van 2025 gedaal.

Volgens Hamunime bly kredietrisiko-blootstelling laag met handelsbanke wat voldoende kapitaal het en dit hou geen beduidende risiko vir finansiële stabiliteit in nie.

Om wanbetalings te verminder, het BoN in 2025 ’n riglyn uitgereik dat handelsbanke die gaping tussen die repokoers en die prima uitleenkoers met 0,25% in twee skuiwe moet verklein – in Augustus en November.

Die bank het ook sy riglyne oor bateklassifikasie, opskorting van rente en voorsiening in Maart 2024 hersien, wat banke toelaat om verligting te bied aan goeie leners wat in nood verkeer – maar steeds lewensvatbaar bly – en hulle tyd gun om hul skuld af te betaal.


RISIKO’S

Hansen het gesê die huishoudings wat die grootste risiko loop, sluit dié met hoë lening-tot-inkomste-verhoudings, blootstelling aan veranderlike koerse, klein spaargeldbuffers en opgehoopte skuld, insluitend voertuiglenings, in.

Hy het bygevoeg dat ’n matige styging in wanbetalings uitleenstandaarde kan beïnvloed en behuisingstransaksies kan vertraag, veral in die middelmark- en intreevlaksegmente, terwyl gesogte liggings relatief stabiel bly.

Mboti het aangedui dat ingrypings deur die regering soos finansiële onderrig, tydelike verligtingsmaatreëls en vroeë skuldherstrukturering, huishoudings kan help om terugbetalings te bestuur.

Sy het gesê volgehoue huishoudelike skuldstres kan private verbruik en die breër ekonomie oor die volgende jaar of twee beïnvloed, afhangende van hoe terugbetalingsprobleme ontwikkel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer