Stuur hulp, asseblief!

The Movie Guy: Resensie
Iréne-Mari van der Walt
Send Help is die tipe fliek wat jou een oomblik laat lag en die volgende oomblik laat dink jy is dalk besig om jou verstand te verloor.

Sam Raimi is bekend daarvoor dat hy komedie- en riller-elemente op vreemde maniere kombineer, en gewoonlik werk dit baie goed saam.

Send Help is een van die vreemdste flieks wat ek in die laaste ruk gekyk het. Jy weet nie regtig wie die held of skurk in die verhaal is nie, want die karakters se morele waardes is nie duidelik swart of wit nie.

Dis maklik om beide die hoofkarakters te haat of om te hoop dat hulle gaan oorleef. Aan die einde van die dag dink ek die fliek wys hoe vinnig ons ons menslikheid kan verloor in uitdagende situasies.

Die fliek is ’n kombinasie van genres, en ek dink dit werk die beste in sy donker komiese oomblikke.

Die skrik-elemente werk ook baie goed, maar ek sou dit nie as ’n gruwelfliek klassifiseer nie. Ek hou van ’n fliek wat ’n menigte temas en genres dek, maar ek voel asof hierdie fliek ’n identiteitskrisis het.

Ek verstaan dis wat Sam Raimi goed doen, maar as die fliek nie so tussen genres gespring het nie, sou ek dit meer geniet het.

Die beste deel van Send Help is die toneelspel. Rachel McAdams begin as ’n nerdy “rekenmeester” en verander stadig in iemand wat haar verstand verloor, of ten minste so lyk dit.

Dylan O’Brien is ook fantasties. Hy werk regtig goed as daardie baas wat heeltyd jou knoppies druk. Hulle speel so goed teenoor mekaar en hulle dra die fliek met sterk toneelspel.

Die karakters skitter ook in hul eilandomgewing en bring verskillende kante na vore. Die plek voel werklik, en dit is duidelik dat hulle baie praktiese effekte gebruik het.

Daar is ’n paar rekenaargegenereerde beelde

(CGI)-tonele in die fliek, veral met die vliegtuigongeluk, maar die fliek voel steeds meer gegrond in realiteit. Dit het ook ’n gevoel van donker fantasie, maar dis net nog een van die genres.

Ek dink die Danny Elfman-klankbaan dra tot die donker fantasie-gevoel by. Dit lig oomblikke uit wat die komedie- en gruwelkante van die fliek oorbrug. Elfman se musiek is altyd fantasties en ek dink dit pas perfek by hierdie fliek. Die klankontwerp dra ook by tot daardie gruwel- of riller-oomblikke.

Ek het lanklaas ’n Sam Raimi-fliek gekyk en ek het amper al vergeet hoekom hy so ’n goeie regisseur is. Die fliek voel van die begin of soos ’n Raimi-fliek, van die eerstepersoontonele tot die “Dutch angles” en vinnige snitte. Dit is wonderlik wanneer ’n ateljee ’n filmmaker toelaat om net hulself te wees.

Nou, met dit gesê, ek weet nie almal is ’n aanhanger van Raimi se styl nie. Ek geniet dit nogal, en ek het sy storievertelvermoë geniet. Send Help is dalk nie Sam Raimi se beste fliek nie, maar dit is ’n lekker ervaring, veral as jy dit op die silwerdoek kyk.

Die karakters is fantasties. Ek hou van Raimi se regie, maar partykeer maak die fliek te veel staat op komedie eerder as riller-aspekte. Dit kry nie heeltemal daardie middelgrond tussen genres reg nie, maar dit lewer steeds ’n fliek vol pret.

Dit is dalk nie vir almal nie en dit kan dalk ’n bietjie vergeetbaar wees, maar ek dink steeds dit is die moeite werd om ten minste een keer te kyk.

Send Help begin vandag in rolprentteaters draai.

Volg my op Instagram om te sien na watter films jy volgende kan uitsien. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer