Perfekte imperfeksies
Toe Petronel Baard 12 jaar oud was, het sy ’n solostuk tydens ’n musiekblyspel op haar tuisdorp Villiersdorp in die Overberg gesing.
Ná die opvoering het mense glo gedink dit was een van die onderwysers wat gesing het en nie ’n jong meisie nie. Vir Petronel was dit ’n bepalende oomblik.
“Dit was toe dat ek geweet het sang is my roeping,” vertel sy.
“Maar ek wou in die kunste ingaan toe ek al vyf was en het dit ewe kordaat vir my ouers ook gesê.”
Daardie roeping het haar in 1999 na die ATKV-Crescendo-kompetisie geneem, waar sy as wenner uit die stryd getree het. Dié oorwinning het haar professionele loopbaan afgeskop.
“Dit was ’n gulde geleentheid wat ek met beide hande aangegryp het, maar het my ook bewus gemaak dat ’n kompetisie nie noodwendig ’n loopbaan bou nie.
“Die pad vorentoe het my geleer dat ons ook infrastruktuur moet nalaat vir ander kunstenaars om in te volg en dat optreegeleenthede iets is wat jy moet skep asook koester.”
Dit is juis hierdie besef wat haar oor die jare nie net as kunstenaar nie, maar ook as kunsontwikkelaar en teaterentrepreneur gevorm het. Sy is vandag net so passievol oor die skep van platforms vir kunstenaars as oor haar eie optredes.
“Daar is veel ywer vir nuwe talent, maar min vir volhoubare professionele loopbane,” sê sy.
“Ek sien en voel te hartseer oor die oppervlakkigheid wat toegepas word op kunstenaars se bydraes en hoe min plek ons maak vir musiek met siel.”
Wanneer sy terugdink aan die jong meisie wat destyds haar eerste groot tree in die bedryf gegee het, vind sy steeds inspirasie daarin.
“Ek dink gereeld aan haar as ek soms moed wil verloor. Haar rou talent en ongetwyfelde roeping spoor my aan, selfs as die wêreld sy stiefkant wys.
“Die jong Petronel het geweet toe sy ná die Crescendo-wen die meer intieme kabaretverhoog kies, dat sy nie ’n kommersiële pad kies nie, maar getrou bly aan haarself.”
Dis ’n filosofie wat steeds haar werk rig. Vir Petronel gaan sukses vandag nie oor trefferparades of groot roem nie, maar oor die voorreg om steeds ’n bestaan uit kuns te kan maak.
“Ek het geweet ek kies die pad less travelled. Dinge het oor jare momentum opgebou. Ek is ongelooflik besig en geniet dit vreeslik.
“Sukses is om my lewe te kan onderhou en steeds kuns te pleeg soos hulle sê.”
Dié liefde vir betekenisvolle kuns is ook wat haar na haar jongste projek, Vrou, Vrouer, Vrouste, gelei het. Die produksie, wat sy saam met kunstenaar, digter en woordsmid Lidi de Waal aanbied, kombineer woordkuns, musiek, humor en diep menslike ervarings.
Volgens Petronel het die idee by Lidi ontstaan.
“Sy het die teks geskryf terwyl ek op instink van haar gedigte getoonset het. Toe ons alles bymekaar sit was die resultaat verstommend.
“Dis hoe kuns werk – mens tune in op mekaar se golflengtes.”
Vir Petronel was daar van die begin af iets besonders aan Lidi se werk. Waar baie gedigte volgens vaste patrone geskryf word, ervaar sy Lidi se skryfwerk as iets veel meer organies.
“Haar werk is nie rymelary nie, dis eg en soos sy dink. Ek toonset op gevoel. Ek beskryf dit as ’n tipe dig met musiek en dit het maklik gevloei saam met haar werk.”
Die proses om die gedigte in liedjies te omskep was egter nie sonder uitdagings nie.
“Die grootste uitdaging was juis die feit dat dit nie voor die hand liggende werk is wat in koor of vers of brug opgedeel kan word nie. Dit was ’n heerlike skat om die musiek daaruit te gaan ontdek.”
Uit hierdie kreatiewe proses is ’n volledige album gebore wat spesiaal vir Vrou, Vrouer, Vrouste geskep is. Die album bevat agt toonsettings van Lidi se gedigte, asook ander werke wat besonder na aan Petronel se hart lê.
“Dit is vir my ’n baie kosbare werk,” sê sy.
“Een van die liedjies was nog nooit tevore opgeneem nie en was die eerste liedjie wat ek kan onthou ek geskryf het.”
Wat die verhoogproduksie self betref, glo sy die unieke dinamiek tussen haar en Lidi is deel van die geheim.
“Ons het van dag een af wat ons mekaar ontmoet het mekaar verstaan.
“Ons lewe wat ons sê en sing. Dit is nie aangeplak nie en tog kan enigiemand veilig voel om met ons werk saam te resoneer.”
Sy beskryf die produksie as iets wat veel verder as ’n gewone konsert of teatervertoning strek.
“Die produksie los jou nie sommer net nie. Dit skroom nie van die donker nie en tog is dit die lig daaruit wat jou bybly.”
Daardie balans tussen lig en donker, lag en hartseer, is, volgens haar, deel van die menslike ervaring wat die vertoning ondersoek.
“Elke oomblik van die skeppingsproses het my emosioneel verras. Ons begin nou direk met die donker sy van liefde, mens- en vrouwees.
“Teen die tyd wat ons jou goed uit die maag laat lag, het ons al baie seer uit jou gekarnuffel.”
Hoewel die titel op vrouwees fokus, beklemtoon Petronel dat die temas universeel is.
“Almal is welkom en almal gaan dit geniet. Dit is maar net ons vertel ons lewenservaringe uit ’n vroulike perspektief, maar dit is nog steeds beskrywings van die lewe en hoe om dit in woord en sang te verwerk.”
Vir haar persoonlik het vrouwees oor die jare ’n dieper betekenis gekry.
“Ek geniet dit volkome om vrou te wees. Ek is nou 50 jaar oud. Ek kyk terug in vrede en vorentoe net dag vir dag.”
Daardie vrede lê ook opgesluit in een van die kerntemas van die produksie: Perfekte imperfeksies.
“Jy is perfek soos wat jy is. Dit is perfek om imperfek te wees, maar dit vra jou ook om die emosionele werk te doen wat ’n positiewe uitkyk op die lewe behou.
“Die perfeksie lê daarin om dit te herken nadat jy dit erken het.”
Dit is miskien hoekom sy glo dat mense vandag, meer as ooit tevore, na eerlike stories smag.
“Omdat die wêreld te vals en vol onnodige stres is,” sê sy. “Mense verdien hoop en liefde. Mense verdien dat iemand hulle hand vat en sê: ‘Toemaar, toemaar, ons is nou so naby’.”
Toe sy gevra is hoe sy graag onthou wil word, dink sy nie aan toekennings, verkope of roem nie.
Haar antwoord is eenvoudig: “Mens hoop jy los in jou spore alles wat mooi is. Ek hoop dit wat ek mense se siele ingesing het, hul pad na vrede beter gemaak het.”
Dit is uiteindelik die draad wat deur haar loopbaan, haar musiek en Vrou, Vrouer, Vrouste loop: Die geloof dat kuns nie net daar is om te vermaak nie, maar om mense nader aan hulself, aan mekaar en aan vrede te bring.
“Mens leef vir die vreugde daarvan om vreugde te bring,” sê Petronel.
En ná meer as drie dekades in die kunste, is dit steeds die liedjies van die vertoning wat sy die graagste sing.
VERTONINGS
Namibiërs kan die produksie op twee geleenthede geniet.
Die FNB Windhoek Woordfees bied op Vrydag 26 Junie die vertoning om 18:30 by die Beach Hotel in Swakopmund aan, terwyl gehore in die hoofstad dit op Saterdag 27 Junie om 13:30 by Droombos buite Windhoek kan geniet.
Kaartjies kos N$300 per persoon, terwyl pensioenarisse slegs N$250 betaal. Verversings sal ook tydens die vertonings beskikbaar wees.
Vir almal wat wil lag, besin, ontroer word en dalk hulself ’n bietjie beter wil leer ken, beloof Vrou, Vrouer, Vrouste om ’n besondere ervaring te wees – ’n viering van vrouwees, kreatiwiteit en die gedeelde menslike ervaring. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie