Conradie, Damases ná 14 jaar skuldig
In ’n marathon-korrupsiesaak van 14 jaar en uitspraak van 74 bladsye het hoërhofregter Thomas Masuku Dinsdag die voormalige MTC-raadsvoorsitter en Windhoekse prokureur Dirk Conradie (66) en Sara Damases (61), skuldig bevind.
Dit behels dat hulle omkoopgeld gevra en probeer bekom het om die toekenning van ’n MTC-advertensiekontrak van N$60 miljoen te beïnvloed.
Die saak is reeds in 2012 deur die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) aanhangig gemaak en hou verband met aanklagte van korrupsie, sameswering om korrupsie te pleeg en, in Conradie se geval, misbruik van sy magsposisie.
Die saak, wat sedert 2013 voor die hof dien, het aanklaers se bewerings behels dat die twee wou hê Damases moes as ’n swart bemagtigingsvennoot vir die advertensiemaatskappy DV8 Saatchi & Saatchi aangestel word, in ruil daarvoor dat die maatskappy die tender wen.
Masuku het gesê Conradie, wat in 2012 die MTC-direksie gelei het, het sy posisie misbruik om die verkrygingsproses te beïnvloed, ondanks reëls van die MTC-direksie wat tenderaars verbied het om met enigiemand anders as die aangewese verkrygingsbeamptes in gesprek te tree.
Die regter het die vergadering met DV8-direkteure as “roekeloos, onwettig en ’n verraad teenoor die MTC-raad van direkteure” beskryf en daarop gewys dat die tenderinligting streng vertroulik was.
Hoewel die hof albei skuldig bevind het aan korrupsie en die sameswering om ’n misdryf te pleeg, is Conradie vrygespreek op ’n aanklag van die gebruik van ’n openbare amp vir selfverryking, nadat die staat nie kon bewys dat MTC ’n openbare maatskappy is en dat Conradie ’n staatsamptenaar was nie.
HUISVRIENDE
Toe Conradie tydens die verhoor sy betoë gelewer het, het hy aan die hof gesê dat sy verhouding met Damases op sosiale vlak begin het en hulle het by mekaar se huise gekuier.
Die vriendskap het aanvanklik gegroei deur Damases se destydse man, Peter Damaseb, wat beskryf is as uiters na aan Conradie.
Die hof het ook gehoor dat Conradie en Damaseb gedurende hul tyd as praktiserende prokureurs regsartikels met mekaar sou deel.
Conradie en Damases het na bewering die eienaars van DV8 Saachi & Saachi, Mark Bongers en Kim Field, probeer oortuig om Damases as ’n swart bemagtigingsvennoot aan te stel.
Bongers het in sy getuienis op 22 Mei 2018 gesê Conradie het by ’n vergadering in Junie 2012 verduidelik hoe hy as sleutelbesluitnemer die stemproses sou swaai sodat hulle die kontrak sou kry.
Bongers was na bewering nie hiervoor te vinde nie en het die verwikkelinge onder die aandag van die ACC gebring.
’n Opname van die gesprek in Conradie se kantoor tussen hom, Damases, Bongers en Field is destyds in die hof gespeel.
Conradie en Damases het in Maart 2016 onskuldig gepleit en is op borgtog van N$30 000 elk vrygelaat.
Nadat hulle skuldig bevind is, het Masuku beveel dat hulle elke Vrydag aan die polisie moet rapporteer terwyl hulle vir hul vonnisoplegging wag. Hy het die saak tot 26 Februarie uitgestel.
Die staat word deur advokaat Ed Marondezde verteenwoordig. Vas Soni in opdrag van Slysken Makando verdedig vir Conradie en Vetu Uanivi vir Damases.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie