Watter flieks gaan jy dié maand kyk?

The Movie Guy: Resensie
Barry de Klerk


Dis uiteindelik tyd om gruwelflieks te kyk, maar om een of ander rede word daar nie vandeesmaand baie gruwelflieks uitgereik nie.

Daar is wel ’n paar interessante flieks wat uitkom, maar om eerlik te wees, gaan ek dalk ’n paar daarvan misloop. Ek sien uit na Tom Cruise se nuwe fliek, Digger, asook na Street Fighter. Dit lyk asof dit baie pret kan wees. 

Hier is waarna jy hierdie maand in bioskope kan uitsien.


2 Oktober

Verity

Verity, wat op Colleen Hoover se roman gebaseer is, volg die sukkelende skrywer Lowen Ashleigh. Sy word aangestel om die werk van die topverkoper-skrywer Verity Crawford te voltooi nadat Verity ná ’n ongeluk nie meer in staat is om self te kan skryf nie.


Digger

Tom Cruise se jongste, en regisseur Alejandro G. Iñárritu se nuwe fliek, lyk uniek. Cruise vertolk die rol van ’n uiters magtige man wat ’n desperate missie aanpak om te bewys dat hy die mensdomvan ’n ramp kan red wat hy self veroorsaak het.


9 Oktober

Tony

Anthony Bourdain was ’n legendariese sjef, skrywer en televisiepersoonlikheid wat wêreldwyd bekend was, maar voor dit was hy onseker oor wat hy in die lewe wou hê. Tony neem gehore terug na 1976, ek het dit gekyk en ek is mal daaroor.


Just Play Dead

Samuel L. Jackson en Eva Green pak mekaar in hierdie donker misdaadriller aan. Dit klink na pret, maar lyk ook soos ’n B-film.


16 Oktober

Street Fighter

Die legendariese videospeletjiereeks keer na die grootskerm terug en ek is baie opgewonde. Street Fighter speel in 1993 af en volg Ryu en Ken Masters wanneer hulle deur Chun-Li vir die World Warrior-toernooi gewerf word.


Sense and Sensibility

Jane Austen se klassieke verhaal word weer vir die grootskerm verwerk. Daisy Edgar-Jones en Esmé Creed-Miles vertolk die rolle van die susters Elinor en Marianne Dashwood, wat hulself met liefde, familie en finansiële onsekerheid moet besig hou nadat hulle uit hul familiehuis gedwing word.


Other Mommy

As jy op soek is na iets grillerigs, bring Other Mommy ware gruwel na rolprentteaters. Die agtjarige Bela kom in aanraking met ’n entiteit wat uit haar kas te voorskyn kom en ’n ontstellende ooreenkoms met haar eie ma toon.


Whalefall

Dit kan dalk een van Oktober se wildste oorlewingsverhale wees en is een van die min flieks waarna ek regtig uitsien. ’n Duiker, Jay Gardiner, soek na sy pa se oorskot in die Stille Oseaan. Dinge neem egter ’n vreesaanjaende wending wanneer hy deur ’n enorme potvis ingesluk word.


23 Oktober

Clayface

DC neem een van sy vreemdste skurk in ’n gruwelrigting en dit is nie ’n gewone superheldfliek nie. Clayface volg Matt Hagen, ’n sukkelende akteur wie se Hollywood-drome verpletter word wanneer hy vermink word. 


Wildwood

Wildwood volg die tiener Prue McKeel nadat haar bababoetie deur ’n swerm kraaie ontvoer en na die geheimsinnige Impassable Wilderness geneem word. 


30 Oktober

Al wat ek weet

Oktober sluit af met ’n Afrikaanse fliek wat op Marita van der Vyver se gewilde jeugroman gebaseer is. Dit volg die 17-jarige Gabriel Lombard nadat hy gedwing word om ná sy ma se dood by sy tannie en ouma in Woodstock te gaan woon. Gabriel sukkel om sy hartseer te verwerk en ontsnap in sy verbeelding, waar hy op Sasha verlief raak. 

Watter flieks gaan jy hierdie Oktober kyk?

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer