Wat draai in die rolprentteaters?

The Movie Guy: Resensie
Barry de Klerk – Daar is twee aksiebelaaide rolprente wat tans in die teaters draai, plus die fliek waarna ek die meeste uitgesien het, kan ook van vandag af op die grootskerm gesien word.

Die rolprentteaters gaan oor die volgende paar weke heelwat goeie flieks vrystel en dit beteken ons kan die jaar op ’n hoë noot afsluit. Ek het onlangs The Running Man en Now You See Me: Now You Don’t gekyk en ek het albei baie geniet.

The Running Man is ’n verwerking van ’n Stephen King-storie. In die fliek word drie mense gekies om aan ’n TV-kompetisie deel te neem waartydens hulle deur ’n militêre groep gejaag word. Glen Powell vertolk die hoofrol en dit voel asof die karakter Ben Richards vir hom geskryf is.

Die fliek mag dalk ’n rukkie neem om aan die gang te kom, maar sodra die aksie begin, hou dit nie op nie. Die fliek speel dalk in die verre toekoms af, maar dit voel asof dit op vandag se politieke klimaat gebaseer is.

So as jy nie lus is vir ’n aksiefliek nie, kan jy nog steeds The Running Man kyk, want dit is ook ’n politieke riller.

Die ander fliek wat ek onlangs in die bioskoop gekyk het, is Now You See Me: Now You Don’t.

Ek is ’n groot aanhanger van hierdie filmreeks en ons het amper 10 jaar vir dié fliek gewag; gelukkig het die rolprentmakers ons nie teleurgestel nie. Dit is wel nie die beste fliek in die reeks nie, maar dit het die beste rolverdeling.

Kom ons begin met die goeie. Ek hou regtig van die nuwe karakters en ek is bly die oorspronklike akteurs is terug. Justice Smith, Ariana Greenblatt en Dominic Sessa is opwindende nuwe toevoegings. Rosamund Pike is egter die uitblinker.

Sy lewer elke sin met passie en haar “Joburg-ma”-aksent sal jou laat dink jy kan haar in Suid-Afrika raakloop. Sy is fenomenaal en dalk die beste deel van die rolprent. Die illusies en die aksietonele lyk ongelooflik en dit is die redes waarom ons hierdie flieks kyk. Ons wil die truuks sien en die geheim daaragter uitvind.

Dit werk goed as gevolg van die akteurs se chemie en uitstekende kamerawerk. Ek hou ook van al die Suid-Afrikaanse en Afrika-verwysings; dit voel asof Now You See Me: Now You Don’t in ons agterplaas geskiet is.

Die fliek het ’n interessante storielyn, maar dis egter ook voorspelbaar. Die grootste teleurstelling van die fliek is die dialoog.

Ek het die grappies geniet en ek het veral van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse woorde gehou wat hier en daar in gesprekke voorgekom het. Dit het wel gevoel asof hulle nie eens probeer het om goeie dialoog te skryf nie. Soms het dit geklink asof ’n laerskoolkind die dialoog geskryf het.

Ek verstaan die rolprentmakers wil hê ons moet op die kulkuns fokus en nie die woorde nie, maar ek hou van woorde.

Goeie dialoog kan ’n goeie storie in ’n onvergeetlike een verander. Dit gesê, ek dink steeds die fliek is baie pret en perfek vir ’n aand uit. Dit is iets wat ek graag weer sal kyk.

Die laaste fliek waaroor ek wil praat, begin vandag amptelik in teaters draai, en dit is Wicked: For Good. Ek wag al die hele jaar hiervoor, en dit is uiteindelik hier.

Die verhaal van Elphaba en Glinda kom tot ’n einde en ek glo al die aanhangers van die musiekblyspel sal wil sien hoe regisseur Jon M. Chu dit doen.

Ek sal vandag ’n volledige resensie op my Instagram-blad plaas. Volgende week sal ons ’n bietjie oor Kersflieks gesels.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer