Kreatiwiteit sonder grense
Vir die Namibiese kunstenaar Anne Lacheiner-Kuhn begin kuns nie noodwendig met verf of ’n palet nie – dit begin met herinneringe.
Herinneringe aan ’n plaas buite Otjiwarongo in die vroeë 1980’s, van ’n kragopwekkerlig in die aand, houttelefone met verskillende luitone vir elke plaas op die lyn en die gevoel om afgesonder van die groter wêreld te wees.
“Vandag is plaaslewe heeltemal anders,” vertel sy.
“Maar destyds was jy werklik afgesny.”
Tog was dit juis in dié stilte waar Anne se kreatiewe wêreld begin vorm aanneem het. Albei haar ouers het kreatiewe agtergronde gehad en een van haar vroegste herinneringe is ’n Marc Chagall-kalender bo haar ouers se bed.
“Die plaaslewe het my geleer om probleme op te los en te werk met wat jy het,” sê Anne.
“Ek dink kunstenaars is op hul kern eintlik net kreatiewe probleemoplossers. Die eindproduk of kunswerk is amper net dokumentasie van daardie kreatiewe proses.”
As kind het sy musieklesse op skool gehad – iets waarvoor sy laggend erken sy glad nie talent gehad het nie.
“Die onderwyseres het uiteindelik vir my ouers gesê ek hoef nie meer musieklesse by te woon nie,” vertel sy.
“Maar gelukkig het sy ook privaat kunsklasse aangebied, en dis waar alles begin het.”
Teen haar tienerjare het Anne ’n obsessie met films ontwikkel en ure lank VHS-video’s opgeneem. Sy wou oorspronklik in die filmbedryf werk, maar omdat daar destyds min geleenthede in Namibië bestaan het, het haar ouers haar aangemoedig om beeldende kuns te studeer.
Ironies genoeg het Anne se laaste universiteitsuitstalling uitsluitlik uit videogebaseerde werke bestaan.
Kort daarna het sy na Londen verhuis waar sy as assistent-redigeerder vir televisie begin werk het – die begin van ’n loopbaan wat later ook spesiale effekte vir groot internasionale filmproduksies sou insluit.
Maar dit is steeds haar kuns wat die diepste deel van haar identiteit vorm.
Anne se werk is bekend vir collage, gevonde materiaal en die hersamestelling van bestaande beelde. Volgens haar het dié praktyk sy oorsprong in haar kinderjare op die plaas.
“Ons het niks weggegooi nie,” sê sy.
“My oumas het kamers vol bokse gehad met alles denkbaar – knope, skroewe, toue, geskenkpapier. Dis moeilik om te beskryf. Half oorlewingsdrang, half ’n kabinet van nuuskierighede.”
Anne se ateljee lyk vandag glo baie dieselfde. Sy versamel al meer as 15 jaar fotografietydskrifte en sny beelde uit wat haar boei.
Vandag het sy vyf skoenbokse vol uitgesnyde beelde, asook 22 groot laaie vol vooraf uitgesnyde materiaal.
“Sommige beelde wag jare voordat hulle hul plek in ’n werk vind,” verduidelik sy.
“Ander word onmiddellik gebruik.”
Die proses self is intens en meditatief. Sy bestee soms ses uur per dag met ’n skalpel in die hand om beelde uit te kerf.
“Dit aktiveer die kreatiewe kant van my brein,” sê Anne.
“Teen die einde van die dag begin die beelde amper gesprekke met mekaar voer.”
Hoewel haar werk internasionaal uitgestal word, bly Namibië kern tot haar identiteit en denkwyse. Anne is gedurende die laaste jare van apartheid gebore – iets wat reeds as jong kind ’n groot indruk op haar gemaak het.
“Dit het my laat vrae vra oor historiese en maatskaplike ongelykhede,” sê sy.
“Ons kan nie altyd die geskiedenis regmaak nie, maar ons moet bereid wees om dit te erken en na ander mense se ervarings te luister.”
Anne beskryf ook die unieke ervaring van baie Namibiërs van Europese afkoms: “In Afrika lyk ons nie noodwendig Afrika nie, maar wanneer ons in Europa is, voel ons baie meer Afrika as Europees.”
BEHOORT
Temas van identiteit, queer-wees en behoort vorm ’n belangrike deel van haar werk.
Voor sosiale media en groter queer-verteenwoordiging het sy lank gevoel sy kan nie haarself ten volle in Namibië uitleef nie.
“Ek het ná skool vertrek omdat ek gevoel het ek kan nie my ware lewe hier leef nie,” vertel sy.
“Maar later het ek besef twee dinge verander nie: Ek sal altyd queer wees en Namibië sal altyd my tuiste wees.”
Anne glo kuns het die vermoë om mense sigbaar te maak.
“Baie queer mense in Namibië sê hulle voel verteenwoordig wanneer hulle my werk sien,” sê sy.
“Vir ’n gemarginaliseerde gemeenskap is dit ongelooflik belangrik.”
Vir haar gaan impak minder daaroor dat almal van haar werk hou en meer daaroor dat mense iets voel.
“Die grootste belediging is as iemand onverskillig voel,” sê Anne.
“Ek sal eerder hê iemand moet my werk haat as om niks te voel nie.”
JONGSTE UITSTALLING
By die opening van haar jongste uitstalling, Be Longing, het drie mense van verskillende ouderdomme en kulturele agtergronde haar vertel hulle het nog nooit só gevoel dat hulle in ’n ruimte behoort nie.
“Dit was een van die grootste komplimente wat ek nog ontvang het,” sê Anne.
Met verloop van tyd het haar definisie van sukses ook verander. Waar Anne as jong kunstenaar sukses gemeet het aan hoeveel werke verkoop word, meet sy dit nou eerder aan haar eie vertroue in haar werk.
“’n Kunstenaar se praktyk moet aanhou ontwikkel,” sê sy. “Dit weerspieël hoe jy as mens groei.”
Vir die toekoms hoop Anne haar werk sal mense inspireer om hul eie kreatiewe stem te vind – maak nie saak hoe vreemd of onkonvensioneel dit mag wees nie.
“Om anders te wees is een van jou grootste sterkpunte in die kreatiewe wêreld,” sê sy.
“En die belangrikste van alles – moenie vergeet om pret te hê nie.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie