Hulle kies Mej. Tiener 2025

Henriette Lamprecht
Die organiseerders van die Mej. Tiener-kompetisie het die name bekend gemaak van die vyf beoordelaars op wie se skouers die taak rus om vanjaar se mooiste tiener aan te wys.

Beaulah Boois-Beukes het ’n meestersgraad in media en is ’n bestuurder vir openbare betrekkinge by die NBC, met meer as tien jaar se ondervinding in die veld. Sy is ook ’n regisseur van kortfilms, stemkunstenaar en is onlangs as ’n lid van die raadgewende komitee vir programme vir die BA-honneursprogram in kommunikasie aan die Universiteit van Wetenskap, Kuns en Tegnologie (Nust) aangewys. Beaulah was verlede jaar en is ook vanjaar ’n beoordelaar vir die Mej. Namibië-kompetisie.

Deur haar skryfwerk en kreatiewe leiding het die gekwalifiseerde kunsdirekteur, skrywer, aanbieder en blogskrywer Charene Labuschagne die talente van verskeie opkomende Namibiese talent en kleinsakeondernemings geslyp. Sy werk ook in bemarking en produkontwikkeling vir Emssence.

Bertha Amakali is die direkteur van inligting en navorsing vir openbare diplomasie by die ministerie van internasionale betrekkinge en handel en het ’n meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Wallis verwerf. Sy spog met meer as 20 jaar se ondervinding in die gedrukte en uitsaaimedia en was voorheen ook verbonde aan Nust as dosent en adjunkdepartementshoof.

Georgia Garises het op die jong ouderdom van 20 reeds haar merk in die skoonheidsbedryf as ’n model en smaakmaker gemaak. Sy is verlede jaar as tweede prinses in die Mej. Namibië-kompetisie aangewys en het Namibië by die Mej. Sjarme-kompetisie in Viëtnam verteenwoordig waar sy onder die toptien geëindig het.

As modeontwerper, visuele kunstenaar, kunsinstrukteur, onderwyser en geleentheidsbeplanner is Jaimee-Lee Diergaardt passievol oor die kunste. Sy is die eienaar van Something-Artsy, ’n onafhanklike kunsateljee en Et cetera, ’n geleentheidsmaatskappy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer