Skedelkus stel vandag eerste enkelsnit vry

Iréne-Mari van der Walt
Twee Namibiërs, Esmarie Labuschagne en Llewellyn Annandale, ofte wel die musiekgroep Skedelkus, stel vanaand hul eerste enkelsnit “Handgemaak” in Pretoria vry.

Esmarie en Llewellyn het mekaar oorspronklik in plaaslike musiekkringe ontmoet, maar sou eers amptelik ’n musiekgroep saam begin toe hulle albei na Pretoria in Suid-Afrika verhuis het.

“Ons was heel toevallig soortvan in dieselfde bootjie. Ek het my eerstejaarstudies deur Unisa gedoen toe ek nog hier [in Windhoek] was en in daardie selfde tyd het Esmarie in Amerika gestudeer.

“Covid het ons toe getref en sy moes terugkom, ek het besluit om Pretoria toe te trek en sy het ook na Pretoria verhuis, so ons het albei heel toevallig as tweedejaarstudente by Tuks beland.

“Ons het van mekaar geweet en het saam aan ’n paar projekte hier gewerk, maar dit het sin gemaak vir ons as musikante om saam te span,” verduidelik Llewellyn.

Hul eerste musiekgroep is gestig toe hulle nog studente was, maar toe hulle albei hul grade voltooi het, is Skedelkus gebore.

“Aanvanklik het ons ’n projek Winds of August begin, wat ons ook na Namibië se Augustuswinde vernoem het. Nadat ons ons studies voltooi het, het ons besluit om op ’n skoon bladsy te begin en ons het die naam na Skedelkus verander en ons het ’n paar nuwe lede bygekry,” sê hy.

Die groep het daarna aan GrootFM se Battle of the Bands deelgeneem waar hulle ander musikante soos Spoegwolf ontmoet het. Sedertdien het Skedelkus op verskeie verhoë opgetree, onder meer by feeste soos Mieliepop en Droomland in Suid-Afrika.

Oor die verskil tussen die Namibiese en Suid-Afrikaanse musiekbedrywe, sê Llewellyn: “Natuurlik is die skaal groter. Almal werk saam met mekaar in Namibië of almal kom een of ander tyd op dieselfde verhoog. In Suid-Afrika is jy baie meer geïsoleerd, veral in Gauteng. Dit is ’n meer mededingende bedryf en dit het my effens onkant gevang.”

Kyk vandag se episode van Kletskompas om 12:30 op oneuptwo.com en Network Television (NTV), DStv kanaal-285 en GOTV kanaal-25, vir Llewellyn se volledige onderhoud.

“Handgemaak” is vandag op alle stromingsplatforms beskikbaar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer