Triënnale bereik beoordelingsfase
Die Bank Windhoek Triënnale 2025-’26 het sy landswye inskrywingsfase suksesvol afgesluit en beweeg nou na die beoordelingsproses voor die amptelike opening van die uitstalling in Augustus vanjaar.
Die kompetisie, wat deur die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) in vennootskap met Bank Windhoek aangebied word, bly een van die land se belangrikste platforms vir visuele kunstenaars.
Volgens NAGN se hoofkurator, Ndeenda Shivute-Nakapunda, was die reaksie op vanjaar se kompetisie besonder goed, veral ná ’n onderbreking van ses jaar.
Meer as 200 inskrywings is reeds ontvang en dié getal sal na verwagting toeneem sodra die versameling van kunswerke oraloor die land afgehandel is.
“Ons aktiveringsinisiatiewe het kunstenaars van verskillende dissiplines en ervaringsvlakke oraloor die land tydens die voorbereidingsproses gemotiveer en ondersteun,” het Shivute-Nakapunda gesê.
Sy het bygevoeg die fokus val nou op die beoordeling van inskrywings om te verseker dat dit aan professionele en kuratoriale standaarde voldoen.
Die beoordelaarspaneel word gelei deur Raphael Chikukwa as hoofbeoordelaar. Hy word deur die internasionale beoordelaar Lungiswa Gqunta asook die plaaslike beoordelaars dr. Nashilongweshipwe Mushaandja, kunstenaar Tuli Mekondjo en emeritus-professor André du Pisani bygestaan.
Bank Windhoek se hoof van strategiese kommunikasie en maatskaplike impak, Bronwyn Moody, het gesê die bank bly verbind daartoe om platforms te ondersteun wat plaaslike kunstenaars bevorder, kreatiewe uitdrukking versterk en Namibië se kulturele erfenis help bewaar.
“As ’n trotse Namibiese bank sien ons die Triënnale as ’n platform waar identiteit, dialoog en vernuwing bymekaarkom,” het Moody gesê.
“Dit bied kunstenaars die geleentheid om Namibië se verhaal deur middel van uiteenlopende visuele vertellings te deel.”
Die tema vir die kompetisie is “Namibian Identity: The Linework of a Country’s Contours and Wealth” en sluit dissiplines soos skilderkuns, beeldhouwerk en nuwe media in.
Die Triënnale volg op ’n landswye uitreikveldtog wat daarop gemik was om deelname uit elke uithoek van Namibië aan te moedig. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie