Foto Pexels
Foto Pexels

Tradisies maak jou troudag spesiaal

Die wêreld is ’n smeltkroes van kulture, so dit maak sin dat ons bruilof ons persoonlikhede weerspieël. Hier volg ’n paar tradisies wat enige troue kan aanvul - of dit gebruiklik, simbolies of sommer net vir die lekkerte is

Juwele

Voorbereiding

Bruide by ’n spa neem waarskynlik aan ’n Marokkaanse gebruik deel. Om vir die troue voor te berei, ontspan Marokkaanse bruide in ’n melkbad om hulself voor die seremonie te suiwer. Daarna volg ’n liggaamsmassering met aromatiese olies. Wat kan nou lekkerder wees as om vir ’n troue gereed te maak?

Drag

Die bruide het wit . . . en rooi en pers gedra! As jy nie kan kies tussen twee trourokke nie, hoekom nie albei dra nie? In baie Asiatiese kulture is die bruid se vele trourokke die hoogtepunt van die hele geleentheid. Troues waar mense se verskillende kulture saamsmelt kan ook vir iets interessant sorg, soos ’n tradisionele Westerse bruid wat deur die loop van die troue ook ’n kimono of sari aantrek.

Iets anders

Die mooiheid van die Joodse huppah, ’n sonkap (canopy) wat met vier pale in die lug gehou word, is deesdae gewild onder paartjies van alle gelowe. ’n Meer moderne weergawe daarvan is ’n boog van kleurvolle blomme waaronder die verloofdes staan terwyl hulle beloftes uitruil.

Volgens 'n Morawiese gewoonte, steek die bruid en bruidegom 'n kers aan en gee die vlam verder na gaste wat elkeen ’n kers van hul eie vashou. Verbeel jou ’n donker spasie wat heeltemal opgehelder word soos die kerse tussen vriende en familie aangesteek word.

Eet, drink en wees vrolik

In China drink pasgetroudes uit glase wat deur ’n rooi tou verbind is om hul trou aan mekaar te simboliseer, terwyl paartjies in Frankryk uit die “coupe de marriage” drink, wat deur geslagte oorgedra is.

Die Franse sit ook graag in plaas van ’n troukoek, croquembouche voor. Dit lyk soos 'n piramiede bestaande uit roompoffertjies. Hul Britse bure sit vrugtekoek voor, waarvan die boonste laag gehou word om te eet met die geboorte van hul eerste kind.

Kommentaar

Republikein 2025-06-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer