The Rock op sy beste

The Movie Guy: Resensie
Iréne-Mari van der Walt
The Rock is die “smashing machine” in Benny Safdie se nuwe biografie oor die MMA-vegter Mark Kerr!

Ek moet eerlik wees toe ek die eerste keer hoor dat Dwayne (The Rock) Johnson in Safdie se nuwe drama sou speel, was ek effens skepties. Dit is nie omdat ek dink hy is ’n swak akteur nie, maar omdat hy nog nooit so iets gedoen het nie. Ek is wel bly om te sê dat The Rock sy beste werk tot nog toe lewer.

The Smashing Machine gaan oor die lewe van Mark Kerr, ’n MMA-vegter wat met verslawing en geestesgesondheid sukkel. Sy verhaal is nie net inspirerend nie, maar ook soms hartverskeurend en The Rock slaag daarin om al daardie emosies oor te dra.

Safdie is bekend vir sy uitstekende rillers, en al is hierdie dalk nie een van sy beste werke nie, bly dit steeds ’n sterk en boeiende kykervaring.

Ek is mal oor die kinematografie in hierdie fliek; dit het ’n nostalgiese gevoel daaraan. Safdie het vir sommige tonele VHS-kameras gebruik, en eerlikwaar, dit het my sommer 20 jaar terug in tyd geneem. Die openingstoneel alleen was fantasties.

Deur regte MMA-vegters te gebruik, dra by tot die algehele fliek, aangesien die gevegstonele nie net ongelooflik lyk nie, maar ook baie realisties voel.

Wat die storie betref: Hoewel Mark se reis indrukwekkend is, dink ek die fliek vertel dit nie op die beste manier nie. Ek voel die fliek kon nog ’n paar ekstra tonele vir konteks gehad het. Ek was soms verward deur sekere karakters se besluite, aangesien daar geen verduideliking vir hul optrede was nie. Ek verstaan hoekom Mark verslaaf geraak het, maar ek wou meer van daardie innerlike stryd en sy herstelproses sien.

Nogmaals, The Rock was uitstekend en hy het werklik in Mark Kerr verander. Emily Blunt, as Dawn Staples (Mark se lewensmaat), was fenomenaal. Die res van die rolverdeling was goed, alhoewel almal nie ewe sterk was nie.

Ek moet ook die produksiespan prys. The Rock lyk amper presies soos Mark, die grimering is briljant. In die laaste deel van die fliek lyk hy meer soos Kerr as Mark Kerr self. Die produksieontwerp is ook fantasties; die stelontwerpe neem jou terug na die laat 90’s en vroeë 2000’s.

Is hierdie fliek die moeite werd om te kyk? Ja. Dit bly ’n uitstekende fliek ten spyte van sy tekortkominge. Ek dink die rolverdeling en span het hul harte en siele in hierdie projek gesit. Dit handel oor swaar temas wat sommige kykers kan ontstel, maar ek waardeer dat dit nie skroom om die werklikhede van verslawing en geestesgesondheid te wys nie.

Ek kan sien hoe ek hierdie fliek weer sal kyk en wie weet, dalk hou ek selfs nog meer daarvan met ’n tweede kykslag. Ek beveel dit beslis aan, veral as jy van sportflieks of biografieë hou. Dit is dalk nie The Rock se beste fliek nie, maar dis beslis sy beste rol tot dusver.

Ook nou in teaters is Tron: Ares, ’n wetenskapfiksie-aksiefliek wat belowe om jou weer terug na die asemrowende wêreld van The Grid te neem. Ek het onlangs die oorspronklike fliek sowel as Tron: Legacy gekyk en ek is gereed om hierdie een te geniet. Ek het die fliek gesien, so gaan kyk gerus na my volledige resensie op Instagram.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer