Woordsmous by FNB Windhoek Woordfees

Boekgesprek met Krit
Francoise Steynberg
Op die foto op die voorblad van Seun pryk ’n sesjarige borselkop op ’n glyplank in Swakopmund.

Dana Snyman se bande met Namibië lê diep toe sy pa, Coenraad, ’n predikant op Grootfontein was.

Hul huisvriende was die bekende wyle Jors en Johanna Ströh van die plaas Omsons Wes wat beteken die Here sal voorsien.

As enigste kind met ’n groot verbeelding het hy vertel hy was “as half droomverlore gebore en op die ouderdom van vier al op my eie plaas in die noorde van die ou Suidwes geboer”.

Op Dinsdag 21 Oktober sal Namibiërs die geleentheid kry om by die FNB Windhoek Woordfees vir Dana Snyman in Windhoek te ontmoet. Om 18:30 sal Eddie Turner met hom in ’n Krit-boekgesprek by die NG Kerk Windhoek-Oos wees oor Dana se jongste boeke, Seun en Wie de hel is Johnny Joubert?.

Dana noem homself eerder ’n joernalis as ’n skrywer, eintlik ’n storiesmous.

Ná ’n kort, onsuksesvolle universiteitsloopbaan, werk hy onder meer as veiligheidswag, skakelbordoperateur en boekwinkelklerk.

“Met die genade van Bo” beland hy in die joernalistiek waar hy as misdaadverslaggewer by Beeld saam met wyle Ronelle Rademeyer, voormalige nuusredakteur van Republikein, gewerk het. Sy het talle staaltjies oor Dana vertel, veral hoe ondeund hy was.

Daarna skryf hy vir Huisgenoot oor enigiets van bomontploffings tot die wêreld-kettieskiet-kampioenskappe. Van 2004 tot 2008 was hy die reistydskrif Weg se reisskrywer. Sy rubrieke en stories verskyn steeds gereeld in dagblaaie en tydskrifte. Vir sy skryfwerk het Dana reeds talle toekennings ingeryg en sy boeke is ook telkens topverkopers.

Hy beskryf homself as geen literêre reus nie, maar skryf sy stories so beskrywend en kleurryk soos poskaartfoto’s in jou geestesoog en sonder fiemies. Dana skryf vir die gewone man en vrou op straat, Jan Alleman, die barmhartige samaritaan, tant Sannie van Gochas, die rugbyliefhebber, die een wat alles verloor het en die een vir wie die “Swarthond” om elke hoek en draai loer.



SEUN

“Hy het ons nooit in die brandkluis van sy hart toegelaat nie, maar in Seun deel Troep 78302494BG vir die eerste keer sy skaamte van Saal 24 en sy oneervolle ontslag uit die weermag met lesers,” het skrywer Stefaans Coetzee in sy resensie op LitNet geskryf.

In Wie de hel is Johnny Joubert? deel Dana sy notas van ’n rugbyliefhebber. Sy verbintenis met rugby kom van ver af – van klubrugby op stowwerige dorpsvelde tot die glorie van drie Wêreldbekers vir die Springbokke. Sy eerste rugbybal was nogal ’n geskenk van Dok Craven.

Kaartjies kos N$50 by die deur en bespreek vooraf by Susan Alexander by 081 272 20459 of Elizma Theron by 081 122 4110. Dana se beskikbare boeke sal deur Windhoek Book Den te koop aangebied word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer