’n Fliek om vir altyd te koester
Die reis terug na Panem is hartverskeurend en ek dink die gehoor gaan mal wees daaroor.
Ek glo nie een van The Hunger Games-flieks is sleg nie. Elkeen het natuurlik hul eie mening oor die twee Mockingjay-flieks. Ek het nie geweet wat om van Sunrise on the Reaping te verwag nie, maar elke minuut van die fliek is iets wat ek vir altyd sal koester.
Ek sal eerlik wees, ek het nie die boeke gelees nie. Haymitch is wel een van my gunstelingkarakters in dié reeks en sy storie is baie meer tragies as wat ek verwag het. Daarom dink ek die fliek is spesiaal. Ek beoordeel hierdie fliek uitsluitlik op grond van wat ek op die skerm gesien het.
Dis ’n tragedie wat toevallig ook aksie en romanse bevat. Dis ’n fliek oor verlies, mislukking en rou. Dit slaag nie net daarin om al dié emosies vas te vang nie, maar omskep dit ook in ’n storie wat groter betekenis aan die ander flieks in die reeks verleen.
Daar is so baie karakters in die fliek wat vir my uitstaan. Ek voel hulle het op een of ander manier daarin geslaag om almal se skermtyd perfek te balanseer. Dit is iets waarmee die eerste vier flieks nie altyd ewe goed gevaar het nie.
Joseph Zada as Haymitch Abernathy is ongelooflik. Hy slaag daarin om die rol wat oorspronklik deur Woody Harrelson vertolk is, perfek vas te vang. Mckenna Grace as Maysilee Donner was waarskynlik my gunstelingkarakter, maar ek het ook baie van Kieran Culkin as Caesar Flickerman gehou. Hy is die snaaksste karakter. Ek kan aangaan oor die rolverdeling, want elkeen het werklik hul beste na die rolle gebring.
Ek dink dit is dalk regisseur Francis Lawrence se beste fliek en nie net wat die storievertelling betref nie. Dit is ook die mooiste fliek in die Hunger Games-reeks. Die visuele beelde in die Hunger Games-arena is asemrowend mooi, terwyl die res van die stelle jou werklik laat voel dat Panem ’n nasie in verval is.
James Newton Howard se klankbaan is treffend en vleg die storie goed saam. The Hunger Games is bekend vir sy liedjies en poësie en dit is weer eens die geval. Alles vloei perfek saam en dit is juis wat hierdie fliek van die meeste ander flieks onderskei wat ek vanjaar gekyk het.
Ek sukkel gewoonlik om deur flieks van langer as twee uur te sit, maar hierdie een het my vir net minder as drie uur aan my sitplek vasgenael gehou. Dit sluit nie net hierdie reeks op die hoogste moontlike noot af nie, ek is sommer ook lus om die boek te lees.
The Hunger Games is nou amptelik een van my gunstelingfilmreekse. Hierdie is ’n lokettreffer wat gemaak is om op die grootskerm ervaar te word. Dis ’n fliek waaroor ek steeds moet nadink, want dit het soveel te sê, en hierdie resensie laat dit nie naastenby tot sy reg kom nie. Ek wil nie te veel verklap nie, want ek kan dalk iets bederf.
Dis ’n maklike 4-uit-5-ster-film.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie