Kyk op!
The Movie Guy: Resensie
Barry de Klerk – Is dit ’n voël? Is dit ’n vliegtuig? Nee, Superman is uiteindelik weer op die silwerdoek.
Superman was nog altyd ’n karakter wat hoop moes gee en ek is bly om te sê ek voel hoopvol ná ek die jongste fliek gekyk het. Ek kon nie my opgewondenheid vir die fliek weggesteek nie. Dit was die fliek van 2025 waarna ek die meeste uitgesien het en ek kan steeds nie ophou daaroor praat nie. Het dit aan al my verwagtinge voldoen? Ek kan ja sê met ’n glimlag op my gesig. Dit het my weer soos ’n kind laat voel.
Die fliek is dalk nie perfek nie, maar dit het gelukkig nie baie laagtepunte nie. Kom ek begin met wat ek van gehou het. David Corenswet is beslis die beste akteur in jare wat die blou-en-rooi-kostuum oor sy kop getrek het. Hy is nie net Kal-El nie, maar is ook uitstekend as Clark Kent.
Ons sien net nie genoeg van Clark as ’n joernalis by die Daily Planet nie, en dis een ding wat die karakter so interressant maak. Superman is een van die redes waarom ek ook graag ’n verslaggewer wou word.
James Gunn, draaiboekskrywer en regisseur, vertel ’n storie wat ons herinner hoekom Superman so ’n gewilde popkultuur-ikoon is.
Dit voel soms asof daar té veel in die storie aangaan, maar dit voel nooit oorbodig nie. Al die hoof- en ondersteunende karakters het genoeg tyd om ’n impak op die storie te maak.
Die storie wys dat Superman ’n held is, nie net ’n soldaat of ’n vegter nie. Ons sien sy menslikheid, sy waardes, en dit is wat ek van die karakter hou. Superman was nog nooit my gunstelingkarakter nie, maar sy waardes en beginsels is wat hom baie hoog op my lys plaas.
Kom ons gesels ’n bietjie oor die rolverdeling. Rachel Brosnahan is ’n uitstekende Lois Lane. Nicholas Hoult is een van my gunstelingakteurs en sy Lex Luthor is legendaries. Lex is net ’n kleinlike, slim ou wat jaloers op Superman is.
Edi Gathegi as Mister Terrific steel elke toneel waarin hy is. Ek is ook mal oor Isabela Merced as Hawkgirl. Ek het nooit gedink ek sou die dag sien dat Guy Gardner op die groot skerm sou wees nie, en ek is net bly dat Nathan Fillion die rol aangepak het. Skyler Gisondo is ook perfek as Jimmy Olsen.
Die fliek is fantasties. Ek het die aksietonele geniet. Daar was tonele wat gevoel het asof hulle reguit uit ’n strokiesprentboek gekom het. James Gunn weet hoe om ’n toneel te laat uitstaan. Hy het ook sy styl van humor in die fliek ingewerk, en ek dink dit werk.
Daar is egter dele van die fliek wat my teleurgestel het. Die visuele effekte voel soms onvoltooid. Daar is spesifiek een toneel wat gevoel het asof dit uit The Flash-fliek kom. Sommige van die tonele het ook gevoel asof dit oor en oor gebruik word. Dit is wel al kritiek wat ek kan lewer.
Ek is net bly ek kon ’n Superman-fliek kyk wat werklik soos ’n Superman-fliek voel. Dit voel soos ’n lewendige aksie-episode van Superman: The Animated Series, so nostalgie speel ook ’n rol. Ek kan hierdie fliek ten sterkste aanbeveel en ek kan nie wag om almal se menings daaroor te hoor nie.
Ek dink 4.5-sterre is meer as genoeg, miskien sal dit meer word as ek die rolprent weer gaan kyk.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie