Musiek sonder maskers

Annemarie du Toit

Vir die Namibiese sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler Vaughn Ahrens gaan musiek nie oor roem of tendense nie – dit gaan oor verbintenisse. 

Van die stilte van ’n plaas buite Windhoek tot verhoë oraloor Suider-Afrika, bly sy grootste doel eenvoudig: Om mense iets te laat voel.

Hoewel hy vandag een van Namibië se bekendste kontemporêre musikante is en reeds internasionaal opgetree het, bly hy verrassend nederig. 

Wanneer die verhoogligte afgaan en die kitaar neergesit word, keer hy nie terug na die gejaag van die musiekbedryf nie, maar na die eenvoud van die natuur.

“Ek is iemand wat die natuur baie geniet. Ek hou daarvan om die stilte op ons plaas buite Windhoek te ervaar, nuwe plekke in Suider-Afrika te ontdek en tyd saam met my familie en vriende deur te bring. Daardie oomblikke help my om kreatief te bly.”

Musiek het reeds op ’n jong ouderdom deel van sy lewe geword, maar alles het verander die oomblik toe hy besef het sy liedjies kan mense emosioneel raak.

“Van daar af het dit nie meer soos ’n stokperdjie gevoel nie, maar soos ’n roeping.”

Daardie roeping het hom van Walvisbaai se klein verhoë na internasionale feeste geneem. Tog sê Vaughn die grootste verrassing is dat hy steeds elke dag kan doen waarvoor hy lief is.

Hy beskryf sy klank as eerlik, melodiegedrewe en sterk beïnvloed deur die mense, landskappe en kulture van Suider-Afrika. Eerder as om die nuutste musiektendense te volg, fokus hy daarop om liedjies te skryf wat eg voel en lank by luisteraars bybly.

“Ek probeer nie by tendense aanpas nie; ek wil eerder musiek maak wat eg voel.”

Reis speel ook ’n groot rol in sy kreatiewe proses. Elke dorp, kultuur en gesprek laat volgens hom iets agter wat later deel van sy musiek word.

Vir Vaughn begin ’n liedjie selde met ’n volledig gevormde idee. Dit ontstaan meestal uit ’n gevoel, ’n kitaarlyn of ’n melodie wat skielik by hom opkom. Die lirieke volg later namate die emosie in ’n storie begin ontwikkel. Dit is juis dié liedjies wat uit betekenisvolle lewenservarings gebore is, wat die diepste by hom aanklank vind.

Hoewel hy baie tyd in die ateljee deurbring, voel hy meer tuis op die verhoog.

“In die ateljee jaag jy perfeksie na. Op die verhoog gaan dit oor verbintenisse.”

Hy glo elke optrede is anders, omdat elke gehoor sy eie energie het. Sy internasionale optredes het hom ook gewys dat musiek mense kan verbind, ongeag taal of landsgrense.

In ’n bedryf waar sosiale media en tendense voortdurend verander, bly Vaughn doelbewus getrou aan homself.

“Ek verander nie my identiteit om by tendense in te pas nie. Ek glo mense onthou eerlike musiek baie langer as musiek wat net vir die oomblik gemaak is.”

Sy raad aan jong kunstenaars is eenvoudig: “Moenie jouself met ander vergelyk nie, ontwikkel jou eie stem en wees geduldig, want sukses word deur klein, konsekwente stappe gebou.”

Vir nuwe luisteraars beveel hy “In the Clear”, “Thorn in My Side” en “Dance of Destiny” aan as die beste kennismaking tot sy musiek. 

Hy droom daarvan om meer internasionale toere te onderneem en sou graag eendag saam met Ben Howard wou werk – ’n kunstenaar wat hom inspireer met sy eenvoud en emosionele eerlikheid.

Vir Vaughn word sukses egter nie aan toekennings of uitverkoopte vertonings gemeet nie, maar aan die impak wat sy musiek op mense het.

“Ek hoop mense onthou dat ek nog altyd probeer het om opregte musiek te maak. 

“As iemand ná een van my liedjies iets voel, moed kry of net vir ’n paar minute met hulself kan connect, dan het die musiek sy doel bereik.”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer