40 000 aansoeke – 2 000 poste
Nuusredaksie - Byna 40 000 aansoeke is ontvang om die Namibiese polisie (Nampol) se 2 000 poste vir kadetkonstabels te vul.
Die kandidate op die kortlys moet nou deur ’n reeks evaluerings gaan, voordat basiese opleiding in Oktober begin. Die werwingveldtog wat vandeesmaand van stapel gestuur is, sluit 1 000 poste in wat oop is vir die algemene publiek, 150 poste wat op voormalige speurders en individue met gespesialiseerde vaardighede gemik is en 600 poste vir lede van die Nasionale Jeugdiens (NYS). Kandidate uit forums vir misdaadvoorkoming en ander professionele kategorieë kan ook vir laasgenoemde in aanmerking kom.
Die gespesialiseerde inname sluit kandidate in met ervaring in kommersiële misdaad, beskermde hulpbronne, geldwassery, wetstoepassing rakende dwelms en mensehandel, asook kwalifikasies in regstudies, polisiëringsverwante rigtings, rekenaarwetenskap met kuberveiligheid as hoofvak en finansiële of kommersiële studies.
Nampol se nasionale woordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, sê die aansoeke is van oraloor die land ontvang. Ná die aanvanklike verifikasie- en siftingsproses het elke streek, volgens Shikwambi, meer as 200 kandidate op 'n kortlys geplaas. Kandidate op die kortlys word tans aan verdere evaluerings onderwerp wat vaardigheid in Engels, mediese ondersoeke, fiksheid en verifikasie van vingerafdrukke insluit.
Met voltooiing sal 71 kandidate uit elke streek vir werwing en toelating tot die basiese opleiding gekies word. Sy het beklemtoon geen geld word vir werwing of toelating vereis nie. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie