The Movie Guy se Comic Con Africa
Comic Con Africa het meer as twee weke gelede geëindig, maar ek herleef steeds elke oomblik, want hierdie jaar se konvensie was anders.
Dit was ’n gesukkel om by Comic Con Africa 2026 uit te kom. Daar was ’n oomblik toe ek werklik gedink het ek gaan dit nie maak nie, maar gelukkig het ek.
Op die laaste nippertjie het iemand ingegryp en dit vir my moontlik gemaak om Johannesburg toe te vlieg en die geleentheid by te woon. Ek is ewig dankbaar vir al die liefde en ondersteuning wat ek ontvang het, asook vir almal wat dit vir my moontlik gemaak het om daar te wees.
Ek kan sê dit was die beste Comic Con nóg, maar ek sê dit gewoonlik ná elke konvensie. Ek kan egter sê dat hierdie een die onvergeetlikste was, omdat ek dit vanuit ’n heel ander oogpunt kon ervaar. Ek dink die feit dat ek dit op die laaste nippertjie kon maak, het dit selfs meer spesiaal gemaak.
Verlede jaar het ek die geleentheid gehad om met Misha Collins te praat, wat bekend is vir sy rol as Castiel in Supernatural. Dit was ’n droom wat waar geword het.
Dit het my laat voel asof ek ’n TV-aanbieder is en al daardie opwinding het my herinner waarom ek ’n joernalis geword het. Ek wou goeie stories met mense deel en terselfdertyd die geleentheid kry om met merkwaardige mense te gesels.
Vanjaar kon ek met ses merkwaardige mense onderhoude voer. Ek het die fantastiese Richard T. Jones, wat bekend is vir sy rol as Wade Grey in The Rookie, ontmoet. Ek het ook met Ian Cardoni, Harry Belden en Spencer Grammer, die drie hoofstemakteurs in Rick and Morty gesels.
Daarna het ek saam met Christopher Judge gaan sit vir ’n onderhoud. Die meeste mense ken hom as die stem van Kratos in die God of War-videospeletjies.
Ek het ook die geleentheid gehad om met die fantastiese DJ Elliot, ofte wel Elliot Hansen, te gesels. Hy is nie net ’n aanbieder by Comic Con Africa en Comic Con Cape Town nie, maar bied ook Star Wars-konvensies aan, help om dit te organiseer en is boonop by Comic Con New York betrokke.
Tien jaar gelede sou ek my nooit kon voorstel dat ek eendag hande sou skud en gesels met mense vir wie ek groot bewondering het nie. Ek probeer steeds verstaan hoe ek dit reggekry het om so kalm met almal te praat.
Ek was ’n bondel senuwees en ek weet ek het dalk oor sommige van my vrae gestruikel, maar op een of ander manier het ek dit reggekry.
Almal was so vriendelik en tegemoetkomend. DJ Elliot en ek het gekliek oor ons liefde vir Back to the Future en dit was die vinnigste wat ek nog ooit ’n nuwe vriend gemaak het.
Richard het ’n paar interessante besonderhede oor wat agter die skerms gebeur – en wat mense in Seisoen 9 van The Rookie kan verwag – gedeel. Hy het ook tyd gemaak om ’n spesiale groetboodskap aan my pa oor te dra.
Christopher was ongelooflik tegemoetkomend en het tydens sy middagete ’n paar minute afgestaan om my vir ’n onderhoud te ontmoet. Tydens ons gesprek het hy ook ’n paar wenke gegee oor wat mense kan verwag van God of War: Laufey, wat volgende jaar vrygestel word.
Vir sommige mense mag dit dalk onbeduidend klink, maar vir my is al hierdie onderhoude hoogtepunte van my loopbaan. Hoe meer ek oor alles nadink, hoe meer geseënd voel ek. Ek kan skaars glo dat ek nou iemand is wat met bekendes skouers skuur.
Ek word weer eens daaraan herinner die lewe verloop dalk nie altyd soos ons dit beplan nie, maar dat ons steeds in die rigting gestuur word waarin ons moet gaan.
Al die onderhoude is op my YouTube-kanaal beskikbaar.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie