Kom dans saam by die flieks!

The Movie Guy (logo)
Iréne-Mari van der Walt
Nog ’n week, nog twee rolprente wat ek dink jy moet gaan kyk.

Ons het is nou uiteindelik halfpad deur die jaar en dit beteken dat daar elke week ’n nuwe lokettreffer in die rolprentteater draai. Ek het die afgelope week twee rolprente oor dans gekyk, maar dit het soos dag en nag van mekaar verskil.

Eerstens is From the World of John Wick: Ballerina of net Ballerina. As jy ’n aanhanger van die John Wick-fliekreeks is, dan het jy klaar ’n idee van wat om te verwag. Dié aksieriller is vol skop, skiet en d****r. Julle weet wat ek bedoel. Elke paar minute is daar nog ’n skurk wat op sy plek gesit word.

As ’n fliekresensent moet ek altyd ’n eerlike opinie gee en in hierdie geval sal ek sê ek het nie die film so baie geniet as wat ek gehoop het nie.

Die aksietonele was asemrowend, maar die storie het my net nie getrek nie. Dit het gevoel asof die storie van John Wick oorvertel word, maar die skrywers het hier en daar iets verander. Mense kan net soveel keer wraak neem voor dit vervelig word en gelukkig was daar nie hierdie keer ’n hond betrokke nie.

Die rol van die Ballerina, ofte wel Eve Macarro word deur Ana de Armas vertolk. Sy is ’n aksiester en een van die redes hoekom ek steeds van die film hou. Die rolprent is beslis vir alle aksieliefhebbers, elke toneel speel af soos iets uit ’n rekenaarspeletjie. Jy dink dalk die aksie is verby, dan gaan daar nog ‘n skoot af of iemand word opgeblaas (baie mense word opgeblaas).

John Wick speel ook ’n rol in Eve se lewe, wat die storie ’n bietjie meer interessant maak. Ballerina is dalk nie die beste fliek in die reeks nie, maar dit kan darem op sy eie bene staan en dit is hoekom ek dit 7 uit 10 gee.

Die ander fliek wat ek gekyk het, is die verwerking van Stephen King se kortverhaal, The Life of Chuck, met die regie deur Mike Flannagan. Die film het my onkant gevang, ek het nie besef wat ’n wonderlike storie dit is tot ek uit die teater gestap het nie.

Dié wetenskapfiksiedrama vertel die storie van Chuck, ’n doodgewone man wat onwetend ’n groot impak gemaak het. Die fliek word in omgekeerde chronologiese volgorde vertel, met Chuck wat op sy sterfbed lê terwyl die wêreld vergaan.

Dit mag dalk 'n rukkie neem om te verstaan wat werklik aangaan en sodra dit gebeur, maak die temas van die fliek meer sin. Ek wil nie die fliek vir iemand bederf nie, so ek gaan nie té veel sê nie. Wat ek wel sal sê, is dat die fliek vrae oor die lewe en die dood vra, sowel as jou nalatenskap en jou impak op jou eie lewe.

Jy wonder waarskynlik waar die dans inpas? Chuck het ’n passie vir dans gehad, maar moes dit prysgee om ’n lewe vir homself te bou. Dis nog ’n vraag wat die rolprent vra, wat is jou passie en wat is jou doel? Elkeen kan dalk ’n ander les uit Chuck se lewe leer. Ek gee die fliek 8 uit 10.

Volgende week wil ek bietjie oor die filmbedryf en rolprentteaters gesels. Is dit besig om uit te sterf omdat mense verkies om by die huis films te kyk? Wat dink julle?

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer