Sy stem, sy storie

Annemarie du Toit

Vir Joshua Botha gaan musiek oor veel meer as net melodieë en treffers. 

Sy debuutsnit “Daar Is Tyd” is die begin van ’n reis waarin eerlikheid, geloof en hoop sentraal staan. Met sy unieke kombinasie van alternatiewe Afrikaanse klanke en Christelike temas wil hy luisteraars herinner dat daar, selfs in die donkerste oomblikke, steeds hoop is.

Wanneer Joshua nie met ’n kitaar in die hand is nie, bestee hy graag tyd saam met sy familie, sy drie honde en sy vriende. Hy dien ook op die lofprysingspan by Doxa Deo Faerie Glen en hou daarvan om te oefen. Rugby was vir jare ’n groot deel van sy lewe, totdat musiek uiteindelik die oorhand gekry het.

“Ek glo as God jou ’n talent gee, moet jy dit gebruik,” sê hy eenvoudig.

Musiek was nog altyd deel van sy lewe. Hy het sy eerste kitaar op sewejarige ouderdom ontvang, van graad 1 tot graad 10 in die skoolkoor gesing en grootgeword in ’n familie waar musiek ’n natuurlike deel van die huis was.

“Ek onthou hoe my ma altyd musiek op CD’s in die kar gespeel het. Dit is waar baie van my liefde vir musiek begin het.”


‘DAAR IS TYD’

Vir sy heel eerste vrystelling wou Joshua nie net ’n liedjie skryf nie – hy wou sy hart oopmaak.

“‘Daar Is Tyd’ is geskryf vir elke persoon wat seer het. Vir verlies. Vir hartseer. Vir gebroke verhoudings. Ek het dit self geleef.”

Hy vertel van die verlies van sy ouma aan kanker, vriende wat uit sy lewe verdwyn het en persoonlike hartseer wat hom gevorm het. Tog is die boodskap van die liedjie een van hoop eerder as wanhoop.

“Ek het geleer om my hoop in God te sit, nie in die situasie nie. Hy het my geleer: Daar is tyd. Tyd om te bly. Tyd om te hoop. Tyd om nie op te gee nie.”

Dit is juis hierdie eerlikheid wat Joshua hoop by luisteraars aanklank sal vind.

“Ek wou hê my eerste liedjie moet persoonlik wees. Ek glo baie mense sal met die woorde kan identifiseer en besef dat dit nooit te laat is nie.”


MUSIEK UIT DIE LEWE

Joshua beskryf sy styl as alternatiewe Afrikaanse musiek met Christelike konsepte, maar sy inspirasie kom uit alledaagse ervarings.

“Voordat jy ’n liedjie kan skryf, moet jy iets hê om oor te skryf – ’n ervaring, ’n getuienis, ’n storie met waarheid.”

Hy skryf dikwels by die huis, met sy kitaar langs ’n vuur of selfs in sy slaapkamer.

Vir sy debuutsnit het hy saam met Alwyn Bekker en Stefan Kelber gewerk. Die opnameproses het ongeveer twee maande geneem en, sê hy laggend, verrassend glad verloop.


GROOT DROME, EENVOUDIGE WAARDES

Joshua se grootste inspirasies sluit kunstenaars soos Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Zaan Sonnekus, Spoegwolf en Jan Bloukaas in. Eendag droom hy daarvan om saam met Die Heuwels Fantasties of Zaan Sonnekus te werk.

Maar sukses word vir hom nie aan roem of geld gemeet nie.

“Ek jaag nie agter geld en publisiteit aan nie. Ek wil net my hart met mense deel.”

Hy glo nuwe kunstenaars se grootste uitdaging is bloot om raakgesien te word tussen al die geraas.

“Nie alles gebeur in een dag nie. Wat jy saai, sal jy maai.”

Intussen finansier hy selfs sy musiek deur honde op te pas – ’n detail wat sy vasberadenheid beklemtoon.


’N BOODSKAP VAN HOOP

Joshua werk reeds aan nuwe musiek en bevestig dat nog vrystellings, en selfs ’n toekomstige EP, op pad is.

Wanneer hy vorentoe kyk, hoop hy nie net op ’n mooi huis, ’n gesin en ’n suksesvolle loopbaan nie, maar veral dat sy musiek mense sal help.

“Ek wil die lig in mense se donker wees. Ek wil hê my woorde moet mense laat besef dat God hulle liefhet, selfs wanneer die lewe moeilik raak.”

En as hy een boodskap aan jongmense met groot drome kan gee?

“Jy het nie daardie droom en talent vir geen rede gekry nie. Hou vas daaraan en maak dit jou realiteit. Jy het ’n purpose.”

Met sy opregtheid, diep geloof en eerlike stories wys Joshua dat sy debuut nie net die begin van ’n musiekloopbaan is nie, maar die begin van ’n gesprek met mense wat hoop nodig het. 

As “Daar Is Tyd” enige aanduiding is, is dit ’n stem waarna baie Afrikaanse musiekliefhebbers in die toekoms gaan uitsien. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer