’n Verhaal van vriendskap, aanvaarding en verlies

The Movie Guy - Resensie
-
Barry de Klerk

Ek was nog altyd mal oor fantasieverhale en daar is iets besonders daaraan om na ’n wêreld te reis wat suiwer magie is. Dit is selfs beter wanneer daardie wêreld Afrikaans is.

Om in ’n Afrikaanse huis groot te word, het beteken dat ons met verhale grootgeword het. Verhale van vorige geslagte is oorgedra of dit is sommer op die ingewing van die oomblik uitgedink. 

Hoe dit ook al sy, daar was altyd ruimte vir ons verbeelding om ons na plekke te neem waarheen ons werklikheid nooit kon nie.

Silas en Die Ysbeer op Tafelberg is een van daardie verhale wat my na my kinderjare terugneem. Die karakters kom uit verhale wat aan my vertel is of wat ek by vriende gehoor het en dit is – interressant genoeg – wat hierdie storielyn eg vir my laat voel. 

Buiten dit, behandel die fliek ook verskeie temas, soos vriendskap, aanvaarding, avontuur en, die belangrikste van almal, verlies.

Die fliek volg Silas, ’n jong seun wie se ouma skielik oorlede is en hy gaan na Droomland om haar te vind. Hy word deur sy buurmeisie, Willemien, vergesel, en saam maak hulle nuwe, mistieke vriende. Die fliek voel soos ’n vermenging van al die beste flieks van die 80’s en 90’s, maar dit is op Afrikaanse mitologie gebaseer.

Ek is opreg verras deur dit wat die rolverdeling en span met hierdie fliek vermag het. Dit is nie net die tegniese aspekte waarvan ek gehou het nie, die storie het ook werklik aanklank by my gevind.

Ek het ook vriende gemaak onder die moeilikste omstandighede en ek het ook ’n grootouer verloor toe ek Silas se ouderdom was.

Die manier waarop hierdie fliek die tema van verlies hanteer het, was pragtig. Kinders verstaan die dood gewoonlik nie op dieselfde manier as ons nie. Dus is hierdie verhaal nie net ’n manier vir hulle om dit te verstaan nie, maar dit vertel hulle ook wanneer iemand sterf, dit nie beteken dat die liefde verlore is nie.

Ek kan aanhou en aanhou oor die verhaal praat, maar ek wil vir ’n oomblik by die rolverdeling stilstaan. Neels Claasen jr. speel die rol van Silas en hy lewer ’n ongelooflike vertolking. Hy word bygestaan deur Luna Coetser as Willemien en sy steel elke toneel. Hulle besit die skerm asof hulle al jare lank in die bedryf is. 

Hulle word deur Antoinette Kellermann, Beer Adriaanse, Neil Sandilands, Daneel van der Walt, Frieda van den Heever en Brandon Daniels, bygestaan. Zandré Coetzer is die regisseur en sy het die skoonheid van Kaapstad en die magie van Droomland goed vasgevang. Die fliek spruit voort uit ’n idee wat sy gehad het en dit is deur Annie Klopper geskryf.

Die fliek het ook ’n uitstekende klankbaan. Dit voel magies en baie Suid-Afrikaans. Hulle het ook praktiese effekte gebruik en dit is asemrowend. Die ysbeer beweeg moeiteloos en dit voel soos iets wat jy in ’n droom sou sien.

Ek is mal oor die grimering, kostuums en stelontwerpe; dit neem jou na hierdie fantasiewêreld. Dit het my weer eens laat besef hoe mooi suiwer verbeelding kan wees.

Dit is ’n Afrikaanse gesinsfliek wat jy beslis moet kyk. Ek dink nie ons het onlangs een gehad nie en dit is werklik vir alle ouderdomme geskik. Wie weet, miskien is die fliek presies wat jy nodig het om verlies te verwerk of ’n bietjie optimisme tydens ’n moeilike tyd te vind.

Dit is werklik magies en verdien maklik 4 uit 5 sterre.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer