Julie se skatkis van rolprente

Barry de Klerk

Barrey Ek weet ons is al amper halfpad deur die maand, maar Julie is veronderstel om die besigste maand vir bioskope wêreldwyd te wees.

Junie het ’n paar baie goeie flieks opgelewer. Ek het nooit gedink ’n Minions-fliek sou een van my gunstelingrolprente van die jaar wees nie. 

Twee van die flieks waarna ek die meeste uitsien, begin in Julie in die rolprentteaters draai en ek is redelik seker nie een van hulle gaan teleurstel nie. 

Hier is waarna jy vandeesmaand in die bioskoop kan uitsien.


10 JULIE

* Evil Dead Burn – Die jongste hoofstuk in een van die bekendste gruwelreekse van alle tye jaag my nou al die skrik op die lyf. Hierdie rolprent neem die reeks in ’n wreedaardige rigting. Die lokprent was skrikwekkend, so hierdie een is beslis vir die harde grufilm-aanhangers.

* Moana – Ek is nog nie heeltemal oortuig van dié een nie; ek dink ons sal maar moet wag en sien. Disney het besluit om Moana oor te doen, maar hierdie keer is dit nie ’n animasiefliek nie. Ek is mal oor die oorspronklike fliek en ek dink die tweede fliek was ook nie té sleg nie. Die nuweling Catherine Laga’aia vertolk die rol van Moana, terwyl Dwayne Johnson as Maui terugkeer. 


17 JULIE

* The Odyssey – My gunstelingregisseur is terug met sy grootste fliek nóg. Christopher Nolan se volgende rolprent sal maklik een van die grootste rolprentgebeurtenisse van die jaar wees. Die fliek is op Homeros se legendariese Griekse verhaal, The Odyssey, gebaseer en volg Odysseus in sy poging om ná die Trojaanse Oorlog terug huis toe te keer. Die fliek is volledig met IMAX-kameras verfilm en het reeds geweldige opgewondenheid geskep.


24 JULIE

* Motor City – Alan Ritchson speel die hoofrol in dié aksiefliek oor wraak wat in Detroit gedurende die 1970’s afspeel. Ek het na die lokprent gekyk en ek het steeds gemengde gevoelens, maar ek vertrou Ritchson se toneelspelvermoë. Motor City lyk of dit goeie aksie gaan oplewer.

* The Invite – Olivia Wilde neem die regisseurstoel vir hierdie swart komedie in. Dit fokus op ’n aandete wat vinnig in totale chaos ontaard. Ek het tot dusver net goeie dinge gehoor en sommige filmkritici noem dit een van die beste flieks van die jaar, so dit maak my redelik opgewonde om dit te kyk. As jy van komedies hou waar alles wat verkeerd kan loop, wel verkeerd loop, behoort hierdie een op jou kyklysie te wees.


29 JULIE

* Spider-Man: Brand New Day – Hier is hy. Die fliek waarna ek hierdie maand – en waarskynlik die hele jaar – die meeste uitsien. Ná die gebeure in Spider-Man: No Way Home bevind Peter Parker homself heeltemal alleen nadat die wêreld vergeet het wie hy is. Brand New Day gee ons uiteindelik weer ’n Spider-Man wat misdaad op straatvlak beveg. Terwyl Peter New York beskerm, is ’n gevaarlike nuwe bedreiging op pad en terselfdertyd worstel hy met veranderinge aan sy eie kragte. Die fliek word deur Destin Daniel Cretton geregisseer en bring Tom Holland, Zendaya en Jacob Batalon terug. Die beste deel is dat ons uiteindelik vir Jon Bernthal as The Punisher langs Spider-Man gaan sien. 

Na watter flieks sien jy die meeste uit?

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer