The Mandalorian and Grogu: Rolverdeling, klankbaan fenomenaal
Dis amper ses en ’n half jaar sedert die laaste Star Wars-fliek, so dit was natuurlik opwindend vir my om terug te keer na die sterrestelsel ver, ver weg.
The Mandalorian and Grogu is anders as die meeste Star Wars-flieks en dit kan dalk ’n goeie ding wees.
Aan die een kant voel dit soos die perfekte rolprent om nuwe gehore te lok en aan die ander kant is dit dalk nie wat mense verwag nie. Ek het wel ’n sagte plekkie vir dié fliek, want ek glo opreg dat die meeste mense dit gaan geniet.
Die goeie nuus is dat jy nie die reeks, The Mandalorian, hoef te kyk om die fliek te verstaan nie. Die fliek staan basies op sy eie en gaan nie voort met enige van die stories wat in die vorige flieks gevestig is nie.
Ek dink mense wat nog nie die Star Wars-hoofflieks gekyk het nie, kan dit steeds geniet. Dis soos ’n alternatiewe inleiding tot hierdie reeks en dis iets wat die fliek baie goed doen.
As iemand wat die meeste van die Star Wars-flieks en -reekse gekyk het, het hierdie fliek nie regtig veel nuuts gebring nie. Die Mandalorian-televisiereeks is ’n “Western” wat toevallig in die ruimte afspeel, terwyl hierdie fliek nie heeltemal daardie temas en toon oordra nie.
Ek dink wel die rolverdeling in die fliek is fenomenaal.
Die akteur wat Grogu speel, ofte wel Baby Yoda, steel elke toneel (ek weet hy is net ’n pop). Pedro Pascal keer terug as Din Djarin, die “Mandalorian”. Brendan Wayne en Lateef Crowder is sy waagtoertjie-dubbelgangers en hulle is uitstekend.
Jeremy Allen White speel Rotta the Hutt en ek dink sy stemwerk is baie goed, ongeag die dialoog.
Ek is mal oor die produksie-ontwerp van die fliek, al het die spesiale effekte soms effens “af” gelyk. Ek dink die karakterontwerpe en praktiese effekte maak die fliek die bioskoopkaartjie werd. Ek is dalk net opgewonde om weer ’n Star Wars-fliek in die bioskoop te kyk, maar ek dink dit lyk ongelooflik.
Ek het meeste van die aksietonele geniet. Ek dink die laaste gevegstoneel was die beste, want handgevegte voel altyd meer persoonlik as ’n groot skietgeveg. Daar was wel sommige aksietonele wat effens teleurstellend was en ek wens Grogu het meer van sy Force-kragte gewys.
Ek het die fliek se klankbaan deur Ludwig Göransson die meeste geniet. Daar is geen twyfel dat sy musiek die fliek ophef en alles tot lewe bring nie. Ek dink dit bepaal die algehele toon van die fliek en gee dit dadelik ’n ekstra ster in my gradering. Ek weet die fliek gaan aanhangers weer verdeel, want Star Wars-liefhebbers kan nie oor enigiets saamstem nie.
Is dit die beste Star Wars-fliek? Nee, maar dit is beslis beter as die laaste paar. Dit voeg nie regtig iets by tot die Star Wars-heelal nie, maar dit neem ook niks weg nie. Ek dink dit is vir almal wat net ’n fliek in die bioskoop wil geniet.
Ek is gek oor Star Wars vandat ek dit die eerste keer gekyk het toe ek sewe jaar oud was.
Anders as die meeste mense, was my bekendstelling aan hierdie heelal die Return of the Jedi, gevolg deur Phantom Menace. Ek dink dit verduidelik ook hoekom ek van oulike karakters soos die Ewoks en Grogu hou. Daarom gee ek dit 3 uit 5 sterre.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie