Scorpion in Mortal Kombat II FOTO VERSKAF
Scorpion in Mortal Kombat II FOTO VERSKAF

’n Groot golf van nostalgie

The Movie Guy – Resensie
Barry de Klerk

Round 2! Fight! As jy daarvan gehou het om Mortal Kombat as kind te speel, gaan hierdie fliek jou na jou kinderdae terugneem.

Ek het ’n groot deel van my kinderjare met videospeletjies soos Mortal Kombat, Street Fighter en The King of Fighters deurgebring.

Ek onthou daar was ’n “pool’- en speletjiesplek reg agter ons huis en ons het byna elke dag ná skool daar gaan uithang om mekaar uit te daag.

Die waarheid is, ek was nooit regtig goed in Mortal Kombat nie, selfs nie toe ek dit later by die huis begin speel het nie. Ek het wel elke minuut van die speletjie geniet. Tot vandag toe sal ek dit nog nou en dan weer probeer.

Daardie herinneringe saam met my vriende en my broer het onmiddellik teruggekom toe die eerste gevegstoneel in Mortal Kombat 2 gesien het. Dit het soos ’n groot golf van nostalgie gevoel en ek het dit absoluut geniet. Dit klink dalk vreemd om te sê, maar die fliek het my weer soos ’n kind laat voel, ten spyte van al die geweld. Die fliek doen baie dinge reg, maar ongelukkig is dit nie ’n “flawless victory” nie.

Die fliek kort baie dinge, maar dit maak amper daarvoor op in ander opsigte. Ek dink die rolverdeling is baie sterk en dit help beslis om die storie kykbaar te maak.

Karl Urban sluit by die rolverdeling aan as Johnny Cage en dis maklik om te sê die fliek draai grootliks om hom. Adeline Rudolph het ook by die tweede fliek as Kitana aangesluit. Haar storielyn saam met Johnny s’n maak die fliek ’n bietjie interessanter. Kano, gespeel deur Josh Lawson, steel egter elke toneel waarin hy is. Sy grappies het die hele rolprentteater laat lag.

My grootste probleem met die fliek is die draaiboek. Die storie is effens voorspelbaar en voeg nie regtig veel waarde tot die reeks toe nie. Die dialoog voel ook soms lomp en nie al die grappies werk ewe goed nie. Die karakterontwikkeling is egter glad nie sleg nie; ek wens net sommige karakters het meer skermtyd gekry.

Die fliek lyk ook oor die algemeen ongelooflik goed. Die aksietonele is goed gechoreografeer, en die feit dat die gevegte in verskillende arenas plaasvind, is ’n groot pluspunt. 

Die spesiale effekte voel soms effens af, maar gelukkig lyk dit amper soos iets uit ’n videospeletjie. Ek hou regtig van al die karakterontwerpe; dit bly baie getrou aan die speletjies.

Die musiek werk in sekere tonele, maar in ander pas dit glad nie by die atmosfeer nie. Daar is ’n baie goeie toneel tussen Liu Kang en Kung Lao waar hulle ’n ander weergawe van die Mortal Kombat-temalied speel en dit was perfek.

Mortal Kombat II was dalk nie heeltemal die geveg waarvoor ek gehoop het nie, maar ten spyte van al die foute het ek steeds baie van die fliek gehou.

Dit mag dalk die nostalgie wees, of dalk net die feit dat die aksietonele dit regtig soos ’n videospeletjie laat voel het.

Nietemin, die fliek is ongelooflik lekker om op die groot skerm te kyk. Dit het dalk nie ’n ryk storielyn nie, maar dis ’n goeie belewenis. Daarom gee ek dit met graagte 3 uit 5 sterre.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer