November bied verskeidenheid

The Movie Guy: Resensie
Barry de Klerk

November gaan nog ’n maand vol verskeidenheid by die bioskoop wees. 

Jy kan na stories van monsters en bankrowers uitsien. Daar is ook ’n paar broodnodige komedies, asook ’n paar aksieflieks op pad. 

Hier is wat vandeesmand op die spyskaart is:


6 November

Godzilla Minus Zero

Die Koning van die Monsters is terug! Na die gebeure van Godzilla Minus One, hervat die storie twee jaar ná Godzilla se verwoestende aanval op Japan. Net wanneer die land begin herbou en weer ’n mate van normaliteit probeer vind, verskyn ’n nuwe bedreiging wat nog ’n verwoesting meebring. 


Wild Horse Nine

Dié komedie-riller, wat hom kort voor die Chileense staatsgreep van 1973 afspeel, volg CIA-agente Chris en Lee. Die twee kollegas moet hul ingewikkelde verlede sowel as hedendaagse sameswerings die hoof bied.

Boonop dreig Chris se groeiende vriendskap met twee rebelse studente ook om hul besoek in iets baie gevaarliker te omskep. 


13 November

How to Rob a Bank

Wat gebeur wanneer bankrowers sterre op sosiale media word? How to Rob a Bank volg ’n groep misdadigers wat hul gewaagde rooftogte aanlyn dokumenteer en sodoende die aandag van ’n ervare FBI-agent en ’n briljante sagteware-ingenieur trek. Terwyl die owerhede al hoe nader kom, gaan die groep voort met ’n groter ambisieuse rooftog. Die fliek is al ’n paar keer uitgestel en ek sien uit om dit uiteindelik te gaan kyk.


Ebenezer

Johnny Depp vertolk een van die letterkunde se mees herkenbare karakters. Charles Dickens se bekende verhaal word as ’n bonatuurlike spookstorie herwerk.

Depp vertolk die rol van Ebenezer Scrooge, ’n suinige sakeman wat gedwing word om sy verlede, hede en toekoms in die gesig te staar tydens ’n reis wat hom dalk ’n tweede kans op geluk kan bied. 


Victorian Psycho

Hierdie gotiese gruwelriller speel in 1858 af en volg Winifred Notty, ’n eksentrieke jong vrou wat by die afgeleë Ensor House aankom. Haar aankoms val egter saam met ’n reeks geheimsinnige verdwynings onder die huishoudelike personeel. 


20 November

The Hunger Games: Sunrise on the Reaping

Dis tyd om na Panem terug te keer! Die storie speel 24 jaar voor die gebeure van die oorspronklike The Hunger Games af en neem gehore terug na die oggend van die 50ste Hongerspele. Die storie volg die jong Haymitch Abernathy van Distrik 12 wanneer hy gekies word om deel te neem in ’n arena waar twee keer soveel deelnemers as gewoonlik om oorlewing sal veg. 


27 November

Focker-In-Law

Die Focker-familie is terug en dié keer is daar ’n nuwe toevoeging tot die familiedrama. Greg Focker se volwasse seun, Henry, maak gereed om met Olivia, ’n skerpsinnige voormalige FBI-onderhandelaar vir gyselaarsituasies, te trou. Terwyl Henry daarvan oortuig is dat hy die perfekte lewensmaat gevind het, is sy pa, Greg, nie heeltemal so seker nie. 


Hexed

Disney bring ’n bietjie magie na die grootskerm met Hexed, ’n fantasie-avontuur oor Billie, ’n onkonvensionele tiener wat ontdek dat sy oor buitengewone magiese vermoëns beskik. Haar nuutgevonde kragte stuur haar op ’n onverwagte reis weg van haar lewe en na die geheimsinnige heksewêreld van Hexe. 


Ander

Ghost Soldier met Jim Caviezel en The Further Mis-Adventures of Cliff Booth met Brad Pitt sal ook in November in bioskope begin draai.

Ek sien uit na ’n besige maand, maar ek is ook opgewonde om Kersflieks by die huis te begin kyk. Onthou om vir al my resensievideo’s op Instagram en TikTok uit te kyk.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer