’n Wenner, ’n ma, ’n nuwe begin

Annemarie du Toit

Vir baie Suid-Afrikaners sal Tasché Burger altyd die stem wees wat in 2019 miljoene kykers beïndruk het toe sy as wenner van The Voice South Africa gekroon is. 

Haar kragtige stem en egte persoonlikheid het haar vinnig as een van die land se geliefde kunstenaars gevestig.

Vandag, sewe jaar later, lyk haar lewe heel anders. Sy toer steeds, skryf nuwe musiek en het onlangs by BlackByrd aangesluit, maar wanneer sy oor haarself praat, begin die verhaal nie by musiek nie.

“Deesdae is ek eers ’n vrou en ’n mamma voordat ek ’n kunstenaar is,” sê sy. 

“Daardie rolle beteken vir my meer as enigiets anders.”

Dit is juis hierdie eenvoud wat haar definieer. Haar ideale dag bestaan nie uit groot verhoogproduksies of rooi tapyte nie, maar uit tyd saam met haar vrou en dogtertjie, ’n bordspeletjie, tuisgemaakte kos en sagte musiek in die agtergrond.

“My ideale dag is eenvoudig. Dis die klein, gewone oomblikke wat die meeste beteken.”

Ten spyte van haar sukses bly familie en geloof die middelpunt van haar lewe. Sy glo dit is hierdie waardes wat haar standvastig hou, ongeag hoe besig haar loopbaan raak.

“My gesin en my geloof help my om gegrond te bly, maak nie saak watter uitdagings oor my pad kom nie.”

Daardie ingesteldheid is diep gewortel in haar kinderdae. Musiek was altyd deel van die Burger-huishouding en van kleins af het sy geweet dit is wat haar hart vinniger laat klop.

“Ek dink die grootste teken was dat dit nooit soos werk gevoel het nie. Ek kon my nog nooit indink dat ek dieselfde passie in enigiets anders sou kon sit nie.”

Vir Tasché bly dit ’n voorreg om haar passie haar beroep te noem.

“Ek probeer onthou dat musiek iets is wat ek mág doen, nie iets waarop ek geregtig is nie.”

Hoewel The Voice South Africa haar lewe verander het, kyk sy vandag met nuwe perspektief terug na daardie tyd.

“Dit voel soms amper onwerklik. Ek besef vandag nog meer hoeveel deure daardie geleentheid oopgemaak het.”

Maar dit is nie die televisie-oomblikke wat haar die meeste bybly nie.

“Die ure agter die skerms waar ons mekaar aangemoedig het. Vriendskappe. Dis die deel wat mense nie op televisie gesien het nie.”

Soos baie kunstenaars erken sy dat selftwyfel soms deel van die reis is, maar sy glo dit beteken nie jy is op die verkeerde pad nie.

Een persoon wat ’n groot invloed op haar gehad het, is François van Coke, haar mentor tydens The Voice. Sy onthou steeds sy eenvoudige raad: “I want you to be you.”

Daardie woorde het haar geleer om haar eie identiteit te vertrou eerder as om haarself met ander te vergelyk – iets wat vandag steeds haar musiek vorm.

Vir Tasché begin goeie liedjies by eerlikheid. Sommige word uit haar eie ervarings gebore, ander uit die mense en stories rondom haar.

“Ek wil altyd hê daar moet iets wees waarin iemand hom- of haarself kan herken.”

Sy beskryf haar kreatiewe proses as onvoorspelbaar. Soms neem ’n lied binne ’n uur vorm aan, ander kere hou dit haar tot vroegoggend wakker.

“Gewoonlik begin dit met een sin wat by my bly hang. Dan speel ek melodieë, skryf, vee uit en begin weer.”

Nie jou naam nie is een van daardie liedjies waaraan sy ure lank gewerk het totdat elke woord presies reg gevoel het.

“Elke woord moet sy plek verdien.”

Vir haar gaan musiek nie daaroor om treffers na te jaag nie, maar om ’n gevoel op te roep.

Wanneer sy gevra word watter liedjie haar die meeste inspireer, noem sy The Story deur Brandi Carlile.

“Ek is mal oor hoe eerlik dit is. Dit probeer niks mooier maak as wat dit is nie.”

Dit is presies waarna sy self streef – eerlike musiek waarin mense hul eie stories kan hoor.

Vir Tasché voel dit asof sy nou eers aan die begin van ’n nuwe hoofstuk staan. Een van die grootste verrassings in haar loopbaan was haar aansluiting by BlackByrd – ’n groep waarna sy self as jong meisie geluister het.

“Ek onthou hoe BlackByrd oor en oor in die kar gespeel het. As iemand toe vir my gesê het ek gaan eendag deel van die groep wees, sou ek dit nooit geglo het nie.”

Vir haar is dit meer as net ’n nuwe musikale uitdaging.

“Ek voel regtig God se hand leef in hierdie projek.”

Hoewel sy reeds ’n gevestigde solokunstenaar is, sê sy die skuif na ’n groep het haar opnuut laat groei. Waar sy vroeër alleen besluite geneem het, is musiekmaak nou ’n gedeelde proses waarin almal saamwerk om die beste eindproduk te skep.

“As solo-kunstenaar dra jy baie alleen. Nou leer ek om te luister, ander mense se idees te vertrou en te besef hoeveel ek self nog kan leer.”

Daardie spanwerk pas by haar persoonlikheid. Selfs wanneer sy oor haar eie sukses praat, draai die gesprek gou terug na die mense wat haar gevorm en ondersteun het.

Wanneer sy oor die toekoms praat, is sy opgewonde oor alles wat nog voorlê.

“Ek wil net aanhou skryf.”

Sy vertel laggend dat haar Nuwejaarsvoorneme eenvoudig was: “Ek wil skryf tot dit by my ore uitloop.”

Vir haar is elke lied ’n nuwe geleentheid om met iemand kontak te maak. Nie elke liedjie hoef ’n radiotreffer te wees nie; as dit net een persoon raak, het dit reeds sy doel bereik.

“As een lied net een mens raak, dan het hy gedoen waarvoor hy geskryf is.”

Dit is hierdie filosofie wat haar musiek onderskei. Sy skryf nie vir syfers of tendense nie, maar vir mense. Sy wil woorde gee aan emosies wat baie mense self moeilik kan beskryf.

Wanneer sy nie op toer is of nuwe musiek skryf nie, geniet sy die eenvoud van die lewe. Tyd saam met haar gesin, lees, om musiek te luister en oomblikke van stilte is vir haar net so waardevol soos enige verhoogoptrede.

“Ek dink mense besef nie altyd hoe belangrik dit is om soms net stil te raak nie.”

Vir Tasché het die betekenis van sukses oor die jare verander. Waar dit vroeër dalk gemeet is aan kompetisies en groot geleenthede, gaan dit vandag oor iets baie eenvoudiger: Om elke dag die werk te doen waarvoor sy lief is en saans huis toe te gaan na die mense wat vir haar die belangrikste is.

“Ek probeer nooit vergeet hoe bevoorreg ek is om dit te kan doen nie.”

Sy glo ook nie haar grootste hoogtepunte lê agter haar nie. Inteendeel, sy sien The Voice South Africa eerder as die begin van haar reis as die eindbestemming.

“Daar is nog soveel wat ek wil doen.”

Daar is nuwe kunstenaars met wie sy graag wil saamwerk, nuwe musiek wat nog geskryf moet word en nuwe stories wat wag om vertel te word. Sy wil aanhou groei – nie net as kunstenaar nie, maar ook as mens.

“Ek dink mens leer met tyd om jouself meer te vertrou.”

Wanneer die gesprek tot ’n einde kom, vra ons haar hoe sy hoop mense haar eendag sal onthou.

Sy dink ’n oomblik voordat sy antwoord.

“Ek hoop hulle onthou my as iemand wat met elke liedjie iets eerliks probeer skep het. En buiten die musiek hoop ek hulle onthou my as iemand wat eg was.”

Dit is dalk die beste beskrywing van Tasché.

Ja, sy is die kunstenaar wat Suid-Afrika in 2019 laat regop sit het met haar stem. Sy is die wenner van The Voice South Africa, ’n solo-kunstenaar en nou ook deel van BlackByrd.

Maar agter al die verhoogligte is daar ’n vrou wat haar gesin eerste stel, wat haar geloof as kompas gebruik en wat steeds glo die beste musiek ontstaan uit eerlikheid.

Want wanneer die applous stil raak, is dit nie die toekennings of treffers wat oorbly nie. Dit is die mens agter die musiek.

En dit is presies wie Tasché Burger vandag is.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer