Foto ter illustrasie/Aranos-dorpsraad
Foto ter illustrasie/Aranos-dorpsraad

Aranos-polisiemanne kry borgtog

Ongeluk met koedoe pootjie vleislus
Veediefstal floreer in die Kalahari en elders in die land met talle onopgeloste sake en polisiebeamptes wat glo betrokke is.
Augetto Graig

Drie Namibiese polisiebeamptes wat van veediefstal aangekla is, is gister op borgtog van N$1 000 elk in die Aranos-landdroshof vrygelaat. 

Staatsaanklaer Vensislaus Mbambo het gister aan Network Media Hub (NMH) bevestig dat Jakobus Kharuxab, Melchior Mongake en Fritz Esterhuizen op klagte van veediefstal vir die onwettige besit van vleis en die oortreding van die wet teen korrupsie vir ampsmisbruik aangekla is. Esterhuizen staar ’n bykomende klag van roekelose bestuur in die gesig.  

Die saak spruit voort uit die drie polisiemanne wat Vrydagaand op Aranos in hegtenis geneem is nadat hulle glo met ’n skaapkarkas en twee sakke binnegoed in hul besit gevind is.

Die arrestasies volg op ’n motorongeluk op die M32-grondpad tussen Aranos en Gochas Woensdagaand. Volgens die Namibiese Polisie (Nampol) se naweekmisdaadverslag het die polisiebakkie ’n koedoe omstreeks 23:00 sowat 15 km buite Aranos getref. Volgens Nampol se hoofwoordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, is die drie polisiemanne ná die ongeluk in besit van die vleis betrap.

Hulle het na bewering die vleis ter waarde van ongeveer N$2 000, van ’n plaaswerker en sonder die medewete van die plaaseienaar, op ’n plaas ongeveer 15 km buite die dorp gekry. Die vleis is gekonfiskeer. 

Aranos-boer Dirk Kotze, wat herhaaldelik onder gevalle van veediefstal deurgeloop het en verskeie onopgeloste sake by die Aranos-polisiekantoor aanhangig gemaak het, het Sondag gesê die boeregemeenskap en inwoners van die dorp beplan om ’n klagskrif teen die toestaan van borgtog in te dien. 

Teen 14:00 gister het Mbambo egter nog nie die klagskrif ontvang nie en was die staatsaanklaer nie van plan om borg teen te staan nie. Die eerste verskyning van die verdagtes sou al gisteroggend plaasgevind het, maar was weens ’n tekort van landdroste vertraag, het Mbambo gesê. 

Volgens die staatsaanklaer is die drie beskuldigdes borgtog toegestaan op voorwaarde dat hulle nie met die ondersoek inmeng nie. Hy het bevestig dat die ondersoek in ’n gevorderde stadium is met die meeste van die polisieverklarings wat reeds afgeneem is. 

Kwessies van veediefstal en swak polisieondersoek is al tot by die kantoor van inspekteur-generaal van Nampol, luitenant-generaal Joseph Shikongo gebring. 

Volgens Kotze het kommunikasie vanaf die hoofkantoor einde verlede jaar belowe dat ’n datum vir Shikongo se persoonlike besoek op Aranos se boere teen 9 Januarie bevestig sou wees. Geen verdere kommunikasie is egter sedertdien vanaf die Nampol-hoofkantoor in Windhoek ontvang nie.

Volgens die jongste polisieverslag is ’n veediefstal ook op Stampriet aangemeld. Tussen Woensday 28 Januarie en verlede Vrydag het ’n verdagte na bewering sonder toestemming ’n donkiekar en drie perde ter waarde van ongeveer N$15 000 op die plaas Oniva gesteel, wat teruggevind is. Die ondersoek duur voort.

[email protected]

 

Kommentaar

Republikein 2026-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer