• Tuisblad
  • CRIME
  • Aanhoudingselle: 24 sake van sodomie, verkragting

Aanhoudingselle: 24 sake van sodomie, verkragting

IPC: Polisie help met smokkelary
Volgens die IPC is “ontelbare klagtes” is by stasiebevelvoerders aangemeld, met bewerings dat gevangenes geld van mede-aangehoudenes afpers.
Elizabeth Kheibes

Ten minste 52 gevalle van afpersing, sodomie of verkragting, en smokkelary van verbode goedere is sedert die 2023-’24-boekjaar in polisie-aanhoudingselle oraloor Namibië aangeteken.

Die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, Lucia Iipumbu, het die syfers in die Nasionale Vergadering bekend gemaak terwyl sy gereageer het op ’n vraag deur die Independent Patriots for Change (IPC) se adjunkskaduminister, Vilho Ihemba, wat kommer uitgespreek het oor beweerde misdaad en mishandeling in polisieselle landswyd. 

Volgens die minister is 17 gevalle van afpersing oor die drie jaar aangeteken – vier in 2023-’24, sewe in 2024-’25 en ses in 2025-’26. 

Gevalle van sodomie en verkragting was die grootste kategorie, met 24 voorvalle wat aangeteken is - vyf in 2023-’24, nege in 2024-’25 en tien in 2025-’26. Nog 11 sake het verband gehou met die insmokkel van smokkelgoed in aanhoudingselle, insluitend twee sake in 2023-’24, ses in 2024-’25 en drie in 2025-’2.

Ihemba het gesê “ontelbare klagtes” is by stasiebevelvoerders aangemeld, met bewerings dat gevangenes geld van mede-aangehoudenes afpers en dat ernstige misdade gepleeg word “in volle sig van polisielede”.

“Dit het oor die afgelope jare ’n toenemende bekommernis vir die burgers van Namibië geword, veral met betrekking tot die huidige stand van sake by polisiekantore landswyd,” het hy gesê.

Hy het verder beweer dat “kwesbare oortreders deur gevangenes gesodomiseer word en min word gedoen om dit te voorkom”.

Ihemba het bygevoeg dat smokkelware in selle ingesmokkel word “deur misdadigers in samewerking met sommige polisielede”.

“Hierdie korrupte praktyke het die publiek se vertroue in Nampol ondermyn,” het Ihemba gesê, en aangevoer dat dringende en blywende oplossings nodig is.

In reaksie hierop het Iipumbu gesê die ministerie het ’n proaktiewe benadering aanvaar deur gereelde seldeursoekings te verseker om smokkelware uit te skakel en beamptes te monitor wat moontlik probeer om verbode items in te smokkel.

“Alle gekonfiskeerde smokkelware, insluitend voorwerpe en drade, word vernietig om die veiligheid van die fasiliteite te verseker,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat gevangenes wat met verbode items betrap word, dienooreenkomstig hanteer word, terwyl beamptes wat by smokkelary betrek word, aanspreeklikheid in die gesig staar ingevolge regulasie 15 van die Polisiewet, Wet 19 van 1990, soos gewysig.

Kontant wat tydens deursoekings gekonfiskeer word, word direk in die staatsbankrekening inbetaal.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer