Kunstenaars se insette gesoek

Iréne-Mari van der Walt
Te midde van die Namibiese Kunsvereniging se beroep op kunstenaars om hul insette te lewer vir wysigings aan die Wet op die Nasionale Kunstefonds, blyk dit dat kunstenaars verheug is oor wat hierdie wysigings vir die kunste kan meebring.

Die veelsydige kunstenaar Lize Ehlers sê sy hoop dat die wysigings verskeie vorme van kuns in ag sal neem.

“Ek hoop regtig die kennis en verskeie ontluikende kunsvorme sal in ag geneem word wanneer dienste gereguleer word.

“As ’n kunstenaar wat dag en nag werk, wil ek graag sien die waarde van my werk neem toe, ek gesien word as ’n ekonomiese bydraer en dat die regering, private sektor en alle belanghebbendes, wat apart van my geliefde lojale kliënte is, my ernstig opneem,” sê Ehlers.

Die entrepreneur en lid van die Namibiese Kunsvereniging, Emmanuel Enkara, sê dit is tans moeilik om ’n waarde aan die kunssektor te heg omdat dit nie gereguleer word nie.

“Ons moet die data wat uit die kunssektor kom, evalueer,” sê hy.

Hy verduidelik dat daar ’n begrip van verkope in die kunssektor vir beide plaaslike en buitelandse markte moet wees. Sodoende sal kunstenaars meer ingeligte besluite oor pryse en hul mark kan neem.

Enkara moedig ook kunstenaars aan om met die verskillende liggame in verbinding te tree wat hul spesifieke kunsvorm beheer om te verseker dat hulle in pas is met die mark en jongste ontwikkelings in hul bedryf.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer