Skud jou vere reg vir die Silwerskermfees

Barry de Klerk

Ek sien elke jaar na die kykNET Silwerskermfees uit, maar vanjaar se fees kan dalk die mees onvergeetlike een tot dusver wees.

Wanneer ek die kans kry om ’n nuwe Afrikaanse rolprent te kyk, is ek in my noppies. 

Die Silwerskermfees is een van die min plekke waar jy die rolprente kan kyk en daarna met die talente agter die werk kan gesels. Dit gee ons ook die geleentheid om stories te sien wat ons dalk nie andersins op die grootskerm sou kon ervaar nie.

Die fees gee ook nuwe filmmakers en skrywers die kans om hulself aan gehore bekend te stel. Vanjaar se fees vind van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, plaas en as ek kyk na wat reeds aangekondig is, sien ek regtig baie daarna uit. Daar is ’n aantal rolprente wat my aandag getrek het.


SILAS EN DIE YSBEER OP TAFELBERG

Die eerste is Silas en die Ysbeer op Tafelberg. Die rolprent volg die jong Silas, gespeel deur Neels Clasen jr., wat glo dat sy ouma ná haar dood bloot Droomland toe is. Hy besluit om na haar te gaan soek en word op sy reis deur sy nuwe vriendin Willemien, gespeel deur Luna Coetzer, vergesel.

Langs die pad ontmoet hulle karakters soos die Hus, Van Hunks en Toemaar. Wat Silas nog interessanter maak, is dat dit nie bloot ’n kinderavontuur is nie, dis ’n gesinsfliek.

Regisseur Zandré Coetzer wou ’n storie skep wat kinders kan help om moeilike onderwerpe soos die dood, hartseer en verlies te hanteer, sonder om vir hulle maklike antwoorde te probeer gee.

Die rolprent klink ook asof dit ’n paar wonderlike, tradisionele filmskeppingstegnieke gebruik. Die ysbeer is ’n reusepop wat deur drie poppespelers lewend gemaak word. Ek is mal oor praktiese effekte, so ek is baie nuuskierig om te sien hoe dit alles bymekaarkom.


DIE GROND ONTHOU

Die ander fliek waarna ek veral uitsien, is die kortfilm-dokumentêr Die grond onthou. Dit vertel die verhaal van Protea Village en die mense wat ingevolge die wet op groepsgebiede gedwing is om uit die gebied te trek.

Dis ’n verhaal oor ’n gemeenskap, oor verlies en oor mense wat uit hul huise verwyder is, maar ook oor die moontlikheid om terug te keer.

Een van die dinge waarvan ek van die Silwerskermfees hou, is dat dit nie net oor vermaak gaan nie. Ja, daar is rolprente wat ons kan laat lag en ons na ’n heeltemal ander wêreld kan vervoer, maar daar is ook rolprente wat ons laat nadink oor ons geskiedenis en die mense wie se stories verdien om gehoor te word.


TWEE PERSENT

Dan is daar iets heeltemal anders soos Twee persent. Dié kortfilm volg Charlotte, wat verlief op die melkman raaks ondanks die feit dat sy laktose-onverdraagsaam is. Die rolprent maak ook sterk staat op musiek, met ongeveer 95% daarvan wat geen dialoog bevat nie.


VERWERKING

Dan is daar Verwerking, wat ’n veel donkerder benadering volg. 

Dié kortfilm handel oor ’n draaiboekskrywer wie se verbeelding die traumatiese verhaal wat hy skryf, rondom hom lewend maak. Die skrywer en regisseur Peter-John Titus gebruik die kreatiewe proses om trauma, herinneringe en geslagsgebaseerde geweld te verken.

Die Silwerskermfees bied altyd verskeidenheid, en as jy soos ek is, dan weet jy dat elke stories wat vertel word, verdien om op die grootskerm vertoon te word. Daar is nog soveel meer waarna ek uitsien, want ek weet hoe kreatief Afrikaanse rolprente kan wees. Ek tel reeds die ure af tot die opening van die fees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer